Die Bybel is propvol bewyse van God se genade aan mense, aan sy uitverkore volk Israel, maar ook aan ménse, álle mense, almal van ons sy kinders. God se genade werk anders as ons s’n. God is getrou en sy liefde seëvier telkens oor mense se sonde en gebrokenheid.

Sondaars sukkel met genade, want genade, vergifnis en liefde kom nie by ons natuurlik nie. Dit druis in teen elke instink van ons sonde, want eiebelang, selfsug en haat kom by ons natuurlik.

Dit verbaas dus nie dat daar soveel verdwaalde mense, oor-die-hoof-gesiende mense, vernielde mense en weggegooide mense onder ons leef, selfs in ons kerke. Die weerloosstes was deur die eeue en is steeds die maklikste teiken – weduwees, weeskinders, vreemdelinge, gestremde mense en, helaas, vroue oor die algemeen.

In ’n kultuur waar dit letterlik ’n manswêreld was (en dikwels steeds is), is dit ’n lafenis om in die Bybel te sien hoe God met weerlose mense en met vroue te werk gaan. Dit sê iets belangrik: Vroue is vir God die mense wat Hy hulle gemaak het: Adam se gelyke, sê Genesis 2.

Deur die Ou en Nuwe Testament, in die volk Israel se geskiedenis, die apostels se binnekring, in die vroeë kerk en in die kerk deur die eeue tot vandag toe, is dit duidelik hoe God sagkens met vroue werk en hoe Hy hulle met vrug gebruik om in sy diens te staan.

Voorbeelde van God se genade met vroue is legio. Ons huil saam met Ragel, Jakob se oogappelvrou, wat kinderloos bly terwyl Lea vir haar man een ná die ander seun in die wêreld bring, totdat God uiteindelik vir haar ook kinders gee. Ragab, ’n rooiligmeisie van Jerigo, is die een wat Josua se verspieders uit Jerigo laat ontsnap en in die volk opgeneem word. Rut is ’n heidense Moabitiese vrou wat haar brose skoonma Naomi nie verstoot nie, vir wie Naomi se volk háár volk en Naomi se God háár God word. Sy trou met Boas en word deel van Jesus se geslagsregister. Koningin Ester waag haar lewe om Israel van volksmoord te red.

Die geboorte van Jesus wat aangekondig word in Lukas 1, beskryf hoe die engel Gabriël gestuur is na Maria, die jong maagd van Nasaret, verloof aan Josef. Ons lees in Lukas 1: 28 (AFR83): Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” En vêrder in Lukas 1: 30-31 (AFR83): Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.” Steeds is Maria “begenadig” want God verskaf, op sy manier, die Redder en Verlosser van die wêreld, die Koning van konings, die Seun van die Almagtige God, uit hierdie jong en nederige vrou. Maria stem in om diensbaar te wees: Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk 1: 38, AFR83)

Jesus wek die weduwee van Nain se enigste kind, haar seun, uit die dood op in die stoet op pad begraafplaas toe, want Hy het haar innig jammer gekry. Met Marta en Maria kuier Hy en die dissipels, gaan by hulle tuis, behandel hulle met waardigheid en deernis, en wek ook húl broer, vier dae ná sy dood, weer op en gee vir Lasarus aan hulle terug. Sy ma, Maria, is dikwels teenwoordig waar Hy is, en selfs aan die kruis – daar waar die swaard deur haar siel gaan – vergeet Jesus nie sy ma nie. Hy sê Johannes moet na haar omsien.

Genade op genade is wat ons sien as God met vroue werk.

Vroue is en bly onontbeerlik diensbaar in die kerk van die Here. In oorwegend manlik-oorheersde kerke is hulle die mense wat, soms ongesiens en deesdae in leidende posisies, hul diensbaarheid aan die Here en sy kerk uitleef. Die kombinasie van liefde en berisping, van deernis en versorging, hul kaalvoet-oor-die-Drakensberge-trots en hardkoppigheid, help die manne wat saam met hulle in die Here se kerk dien om hul balans te hou.

In ons Hervormde Kerk is daar enorme geleenthede vir vroue om betrokke te wees in diens van die Here en sy gemeentes. Ons vroue preek die evangelie van die kansels af, lei vergaderings, toor met finansiële tekorte met hul toewyding, doseer aan teologiese fakulteite, plant harte oor en kry dit reg om al die balle in die lug te hou. Want die Here se genade vir vroue is steeds duidelik sigbaar.

Die NHSV, die Dinamies Vorentoe-vroue in ons Kerk, is tekenend van hoe vroue deur die eeue hul plek in die kerk volgestaan het. Hulle versorg die weduwees en die wese. Hulle ondersteun ons jongmense om tersiêre opleiding te kry. Hulle versorg die manne in hul lewe, staan aan manspredikante se sye en is die Aärons wat die arms hoog hou. Hulle gee moed, hulle byt vas, hulle dra swaar, en hulle gaan lê nie onder die druk nie.

Vroue, vrouepredikante, predikantsvroue, NHSV-voorsitters, NHSV-lede, vroue in die Hervormde Kerk – julle is God se diensbare kinders.

Sing saam Die loflied van Maria:

Ek besing die grootheid van die Here,
ek juig oor God, my Verlosser,
omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,
omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.

(Luk 1: 46-50, AFR83)

Wees ’n seën, gaan dinamies vorentoe en dien die Here van die kerk, vroue, begenadigdes!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap