Kersliggies is sinoniem met Kersfees en die kind in elk van ons kom na vore tydens hierdie tyd van die jaar. In Pretoria is Jakaranda Kinderhuis se Liggiefees dus ’n hoogtepunt en natuurlik was die NHKA daar verteenwoordig. Gemeente Derdepoort het hard gewerk en helder geskitter!
Die Liggiefees vind sedert 2010 by die Jakaranda Kinderhuis in East Lynne plaas met verskeie stalletjies wat ietsie te ete en te drinke verskaf. Gemeente Derdepoort het ywerig worsbroodjies en koeldranke verkoop. Volgens Annelie Short, gemeentelid van Derdepoort en ook die bestuurder Oudit by die Sinodale Dienssentrum, is Gemeente Derdepoort basies van die begin af betrokke by die Liggiefees. Die fees word gewoonlik die hele Desember aangebied, maar in 2024 was dit vanaf 29 November tot 23 Desember van 18:00 tot 22:00.
Anton en Susan de Klerk het in 2024 opgetree as die hooforganiseerders en het al die reëlings op hulle geneem. Hulle het gesorg dat daar genoeg tafels, gasbraaiers en natuurlik ’n netjiese opwasarea was. Die gemeente het die stalletjie elke aand beman en verskillende spanne het beurte gemaak om saans te werk. Oor die jare het die gemeente se lidmaattal drasties gedaal en in 2024 was daar slegs 20 mense wat die projek gedryf het. Dit het egter nie Derdepoort teruggehou nie. Daar is ywerig broodrolle gebotter en wors gebraai. Die koeldranke was yskoud en almal het heerlik saamgewerk. Die goeie gees wat by die stalletjie geheers het, het dit sommer ’n aangename plek gemaak om die hongerpyne en dors te verlig.
Volgens Annelie is dit vir die lidmate ’n voorreg om jaarliks Gemeente Derdepoort by die Liggiefees te verteenwoordig. Hierdie projek is ook een van die belangrikste fondsinsamelingsprojekte van die gemeente en gevolglik werk almal hard om daarvan ’n sukses te maak.
Gemeente Derdepoort hoop om sommer baie NHKA-lidmate in 2025 by die stalletjie te bedien.







