Soms is argeoloë baie gelukkig om uiters waardevolle vondste te maak wat die geskiedenis interessant inkleur. In Augustus 2024 het die Israelse Raad vir Oudhede bekend gemaak dat daar by die suidelike muur van die Ou Stad van Dawid in Jerusalem ’n Assiriese bulla gevind is wat uiters seldsaam is.

Die Swart Bulla

Die bulla wat hulle gevind het, is ’n klein swart steentjie wat ongeveer die grootte is van ’n man se voorste duimlid. Dié steentjie is van die mooiste wat nóg in Jerusalem gevind is. Op die steentjie is ’n karakter uitgekerf wat in die Assiriese godsdiens ’n rol gespeel het, en twee Hebreeuse name wat vermoedelik later daarop uitgekerf is.

Wat navorsers se aandag in besonder getrek het van dié ontdekking, is nie net die Assiriese karakter daarop nie, maar dat die name wat daarop uitgekerf is ook in die Bybel voorkom.

Die karakter wat op die swart steentjie uitgekerf is, staan fier regop met arendsvlerke op sy rug. Sy regterarm is vorentoe gestrek. Sy regterhand is oop, so al asof hy ’n seën uitspreek of iets moet vashou. Hy is in ’n lang kleed geklee wat tot op sy voete hang. Op sy kop dra hy ’n hooftooisel wat kenmerkend by die ou Midde-Oosterse konings pas. ’n Gaatjie is van bo na onder deur die steentjie gemaak sodat ’n toutjie of riempie daardeur geryg kan word om dié steentjie om die nek te dra.

Navorsers verskil so bietjie oor wie of wat die karakter uitbeeld. Aanvanklik is gereken dat dié gevleuelde figuur ’n koning van Assirië kon voorstel. Die jongste interpretasie wat nou deur die meeste navorsers aanvaar word, is dat dié karakter die uitbeelding van ’n Assiriese godheid is. Wetenskaplikes stem saam dat dié steentjie uit die agtste tot sewende eeu voor Christus dateer.

In die Ou- en Nieu-Assiriese mitologie het die mense ’n karakter vereer wat sogenaamd bekend was as ’n apkallu. Dié karakter het die voorkoms van ’n griffioen gehad en is vereer as ’n soort goddelike gees wat ’n bepalende invloed op mense se lewens kon uitoefen. Die griffioen is gewoonlik met die lyf, agterbene en stert van ’n leeu uitgebeeld, en met vlerke en die kop van ’n arend. Hy dra altyd ’n tassie in sy linkerhand wat soos ’n handsakkie lyk. Kundiges is van mening dat dié tassie die wêreld (kosmos) voorstel wat hy met hom saamdra, of die magiese kragte uitbeeld waaroor hy beskik.

Ander soortgelyke karakters wat ook met die apkallu geïdentifiseer word, is ’n mensagtige karakter met die skubbe en vinne van ’n vis as vel, en die vlerke van ’n arend.

Die motief op hierdie steentjie vertoon die beeld van ’n karakter wat met ’n vollengte en gestreepte kleed geklee is. Sy regterhand en oop handpalm wek die indruk dat dié figuur ook binne die tradisie van die apkallu geskep is en daarvolgens gebruik is.

Mense het sulke karakters as ’n vorm van hangertjie om hul nek gedra met die bygeloof dat dié goddelike karakter aan hulle geluk en beskerming kon gee. Hierdie steentjie bevestig dat Juda in ’n stadium gedurende die agtste en sewende eeu voor Christus deur die bygeloof en kultuur van die Nieu-Assiriese Ryk beïnvloed moes wees.

Assiriese Invloed

Die Assiriese invloed op Juda en die inwoners van Jerusalem gedurende die agtste tot sewende eeu voor Christus was onvermydelik.

Hierdie inligting word nie net deur Assiriese annale bevestig nie, maar die Bybel vertel ook daarvan. Die Bybel vertel dat die Nieu-Assiriese koning, Sanherib, die Noordryk van Israel in 701 vC verower het en van die inwoners is na Assirië weggevoer.

