Onderaan die Tempelberg van die tempel in Jerusalem is ’n steen met ’n gravering daarop gevind, wat nou blyk die staanplek van die trompetblaser van die tempel gemerk het. Hierdie vonds is ’n baie belangrike ontdekking, veral vir die navorsing oor die geskiedenis van die tempel.

Die steen is 2,44 meter lank, 31 sentimeter hoog en 26 sentimeter wyd. Die steen is aan die suidwestelike kant van die Tempelheuwel gevind en word tans in die Israelse Museum bewaar.

Op die steen verskyn ’n inskripsie wat bedoel is om as ’n pleknaam te dien. Die skrif op die steen is gegraveer in ’n kenmerkende vierkantige Aramese lettertipe wat algemeen gedurende die eerste eeu vóór en eerste eeu ná Christus in gebruik was. Die inskripsie bestaan uit twee volledige woorde en ’n woord waarvan die laaste gedeelte saam met die linkerkant van die steen afgebreek is.

Die eerste twee woorde lees huyqth tybl (le-beit ha-teqiah …), wat beteken “vir die huis (of plek) van die trompet”. Dié woorde dui duidelik op die aanwysing van ’n spesifieke plek soos wat ’n naambord byvoorbeeld sou doen.

Die derde woord wat saam met die steen afgebreek het, is nie heeltemal seker nie, maar is waarskynlik lydbhl (le-havdil), wat “om te onderskei” beteken, óf dalk zyrkhl (le-hakriz) kan wees, wat beteken “om aan te kondig”. Die bedoeling is dat die inskripsie die plek aandui waar die beuel- of trompetblaser gaan staan het wanneer hy met die blaas van die beuel of trompet die aanbreek of einde van die Sabbat aangekondig het.

Ontdekking van die steen

Die steen is die eerste keer in 1867 ontdek deur Sir Charles Warren terwyl hy as ’n Britse offisier in die British Royal Engineers diens gedoen het, en terselfdertyd as argeoloog vir die Palestine Exploration Fund op die Tempelheuwel gewerk het. In daardie stadium was die Heilige Land, Israel en die omliggende gebied, nog onder beheer van die Ottoman-regering.

Tussen puin wat beskou word as deel van die Herodiaanse verbeterings aan die tempel, is dié steen ontdek. Warren kon egter nie agterkom waar dié steen in die struktuur van die tempel gepas het nie. Die steen is uiteindelik onaangeraak daar gelaat.

Nét meer as ’n 100 jaar later, in 1968, het die argeoloog Benjamin Mazar die steen wéér ontdek en besef dat dié steen van ’n plek bó in die tempel afkomstig was.

Verdere navorsing het nou aan die lig gebring dat die inskripsie op die steen die bewoording gevorm het om die plek op die tempel te merk waar die beuel- of trompetblaser gestaan het wanneer hy die ritme van die dag volgens vasgestelde tye moes aankondig. Dit was tradisioneel die priesters se taak om met die blaas van ’n beuel of trompet die ure van die dag aan te kondig. Hierdie aankondigings het by implikasie ook die tyd van offers en ander tempelroetines aangekondig.

Die trompet is gebruik om die aanbreek van die nuwe dag aan te kondig, of sodat sekere tempelfunksies op gegewe ure uitgevoer moes word. Die beuel is weer gebruik om die tyd vir die bring van die daaglikse offers of die Sabbat aan te kondig. Dié reëling het ook vir die skoonmaak van die offerplekke gegeld.

Die vasgestelde tyd wanneer offerplekke se as verwyder moes word, is volgens die Joodse wet die rb#g#h^ ta^yr!q+ (kri‘at hagever) genoem. Dit het gewoonlik nét voor dagbreek plaasgevind. Die beuelblaser het dan met drie tone op sy beuel geblaas as aanduiding daarvan dat die roetine moes begin om die offerplekke se as te verwyder.

Volgens die Misjna is die beuelblaser in die Joodse volksmond die haan genoem. Elke keer wanneer die beuel geblaas is, het die Jode daarna as die kraai van die haan verwys.

Die Romeinse verwoesting

Gedurende die Bybelse tyd is die tempel in Jerusalem volgens die Joodse begrip beskou as die plek waar God woon en sy krag die duidelikste gesien kon word. Volgens die geskiedenis van die tempel was daar drie tydperke.

Die Eerste Tempel was volgens die Bybel die een wat deur koning Salomo gebou is. Dié tempel is in 586 vC deur die Babiloniërs verwoes. Hierdie tempel is weer in 516 vC deur die terugkerende ballinge onder leiding van Esra en Nehemia herbou en het as die Tweede Tempel bekendgestaan. Die struktuur van hierdie tempel is by twee geleenthede vergroot en uitgebrei – eers deur die Hasmoniese Ryk, en later weer deur Herodes die Grote. Die Tweede Tempel is in 70 nC deur die Romeinse soldate onder leiding van Vespasianus (69-79 nC) en sy seun Titus (79-81 nC) aan die brand gesteek en verwoes.

Dit is tydens hierdie verwoesting van die tempel in 70 nC dat die Romeinse soldate die gegraveerde steen wat die beuel- en trompetblaser se plek aangedui het, afgebreek en die steen van bo van die tempel afgegooi het. Dié waarneming is eenvoudig om te maak omdat die steen gevind is tussen puin van die tempel wat deur die Romeine verwoes is.

(Die Derde Tempel het gevolg met die herstel van die tempel deur Simon Bar Kochba wat in 132 nC begin is en eers weer later in 361-363 verder aangebou is, totdat ’n aardbewing Galilea en die omgewing daarvan getref het in 363. Daarna is sporadies daaraan gewerk vanaf 610-1291 en toe weer van 1967 af.)

Die ontdekking van die steen bevestig Flavius Josefus, ’n eerste-eeuse Joodse historikus, se weergawe dat die tempelpriesters op ’n vasgestelde plek op die tempel gestaan het vanwaar hulle met hul blaasinstrumente die begin en einde van die Sabbat aangekondig het (Die Joodse Oorlog, IV,ix, 12).

Hoe hoog die plek was waar die beuel- of trompetblaser gestaan het om sy aankondiging te blaas, is ’n ander interessantheid. Hierdie staanplek was 42 meter bo straatvlak. Van hierdie hoogte af sou die klank van die beuel of trompet dus tot ver oor die stad kon trek.

Die plek waar die steen gevind is, bevestig verder dat die plek waar die tempel volgens Josefus gestaan het, ooreenstem met die plek wat volgens die Bybel beskryf word. Waarom hiérdie feit so belangrik is, is omdat daar navorsers is, meer so in Amerika, wat die huidige perseel as die presiese plek van die Bybelse tempel bevraagteken.

Die posisie waar die steen gevind is, in ooreenstemming met Josefus se geskiedwerk en die Bybel se beskrywing van die plek waar die tempel in Jerusalem opgerig is, weerlê die agterdogtige bevraagtekening van waar die tempel gedurende die Bybelse tyd gestaan het.

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link