Die NHSV was Vrydag 22 Mei 80 jaar oud. 80 jaar waarin die vroue van die Kerk ’n onmisbare rol vervul het.

Die NHSV het uit die staanspoor daarop gefokus om vroue vir hul rol as gelowiges in die huisgesin, gemeentes en die gemeenskap toe te rus. In die jare toe vroue nie in die amp kon dien nie, was die NHSV dié platform waarvandaan vrouelidmate hulself kon uitleef om ’n beduidende rol in gemeentes te vervul. Selfs nadat vroue tot die ampte toegelaat is, het die NHSV steeds ’n prominente plek in die gemeentes ingeneem.

Dit is bykans onmoontlik om die waardevolle rol van die NHSV te beskryf. Naas die toerusting van vroue in gemeentes, streke en op nasionale vlak, het talle kerkgeboue verrys danksy die NHSV wat onvermoeid help fondse insamel het.

Op nasionale vlak is ouetehuise met NHSV fondse gebou, bedryf en in stand gehou. Talle studente kon met hulp van die NHSV studeer, en soveel barmhartigheidswerk is danksy die NHSV verrig.

Hiermee ons hartlike gelukwense aan die NHSV, asook ons diepste dank en waardering vir onbaatsugtige en toegewyde diens.

Ons is tans in die wurggreep van Covid-19, wat enorme uitdagings stel. NHSV, bly by jul roeping en werk dinamies vorentoe!

Dr André Ungerer

Voorsitter: Kommissie van die AKV

Share via
Copy link
Powered by Social Snap