Hiskia het gedurende hierdie tyd sélf ook onderdanigheidsbelasting aan Sanherib betaal (2 Kon 18: 13 – 19: 37). In die Assiriese annale word vertel dat Sanherib selfs gesê het dat Hiskia soos ’n voël in ’n kou (voëlhok) in Jerusalem, waar sy koninklike paleis was, ingeperk en vasgekeer is.

Hiskia het nie met die betaling van hierdie onderdanigheidsbelasting volgehou nie en die oorbetaling gestaak. Sanherib het hierdie optrede as ’n rebellie teen Assirië beskou en ’n beleg op Jerusalem uitgevoer wat nie geslaag het soos wat dit beplan is nie. Sanherib het die beleg later opgesê nadat duisende Assiriese soldate, volgens argeologiese bevinding, vanweë ’n muisplaag en builepes omgekom het. Die Bybelskrywer het hierdie ramp as ’n ingryping van ’n engel verduidelik wat die Assiriese kamp met pes getref het.

Hebreeuse Name

Benewens die karakter wat met sy regterarm en oop handpalm vorentoe strek, is daar ’n inskripsie op die bulla aangebring wat selfs méér konteks aan die bulla gee.

Bokant die gevleuelde gees staan twee name in Oud-Hebreeus geskryf. Die inskripsie lees: leJehơeser ben Hosh̛ayahu, wat beteken, vir Joëser (Joäser) seun van Hosaja. Die skrif is soos ’n spieëlskrif (agterstevoor) geskryf, sodat wanneer die bulla as ’n stempel gebruik word om iets te merk, die skrif reg lees. Die Assiriese karakter, en die Hebreeuse name op dieselfde steentjie, het onmiddellik die aandag van navorsers getrek.

Die Bybel moet verstaan word as ’n boodskap van God, maar soms help die inhoud daarvan ook deur op verrassende wyses duidelikheid aan tekste en die geskiedenis te gee. Die naam Joëser kom ook in 1 Kronieke 12: 6 voor. In daardie teks word hy as een van koning Dawid se hooggeplaaste amptenare genoem.

Die ander naam is Hosaja wat in Jeremia 43: 2 voorkom. Volgens hierdie teks het Hosaja se seun, genaamd Asarja, Jeremia daarvan beskuldig dat hy lieg oor wat die Here vir hom gesê het wat hulle moes doen.

Die Joëser in die tyd van Dawid en die Joëser wie se naam op die bulla verskyn wat in Jerusalem gevind is, moet nie as dieselfde persoon beskou word nie. Dieselfde geld die name Hosaja. Die naam Hosaja op die bulla dateer uit ongeveer 701 vC terwyl Asarja, die seun van Hosaja, verwys na iemand in ongeveer 586 vC. Die waarde van die Bybelse bevestiging van hierdie name lê daarin dat onteenseglik bevestig kan word dat Joëser én Hosaja erkende Hebreeuse name was wat destyds gebruik is.

Die name wat op die steentjie geskryf is, was nie netjies gedoen nie. Die letters is bietjie rof uitgekrap, wat bevestiging daaraan gee dat die name later op die steentjie aangebring is as die karakter wat daarop verskyn.

Dié steentjie is waarskynlik om die nek van een van die hoë amptenare van Juda gedra en as ’n stempel gebruik wanneer hy dokumente of items moes merk.

Die twee name is in verskillende stadiums op die bulla aangebring. Dié waarneming kon gemaak word omdat die ortografiese vorming van die letters van die twee name verskil. Waarskynlik het die bulla eers aan die pa, Hosaja, behoort, en ná sy dood het Joëser die gebruik van die bulla oorgeneem.

Foto: ’n Uiters seldsame Assiriese bulla is by die suidelike muur van die Ou Stad van Dawid in Jerusalem gevind (Bron: Eliyahu Yanai / City of David).

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap