Daar is geen tyd van die jaar waarin gelowiges én die breër samelewing soveel sing soos in die aanloop tot Kerstyd nie. Al het die Christelike kerk eers in die vierde eeu Kersfees amptelik begin herdenk, en al is Advent nog later in die liturgiese kalender opgeneem, was dit nie vir die vroeë kerk moeilik om musiek vir hierdie tyd te vind nie. Die Kersverhaal is immers reeds vol musiek wat uit die vertellings opklink – engele wat sing, lofliedere van verwagtende moeders en die danklied van ’n nuwe pa.

Kerstyd is tot vandag toe die tyd van die jaar wanneer gelowiges én mense buite die kerk lustig saamsing oor die geboorte van die Kindjie. Dit laat mense nostalgies terugverlang na hul kinderjare en die Kersfeesvierings wat in hul huise plaasgevind het. Ons moet egter onthou dat nuwe generasies elke jaar hul toekomstige herinneringe aan Kersfees vaslê – ook deur die liedere wat hulle in die kerk en tuis sing.

Naas die Advents- en Kersliedere wat in die Liedboek opgeneem is, is daar meer as 140 liedere in dieselfde rubrieke in die VONKK-korpus. Hierdie artikel bied ’n vlugtige oorsig van die skat aan liedere wat liturge en gemeentes daar kan vind om dalk reeds by 2026 se Kerssangdienste en Kersvierings in te sluit. By elke lied is daar ook ’n skakel vir gemeentes wat op Missio ingeteken is.

Liedere van oor die hele wêreld

In byna elke geloofstradisie en wêrelddeel is daar ’n rykdom aan Kersliedere. So vind ons een van die gewildste Kersliedere in VONKK 385 – Heilige Nag (O Holy Night). Die lied is van Franse oorsprong en is op ’n stadium selfs deur die Rooms-Katolieke Kerk verban vanweë die omstredenheid rondom die skrywer daarvan. Dit is ’n baie bekende melodie wat maklik deur ’n gemeente gesing kan word, hoewel die omvang daarvan nogal groot is. Soos in die oorspronklike teks word Jesus se geboorte ook in verband gebring met die verbreking van die kettings van sonde wat uiteindelik uit sy menswording sou voortvloei. https://missio.org.za/songs/vonkk-385/

’n Baie gewilde lied uit die Skandinawiese wêreld is VONKK 475, met ’n melodie wat Emily Köhler in 1898 geskryf het. Die lied gebruik een van die tradisionele indelings van die vier Adventsondae – en baie gemeentes se gebruik om elke Sondag nog ’n kers aan te steek – as grondslag vir die teks. Die titel is: Kom steek die Kersfeeskerse aan. Liturgies kan dit só gebruik word dat die gemeente elke Sondag nog een van die verse sing, byvoorbeeld as toetredelied terwyl nog ’n kers in die Adventskrans aangesteek word, en dan die laaste strofe op Kersoggend. https://missio.org.za/songs/vonkk-475/

Nog ’n baie bekende melodie is dié van VONKK 283. Die lied, Kom buig in die stal, geskryf deur Breda Ludick, besing nie net die gebeure van Kersfees nie, maar ook die misterie van die saamsmelting van hemel en aarde in hierdie Kindjie. Dit is ’n baie maklike melodie (Away in a Manger) wat ’n gemeente dadelik met oorgawe kan saamsing. https://missio.org.za/songs/vonkk-283/

In VONKK 477, Het jy geweet, Maria, vra die gemeente vir Maria wat sy verstaan het van wat tydens daardie eerste Kersfees gebeur het, en of sy later in Jesus se lewe begryp het wat die betekenis van haar Kind se geboorte was. Hierdie melodie (Mit hjerte altid vanker) uit Skandinawië is dalk nie vir alle gemeentes ewe maklik singbaar nie, maar nadat ’n solis die eerste strofes gesing het, sal ’n gemeente die laaste strofe gemaklik kan sing. Dit is ook een van die min liedere wat iets van Herodes se kindermoord verwoord. https://missio.org.za/songs/vonkk-477/

Die bekende Engelse Kerslied, It Came upon the Midnight Clear, het in VONKK 531 Afrikaanse woorde gekry: Op daardie donker middernag. Elke strofe eindig met die eggo van die engele se lied: Hosanna! Ere aan Hom! https://missio.org.za/songs/vonkk-531/

Nuwe kersliedere uit eie bodem

Naas die bekende liedere van oor die hele wêreld is daar ook ’n hele aantal nuutskeppings uit eie bodem.

Een so ’n lied is die beryming van die Lofsang van Maria, wat ds Dawie Jacobs omgedig het en waarvoor Cecilia van Tonder die melodie geskep het. Ons vind dit in VONKK 445: Kyk die grootheid van die Here. Die ander weergawes van dié bekende teksgedeelte is nie vir elke gemeente ewe maklik singbaar nie; daarom is hierdie nuutskepping so ’n groot vonds. https://missio.org.za/songs/vonkk-445/

Ook in VONKK 303 is daar ’n pragtige Kerslied deur die sanger Louis Britz: Hoor die blye tyding. Die lied kombineer die boodskap wat die engele aan die herders bring met die belydenis in Johannes 1 dat die Woord mens geword en onder ons kom woon het. Dit is ’n sterk melodie wat ’n gemeente maklik sal kan baasraak. https://missio.org.za/songs/vonkk-303/

Een van die jongste toevoegings tot die korpus van Kersliedere is VONKK 541 – Geen ander ster se lig. Dit is ’n lied wat probeer verwoord watter verskil Jesus se koms gemaak het en hoe die deurbreek van God se lig met Kersfees die begin van sy onkeerbare lig was. Isabeau Swanepoel het die melodie so onlangs as 2023 gekomponeer. https://missio.org.za/songs/vonkk-541/

Aan die een kant is Kersfees ’n tyd wanneer mense met groot nostalgie die bekende Kersliedere wil sing. Die VONKK-korpus bevat heelwat liedere met bekende melodieë wat maklik gesing kan word, maar dit bied gemeentes ook die geleentheid om elke jaar minstens een of twee nuwe liedere aan te leer – liedere wat in die toekoms deel sal word van gemeentes se heelhartige samesang.

(Ds Hannes van der Merwe is leraar van Gemeente Pretoria-Oos)