In Rome, Italië, het die oorblyfsels van ’n ou brug uit die tyd van keiser Nero skielik in Junie 2022 bo die watervlak van die Tiberrivier begin uitsteek as gevolg van die droogte wat die land beleef het. Navorsers wat die oorblyfsels van die brug ondersoek het, meen dat Petrus in 64 nC en Paulus in 65 nC moontlik oor dié brug gebring is toe hulle gedurende die bewind van Nero tereggestel is.
Die brug is naby die Castel Sant’Angelo en die Vatikaan in die sentrum van Rome geleë. Die brug staan bekend as die Pons Neronianus in Latyn, of die Brug van Nero, na aanleiding van die feit dat die brug gedurende die tyd van Nero oor die Tiberrivier gebou is.
Die oorblyfsels van die brug kan nou gesien word onder die Vittorio Emmanuele II-brug wat in 1886 ontwerp en in 1911 ingewy is. Die moderne brug is 108 meter lank en loop oor drie boë wat onder die brug gebou is. Dié brug verbind die historiese sentrum aan die westelike kant van Rome, die sogenaamde Campus Martius, met die Vatikaanstad teen die Palatynse heuwel, wat bekend is as die Ager Vaticanus (Vatikaan se veld).
Met die watervlak van die Tiberrivier wat met die hittegolwe in Europa tot ’n buitengewone lae vlak gedaal het, het die oorblyfsels van die brug bo die water begin uitsteek.
Daar bestaan nie enige afdoenbare bewyse dat dié brug wél deur Nero gebou is nie. Die benaming van die brug as Nero se brug het ontstaan as gevolg van die assosiasie van die gebied wat bekend was as die Vlakte van Nero. Daardie omgewing was sedert die derde eeu al bekend as die Tuine van Agrippina. Agrippina was Nero se moeder. Sy het in daardie omgewing, langs die Tiberrivier, besonder indrukwekkende tuine aangelê.
Caligula, wat die keiser in Rome was tussen die jare 12 en 41 nC, het ’n circus gebou wat ook na-aan die oewer van die Tiberrivier geleë was. Die historikus Tacitus (56-120 nC) het in sy geskiedskrywings vertel dat dié Circus die plek was waar Nero die Christene laat teregstel het vir die groot brand wat hulle glo in 64 nC in Rome sou gestig het. Hy het die guns van die inwoners van Rome met dié teregstellings probeer terugwen deur hulle met die marteldood van die Christene te vermaak.
Oorspronklik het dié brug bestaan uit ’n oorgang wat van hout gemaak was en het dit die Via Triumphalis geheet. Dié houtoorgang is deur die keisers van Rome gebruik om die soldate na die oorkant te neem waar hulle met groot militêre vertoon op ’n groot, oop stuk grond hul oorwinnings gevier het. Die houtstruktuur kon later nie meer die verkeer oor die brug hanteer nie en binne ’n eeu is die brug met ’n ander brug, net ’n entjie aan die bokant daarvan, deur keiser Hadrianus vervang.
Die Pons Neronianus was reeds in die vierde eeu onbruikbaar en het in die Middeleeue bekend gestaan as die Pons Ruptus, oftewel die stukkende brug. Die rede waarom die brug meegegee het, was omdat die oorgang gebou is op ’n skerp buiging in die loop van die rivier wat gereeld ’n vloedvlakte gevorm het wanneer die rivier in die reëntyd afgekom het. In sulke gevalle is die rivier dan geneig om sy walle te oorstroom en sou dit daartoe gelei het dat die brug se struktuur ook onder druk sou kom. Tekens bestaan dat die brug teen die middel van die derde eeu reeds herstel en versterk moes word om dit stewiger te maak.
Petrus, Paulus en Nero
Die oorspronklike brug was, militêr gesproke sowel as in ’n godsdienstige sin, belangrik vir Rome. Benewens die feit dat die brug naby die kasernes van die soldate geleë was en dit dus maklik was om die regimente op daardie spesifieke plek oor die brug te bring vir militêre parades, was die plek ook naby ’n aantal heiligdomme wat as aanbiddingsplekke ingerig is.
Verder was die brug naby die voet van die Palatynse heuwel waar ’n tronk geleë was waarin hoëprofielgevangenes aangehou is. Die selle en kasernes van die soldate was naby mekaar, maar aan die teenoorgestelde kante van die rivier geleë, wat die wagbeurte en beheer van die tronk baie makliker gemaak het.
Die brug was dus die logiese keuse wanneer gevangenes oor die Tiberrivier gebring moes word om voor die senaat te verskyn, of om tereggestel te word. Dit beteken dat Petrus in 64 nC, geboei in kettings, oor die brug gebring moes word om onderaan die Palatynse heuwel onderstebo gekruisig te word. Dit is sowat 1,1 kilometer van waar die Sint Pieterskatedraal tussen 1506 en 1526 opgerig is.
Dit is ook dieselfde brug waaroor Paulus in die daaropvolgende jaar, in 65 nC, moes gaan toe hy deur Nero laat onthoof is. Dit beteken dus dat Petrus en Paulus in twee teenoorgestelde rigtings oor die brug vir hul teregstellings gegaan het as die soldate wanneer hulle na die terrein moes beweeg vir hul militêre parades.
Nero, wat as die vyfde keiser van die Romeinse Ryk van 54 tot 68 nC regeer het, was ’n omstrede figuur. Hy het verskeie openbare geboue laat oprig en groot militêre oorwinnings behaal, maar het nie oor goeie politieke vernuf beskik nie. Sy voorliefde vir strydwawedrenne, die kunste en musiek, het sy aandag aan politieke sake erg geknou. Gedurende sy regeringstyd het hy groot druk op Rome se finansiële kas geplaas met die bou van sy sogenaamde “Goue Paleis” in die sentrum van Rome ná die groot brand in die stad.
Hy is daarvoor bekend dat hy sy ma, Agrippina, asook minstens een van sy vroue, vermoor het. Nero het homself in 68 nC om die lewe gebring nadat die Romeinse senaat hom as ’n vyand van die volk verklaar het. Hy was maar 30 jaar oud met sy dood en het 14 jaar lank as keiser regeer.
Foto: ’n Toeristeboot vaar verby die plek in die Tiberrivier in Rome waar die oorblyfsels van ’n ou brug wat in die tyd van Nero gebou is, sigbaar geraak het nadat die watervlak as gevolg van ’n droogte gedaal het. © Alessia Pierdomenico/Bloomberg via Getty Images
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)