Liturgie
V: Voorganger
G: Gemeente
TOETREDE: Lied 464:1 en 2
1
O Heer my God, as ek in eerbied wonder –
en al u werke elke dag aanskou:
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
hoe U dit elke dag so onderhou…
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam:
Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
2
When through the woods and forest glades I wander,
I hear the birds sing sweetly in the trees;
when I look down from lofty mountain grandeur
and hear the brook and feel the gentle breeze:
Then sings my soul, my Saviour God, to Thee:
How great Thou art, how great Thou art!
Then sings my soul, my Saviour God to Thee;
how great Thou art, how great Thou art.
AANVANGSWOORD
V: Wag in stilte op die Here.
G: Net by God is daar rus.
V: Net God is my rots, my redding, my veilige vesting,
G: Sodat ek vas en stewig staan.
V: Wees stil voor die Here.
G: Op God vertrou ek. Amen.
SEËNGROET
Genade en vrede van God wat op die eerste dag gesê het: Laat daar lig wees.
Genade en vrede van Jesus, die Lig wat mens geword het soos ons.
Genade en vrede van die Heilige Gees wat ons hart en verstand verlig. Amen.
KYRIEGEBED: De stilte Stef Bos (vertaal en verwerk)
V:
Niks is sterker as die stilte nie
Niks het soveel krag
As die swye van die nag
Niks is sterker as die stilte nie
Niks is sterker as die woord
Wat nie gehoor word nie
Daar word vandag weer baie gesê
Soveel mense op die aarde
Het soveel te sê en uit te lê
Kritiek op die ander
Deur die beterweters.
Maar miskien behoort die beterweters
Van beter te weet, want …
Niks is sterker as die stilte nie
Niks het soveel krag
as die swye van die nag
Niks is sterker as die stilte nie
Niks is sterker as die woord
wat nooit gehoor word nie
Voel die stilte om jou heen
Wie die stilte kan verduur
Voel nooit werklik alleen.
In die stilte sonder woorde
Is U naby, God, en word ons een.
GENADEVERKONDIGING: Lied 601:1 en 5
1
Dié wat die Here wil dien, húl het ’n nuwe toekoms.
Swaarkry gaan altyd verby – saam sal ons vreugde sien.
Refrein:
Stil maar, wag maar, alles word nuut –
die hemel en die aarde!
Stil maar, wag maar, alles word nuut –
die hemel en die aarde!
5
Voordat ons roep, sal God weet, en ons gebede antwoord.
God hoor ons harte se nood voordat ons nog kan smeek.
Refrein:
Stil maar, wag maar, alles word nuut –
die hemel en die aarde!
Stil maar, wag maar, alles word nuut –
die hemel en die aarde!
GEBED: Oor gebed en stilte Søren Kierkegaard
V:
Namate my gebed bewusteliker en dieper geword het,
het ek al hoe minder gehad om te sê;
uiteindelik het ek heeltemal stil geraak.
Ek het toe begin luister,
wat selfs nog verder verwyderd is van praat.
Toe het ek geleer: gebed is om te luister,
nie net stilbly nie.
Dit is soos dit is,
om te bid beteken nie om na jou eie gepraat te luister nie.
Gebed gaan oor stil word,
en oor stil wees,
en om te wag totdat God gehoor word.
V:
Kom ons luister saam in die stilte na die stilte … STILTE
… kom ons bid dat God se woord vir ons oopgaan:
Gemeente sing: Lied 442:1 en 2
1
Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon, kom en heilig my.
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God, kom heilig my – breek die Woord vir my.
2
Spirit of the living God move among us all.
Make us one in heart and mind, make us one in love.
Humble, caring, selfless, sharing.
Spirit of the living God move among us all.
SKRIFLESINGS
Ou Testament lesing: 2 Konings 2:7-15
Nuwe Testament lesing: 2 Korintiërs 4:7-10
SANG: Lied 528:1, 2 en 3
1
Leer my u wil, Heer, u doel met my –
U, Pottebakker, met my, die klei.
Vorm my en maak my volgens u wil;
op U vertrou ek, nederig stil.
2
Have thine own way, Lord! Have thine own way!
Hold o’ver my being absolute sway.
Fill with thy Spirit till all shall see
Christ only, always, living in me.
3
U gee u gawes net soos U wil;
almal is diensbaar, elk met verskil.
Vul met u Gees my, breekbare kruik,
dat U my oral nuttig gebruik.
BOODSKAP
SANG: Lied 531:1 en 2
1
Ons Here, God van alvermoë,
U sal ons met u guns omvou.
U gee aan blindes nuwe oë;
Heer, U laat hul op U vertrou.
Ons volg getrou u Gees se leiding,
God, U is Heer, U skenk bevryding.
2
Ons harte sing van u genade,
Heer, U is steeds getrou en goed.
Ons prys U vir u reddingsdade,
ons God wat altyd ons behoed.
Ons wy aan U ons hele lewe –
u eer is hier ons hoogste strewe.
TOE-EIENING: Mother Teresa’s Anyway Poem
People are often unreasonable, illogical and self-centred;
Forgive them anyway.
If you are kind, people may accuse you of selfish, ulterior motives;
Be kind anyway.
If you are successful, you will win some false friends and some true enemies;
Succeed anyway.
If you are honest and frank, people may cheat you;
Be honest and frank anyway.
What you spend years building, someone could destroy overnight;
Build anyway.
If you find serenity and happiness, they may be jealous;
Be happy anyway.
The good you do today, people will often forget tomorrow;
Do good anyway.
Give the world the best you have, and it may never be enough;
Give the world the best you’ve got anyway.
You see, in the final analysis, it is between you and your God;
It was never between you and them anyway.
WEGSENDING: Lied 533:1, 2 en 3
1
Thuma mina, thuma mina.
Thuma mina, Nkosi yam.
(Stuur my, my Here)
2
Gee ons krag, Heer, gee ons krag, Heer,
gee ons krag, Heer, in u Naam.
3
Ons sal gaan, Heer, ons sal gaan, Heer,
ons sal gaan, Heer, in u Naam.
SEËN: Uit die lied Moya Anton Goosen
Mag dit goed gaan met jou.
Mag God vrede vir jou gee.
Mag jy nooit bang hoef te wees nie.
Mag jy liefde om jou hê.
Mag jou hart vir almal oopgaan.
Mag jy leer om die wind onder jou vlerke
met alle mense om jou te deel. Amen.
Bron:
Wepener, C. Soos ’n blom na die Son draai: Liturgiese voorstelle vir gebruik in die algemene erediens en ander spesifieke dienste. Wellington: Bybel-Media.
Elemente:
Kyrie-gebed De stilte Stef Bos Wepener 2011:90-91
Gebed Oor gebed en stilte Søren Kierkegaard Wepener 2011: 92
Toe-eiening Mother Teresa’s Anyway Poem Wepener 2011:73
Seën Uit: Moya Anton Goosen Wepener 2011:115
************************************************************************************
Teksverse
2 Konings 2:9
Elisa: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!” Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
2 Korintiërs 4:10
Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.
Boodskap
Ons is almal op verskillende plekke op die lewensreis – êrens op die pad tussen ontvang van dié wat ons voorgegaan het en deurgee en oorgee aan dié wat na ons kom. Maar wat vir ons almal dieselfde is, is dat ons, waar ons ons ook al bevind, Jesus met ons saamdra. Die vraag is: Hoe dra ons Jesus? Soos swaar bagasie? ’n Las? Of soos Paulus sê: in ons liggaam? Intiem naby, deel van ons? Dit hang daarvan af of ons kan sien en verstaan wat dit beteken, of sy lewe in ons sigbaar word.
God sê vir Elia om Elisa te gaan haal agter die osse vandaan. Elia gooi sy mantel oor Elisa en salf hom as profeet en opvolger. Toe die einde van Elia se werk en lewe nader kom, vra Elisa as erfenis ’n dubbele deel van Elia se gees. ’n Moeilike versoek, sê Elia, maar as jy kan sien, kan jy dalk kry wat jy vra. As nie, dan nie.
’n Dubbele deel van die erfenis was in die Ou Midde-Ooste die eersgeborene, die oudste seun, se reg. Elisa wil die erfenis van ’n vader aan die oudste seun én die nalatenskap van ’n mentor aan sy volgeling hê. Hy wil dubbel erf sodat hy effektief en kragtig die werk kan voortsit. Erfenis (inheritance): Jou testament sê na wie toe jou geld en besittings gaan. Maar wie sal jou nalatenskap (legacy), die gees van wie jy is en waarvoor jy staan, jou bydrae in hierdie wêreld, wil ontvang en voortsit?
Elisa was wel entoesiasties, maar was hy geskik, waardig? Kon hy sien en verstaan waaroor dit eintlik gaan? In die Bybel word mense dikwels drie keer getoets of hulle iets waardig is. Naomi sê drie keer vir Rut: Gaan terug na jou land en jou mense. Drie maal hou Rut voet by stuk: Ek gaan met u saam. U mense is my mense, u land is my land, u God is my God. Sy is waardig.
In Jesus se argument met die Kanaänitiese vrou wat wou hê dat Hy haar kind gesond maak, hou sy voet by stuk. Drie maal vra sy, stry sy.
Sy is waardig. In die woestyn word Jesus self drie maal deur die satan versoek. Sy drie antwoorde wys Hy verstaan. Hy is waardig.
Drie maal sê Elia vir Elisa: Bly jy hier. Ek moet verder, na Betel, na Jerigo – ’n moeilike pad deur die woestyn. Na die Jordaan, simbool van die beloofde land ná die woestynreis. Drie maal sê Elisa: Ek gaan saam. Dan wil hy ook nog ’n dubbele deel van Elia se gees, sy nalatenskap, hê. Duidelik was hy gewillig, maar was hy waardig, geskik vir die werk? Kon hy sien en verstaan waaroor dit gaan?
Terwyl hulle nog so loop en praat, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. ’n Strydwa, simbool van oorwinning. Vuur, simbool van God se teenwoordigheid. Elia was waardig. Hy is as oorwinnaar na God toe. En Elisa kon dit sien en verstaan. Hy is waardig om die werk voort te sit. Hierdie oordragverhaal gaan oor die voortgang van God se werk. Elisa neem die mantel op en gee op sy eie manier gestalte aan God se werk. God begin met elke generasie nuut.
Die God van Gilgal en Betel en Jerigo – die moeilike woestynpad – en van die Jordaan – die beloofde land – is ook die God van die Hervormde Kerk in Suid-Afrika in 2020. Die God van Elia en Elisa en van almal wat ons voorgegaan het, is ook die God van ons wat nou hier verder trek deur die tyd, op reis deur die lewe, op Jesus se voetspoor, in God se diens. Vra ons dan ook om ’n dubbele deel van die Gees, sodat die ligfakkel van die geloof nie in ons hande sal doodgaan nie, maar sterk bly brand. Dat ons wat die lewe van Jesus in ons omdra, sy lig laat skyn, sy werk voortsit.
Om dienaar van God, predikant in die Hervormde Kerk te word, is daar ook toetse, om vas te stel of jy geskik is, waardig. Daar is akademiese toetse: Het jy voldoende kennis? Daar is psigologiese toetse: Is jy innerlik sterk genoeg? Maar die derde toets, die eintlike toets, is daar nie: of jy sien en verstaan waaroor Jesus se werk eintlik gaan. Óf en hóé jy sy lewe in jou liggaam dra, sy mantel oor jou skouers.
Want nie al Jesus se volgelinge vaar ewe goed nie. In die Matteus-evangelie kon die dissipels sien, maar hulle kon nie doen wat hul roeping van hulle vra nie – die regte gesindheid: barmhartigheid; om almal te aanvaar, want almal is aanvaarbaar vir God. In die Markus-evangelie kon die dissipels van Jesus nie sien nie, maar die vroue wel. Hulle bly by die kruis toe die dissipels weghardloop. Ook die vrou wat Jesus met nardusolie salf voor sy dood, verstaan. Die mense wat haar kritiseer, verstaan nie. Vir hulle was dit ’n verkwisting. Die duur olie kon verkoop word, die geld vir die armes. Dit klink soos barmhartigheid. Dit klink asof hulle Jesus se boodskap verstaan, maar hulle het nie. Hulle kon nie die groter prentjie sien nie. Die vrou het verstaan dat Jesus se roeping deur die dood heen sou lei. Dat dit alles van Hom vra – dat Hy Homself daarvoor gee.
Hier is ons vandag, op verskillende plekke op die lewenspad, op die pad van roeping en diens. Verstaan ons waaroor dit gaan? Kan ons sien én doen? Sien ons die ander raak? Het ons ’n hart wat oop is, het ons ruimte vir almal wat vir God belangrik is, of net vir dié wat ons pas – soos die dissipels in Matteus? Sien ons roeping soos Jesus, as iets wat van ons vra om onsself te gee, ten volle?
Niks hiervan is maklik nie. Inteendeel, dit gaan ons dikwels teen die grein. Maar, sê Paulus, in hierdie kleipotte wat so maklik breek, dra ons God se krag wat alles oortref. In ons liggaam dra ons Jesus se lewe. Sien en verstaan ons dit, kan ons sy nalatenskap voortsit.
Die bekende komponis Puccini werk in 1922 aan die opera Turandot – sy meesterwerk. Maar toe word hy ernstig siek en sterf. Turandot is nie klaar nie. Sy leerlinge het die werk fyn bestudeer en skryf toe die slot, voltooi sy werk. Vier jaar later word die première van Turandot in Milaan gedirigeer deur Toscanini, ‘n leerling van Puccini. Op die punt waar Puccini se eie werk opgehou het, stop Toscanini die musiek en sit sy stok neer. Hy draai na die gehoor toe en sê: Tot hier toe het die maestro geskryf, en toe sterf hy. Daar was stilte in die operasaal. Toe roep Toscanini: Maar sy leerlinge het sy werk voltooi. Toe gaan die opera voort, en na die slotakkoorde was daar dawerende applous – die leerlinge het goeie werk gedoen.
Waar ons ons ook op die pad tussen eerstejaar teologiestudent en die einde van ons dienswerk en lewe bevind, almal wat die lewe van Jesus in hul liggaam dra, wil die Maestro se werk goed bestudeer, sien en verstaan – om sy mantel te kan opneem, sy nalatenskap voort te dra, sy werk te voltooi.
Dat van ons gesê sal kan word: Die leerlinge het dit goed gedoen.
(Hierdie preek is gelewer tydens die amptelike opening van die Hervormde Teologiese Kollege op 19 Februarie 2020)