We the resilient, have been here before.
’n Plakkaat met hierdie woorde vang my oog in 2017 tydens ’n protesoptog oor president Donald Trump se (eerste) inhuldiging. Die optog was spesifiek gemik op die wyse waarop sy taal en optrede vroue verontmenslik het. Op televisie hou ek die saak dop en sien hierdie plakkaat (https://www.ashevilleart.org/work-of-the-week/we-the-resilient-ernesto-yerena/). Dit beeld ’n inheemse Amerikaanse vrou uit. En die slagspreuk, vertaal: Ons, die veerkragtiges, het dié tipe onsigbaarmaking waaroor julle hier protesteer, ontelbare kere al beleef. Die implikasie was dat om bewustheid te skep, ’n voortgaande proses is en dat veerkragtigheid nodig is om daarmee vol te hou. Die geskiedkundige, stelselmatige en doelbewuste pogings om die inheemse volke in Amerika onsigbaar te maak en hul bestaan uit te vee, is nie iets wat in een generasie reggemaak kan word nie. Aldus die veerkragtigheid. Die plakkaat het my bygebly en ’n indruk op my gemaak, want veerkragtigheid is nodig as dit kom by die saak van vroue in ons wêreld vandag. Nie almal deel hierdie beskouing nie. Vir baie is die saak van vroue iets wat afgehandel is. Dit is óf holrug gery, óf dit lei daartoe dat manlikheid nie meer ’n plek in die samelewing het nie. In die Hervormde Kerk kan ons sê dat ons eerste vroue tot die amp toegelaat het. Ons het ’n meerderheid vroue wat amptelik dosente by die Universiteit van Pretoria is. Daar is twee vroue predikante wat op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dien (weliswaar uit ’n groter komitee). Wat is daar dan nou nog om oor te praat?
Hierdie vraag ontstaan altyd onvermydelik gedurende Augustus wanneer Vrouedag herdenk word. Miskien is dit ’n vraag waaroor die Kerk introspeksie moet doen. Tydens ’n onlangse simposium oor die tema van vroue in die kerk/ampte, hoor kollegas hoe een van die deelnemers na afloop van die werkswinkel sê dat hy hoop die vroue (die tannies) is nou tevrede. ’n Ander kollega, in ’n gesprek oor hoe min vroue dekane daar is, se opmerking is dat niemand vroue keer om dit te doen nie. As ek dit hoor, bid ek vir veerkragtigheid, want my moed sak in my skoene. Ek weet nie waar om te begin om te verduidelik wat die diep afgrond van onderliggende (en onsigbare) aannames is waarop sulke opmerkings gebou is nie. Ek bid dan vir krag om aan te hou met bewusmaking. As vrou mag ek nie te kwaad word nie, maar ek mag ook nie emosieloos wees nie. Ek kyk dan weer na die voorbeeld van die inheemse vrou op die plakkaat: We the resilient, have been here before.
Vir die afgelope drie en ’n half jaar is ’n groot deel van my lewe ingesluk deur die saak van vroueleierskap. Gedurende hierdie tydperk het ek saam met kollegas by die Albert Luthuli Leierskapinstituut aan die Universiteit van Pretoria ’n omvattende inisiatief ontwerp wat op vroueleierskap gemik is. Dit staan as die Women Leadership Programme (WLP@UP) bekend. ’n Belangrike komponent daarvan is die LEADHER-program. Dit is ’n kursus wat oor vyf maande strek waartydens vroue stelselmatig geïnternaliseerde voorveronderstellings oor hulself en die samelewing deur ’n proses van outo-etnografie deurwerk en ’n ander narratief skryf. Dit is nie ’n gewone driepunt- of vyfpunt- of sewepuntplan of proses wat dikwels in besigheidskole oor leierskap aangebied word nie. Dit is intens en vra ernstige introspeksie. Vir my as mede-aanbieder en koördineerder is dit tegelyk ’n asemrowende, maar ook ’n diep uitmergelende ervaring. Die vroue word toegerus met teoretiese insigte oor hoe kennis en mag met metafore, en vooronderstellings verband hou. Dit moet hulle dan toepas deur onder andere bepaalde groepwerk, kuns-installasies en ’n tipe kartering van hul eie self te maak.
Gedurende hierdie drie en ’n half jaar is my veerkragtigheid en psigiese energie meermale opgebruik. Die saak van vroue is kompleks – benewens die eksplisiete en implisiete seksisme wat bestaan (en pogings om dit te ontken), kompeteer vroue met mekaar vir ’n stukkie sigbaarheid. Daar is vroue wat geheel en al ontken dat daar ’n probleem is en vroue wat wél aan hierdie ontwikkelingsprogramme deelneem, verkleineer of beskuldig dat hulle die normale (regte) orde van die mensdom wil omkeer. Daar is mans wat die ontwikkelingsprogramme afmaak as ’n kerm-en-kla-sessie. Daar is egter ook mans wat die vroue ondersteun en self van die kursusdele fasiliteer. Hulle is ware bondgenote. Daar is ’n verskil tussen ’n man wat bereid is om saam met vroue seer te kry, en een wat ’n spreekwoordelike polities korrekte t-hemp met ’n slagspreuk dra wat lees ek ondersteun vroue. Ek is bevoorreg om saam met ’n klein groep manlike bondgenote te werk.
Tydens die kursus, vertel vroue dikwels hul verhale – hoe hul voorstelle afgemaak word totdat ’n manlike kollega dit voorstel; hoe hulle enersyds uitgesonder word as hulle nie kinders het nie, maar andersyds hul kinders gebruik word as rede dat hulle nie bevorder kan word nie; hoe hulle manlike eweknie meer geld op dieselfde posvlak verdien; hoe hulle drie keer soveel bewys moet lewer van die kwaliteit van hul werk; hoe vroue mekaar verkleineer omdat hulle hierdie oorhoofse paradigma van diskriminasie en kompetisie geïnternaliseer het; en hoe vroue onsigbaar is wanneer besluite geneem word, of stilgemaak word tydens vergaderings. Dit is alles die dele van die verhaal wat sigbaar is. Soos ’n ysberg steek net die boonste deel uit. Die ander dele van die verhale is erger.
Mense vra dikwels hoekom ons Vrouedag vier en miskien ook hoekom die Hervormde Kerk nog hieroor moet praat. ’n Klein voorbeeld sal miskien dit beter toelig. In Januarie vanjaar (2026) het die Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode opnuut besluit om vroue nie tot die amp toe te laat nie. In die menige gesprekke wat volg, hoor ek hoe mense praat van die vrou in die amp. Die bepaalde lidwoord hier is van belang (die). Om die verskeidenheid van vroue onder een lidwoord (lees: een groep) te plaas, is om ’n karikatuur van vroue te maak asof alle vroue dieselfde is. ’n Huiswerker se omstandighede is anders as ’n vrou wat in Sandton woon (beide oor kleurgrense heen), en hulle kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Só ook ’n getroude vrou met of sonder kinders, ’n geskeide vrou, ’n vrou wat nie getroud is nie, ’n vrou wat nie heteroseksueel is nie, ’n vrou wat in die Noordelike Halfrond of die Suidelike Halfrond woon, ’n vrou wat vroeg moet opstaan om ’n hele familie te versorg, of ’n vrou wat heeldag agter die kasregister sit. Om van die vrou te praat, is dieselfde as om met irritasie van die vroumens te praat.
Vrouedag is ’n dag wat handel oor die menslikheid van alle mense, en die raaksien van alle mense se omstandighede en die bewusmaking van hoe ons mekaar as mense erken en dienooreenkomstig behandel. Sommiges dink die saak van vroue is afgehandel. Dit is nie die geval nie. En al wil ek soms myself in die spreekwoordelike woestyn gaan afsluit van die kwaad, teleurstelling, hartseer en die aanhoudende energie wat bewusmaking verg, hou ek aan. Want dit is nie vir my nie. Dit is vir ander. En dan onthou ek die vrou op die plakkaat: We the resilient, have been here before.
(Prof Tanya van Wyk is departementshoof van Sistematiese en Historiese Teologie in die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria)