Maart 2020: Covid-19 tref ons. Dit begin in China en versprei oor die hele wêreld. Ons almal dink dit gaan gou verby wees en dit gaan my en my naastes nie tref nie. Die teendeel gebeur. Dit het tot by ons voordeur gekom en by ons huise ingesluip.

Baie van ons het meer as ooit tevore hande gewas, gesaniteer, tuis gebly, en tog het ons nie daarvan ontsnap nie. Baie van ons se ouers, kinders, familie, vriende, onsself, het baie siek geword. Baie is dood.

Feitlik almal is bang, onseker, bekommerd oor die toekoms.

Wat moet ek doen? As gelowiges moet ons op ons knieë bly. Net God kan ons werklik van hierdie angswekkende storm bevry. Ons moet bid en ons verdiep in die Woord van die Here, soekend na sy wil, maar tegelyk alles moontlik doen om onsself te beveilig. God gee alles, maar vra van ons ook alles. Ons moet antwoorde soek met ons hart, hand en verstand (Fil 1: 9-10). As ek hierdie pad loop, kom ek elke keer tot die gevolgtrekking: Ek moet vashou aan die Here, maar tegelyk myself ook so goed moontlik teen die virus beskerm, en die belangrikste beskerming is waarskynlik inenting, soos deur wetenskaplikes aangetoon is. In Rapport van 26 Junie 2021 sê Landi Slatter: Inenting bied die beste moontlike beskerming teen Covid-19 volgens wêreldwye studies, ook in Suid-Afrika. Ons hoor feitlik elke dag van die negatiewe gevolge van die virus, maar ons hoor nou ook van die groot herstel en terugkeer na normaal na inentings. Gaan kyk maar gerus wat gebeur het in Israel, China, Engeland en op baie ander plekke.

Gaan dit help om enigsins iets te doen? Is alles, en my hele lewe, selfs my sterwensdag, nie deur God vasgestel nie, en daarom maak dit nie saak wat ek doen nie? Ek sal niks kan verander nie?

Uit die Bybel is dit duidelik dat God se liefde onveranderlik is, maar nie sy wil met betrekking tot elke denkbare saak nie. Hiskia se gebed het tot gevolg gehad dat God sy lewe verleng het (2 Kon 20: 1-6). Israel se opstand, hul ongeloof, hul ongehoorsaamheid, lei tot 40 jaar se rondswerf in die woestyn. God het dit tog nie vooruit so beplan nie (Num 13: 26 – 14: 24). God het tog nie in sy ewige raadsplan opgeteken dat ses miljoen Jode deur Hitler en sy magte om die lewe gebring moes word nie? God het seer seker nie van die begin af beplan dat miljoene mense in oorloë, pandemies, tsunami’s, moes sterf nie?

Moet ek nie my liggaam na die beste van my vermoë beskerm nie? Ons is beelddraers, die verteenwoordigers van God (Gen 1: 26-27, 9: 6). Ons is sy kinders wat Hy in die wêreld geplaas het met ’n roeping en verantwoordelikheid. Hy wil hê ons moet lewe. Hy wil ons gebruik in diens van sy skepping en almal wat Hy op ons lewenspad plaas. In die lig hiervan moet ons onsself oppas. Miskien moet ons kyk na die pyn en trauma wat mense beleef as hulle Covid kry en dan onsself afvra of ons werklik dink dat dit die wil van die Here is dat ek dit moet beleef as ek dit moontlik kon gekeer het?

Moet ek my nie laat inent ter wille van almal met wie ek in aanraking kom nie? Die gevolge van die virus wat ons getref het, is onmeetlik. Die wêreldekonomie is geknak. Duisende mense is in rou gedompel. Baie tafels is leeg. Baie mense is bevrees, hartseer, onseker, magteloos. Elke mens wat hom of haar laat inent, help om hierdie vreeslike toestand te keer. Elkeen wat dit nie doen nie, kan moontlik daartoe bydra dat die ellende vergroot en nooit ophou nie. Elke mens is ’n potensiële draer van die virus. Ek kan iemand anders aansteek, ’n enkeling, selfs ’n groep. Ek kan so die oorsaak word van baie mense se pyn en ellende. Martin Luther het, toe die swart dood bykans 60% van Europa se inwoners uitgewis het, gesê dat hy medisyne sal neem om sy eie lewe te beskerm en te voorkom dat hy iemand anders aansteek en so sy of haar dood veroorsaak.

Is inenting teen Covid-19 nie dalk nou my Goddelike verantwoordelikheid nie? Is inenting teen Covid nie dalk die grootste barmhartigheid wat ons nou aan onsself en ons medemens kan bewys nie? Is dit nie hoe ons nou veral ons naaste kan liefhê soos onsself nie (Matt 22: 39)?

(Lees ook Handelinge 20: 28 en Filippense 2: 1-4)

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap