Soms maak argeoloë ’n ontdekking wat ’n mens met groot nuuskierigheid laat. So byvoorbeeld is in Benede-Galilea ’n graf ontdek met ’n inskrywing op die grafsteen wat bepaal het: “Moenie oopmaak nie!”. Dié graf is tussen Joodse grafte in die Beit She’arim Nasionale Park gevind en behoort aan ’n 60-jarige proseliet (bekeerling) wat daarin begrawe is.

Die naam van die Park, Beit She’arim, beteken letterlik, die Huis met Twee Poorte, en is geleë in die nekropolis wat deel van die geografiese omgewing vorm. Die plek waar die graf ontdek is, is ook bo-op ’n heuwel geleë.

Die graf van Jakob die Bekeerling

Die grafte wat in die nekropolis van Beit She’arim gekry is, vertoon meer as 300 inskripsies wat in vier tale op die grafstene geskryf is.

Hierdie besondere graf waarvan die inskrywing enigiemand verbied om dit oop te maak, is die enigste graf wat tot op hede ontdek is waarop pertinent vermeld word dat die oorledene ’n bekeerling is. Die graf dateer uit die laat Romeinse of vroeë Bisantynse tyd toe die Romeinse Ryk na die oostelike provinsies uitgebrei het en Konstantinopel as hoofstad gevestig is. Die Bisantynse era het op 11 Mei 330 nC begin, wat beteken dat die graf uit ongeveer 280-340 nC dateer. 

Die inskripsie op die grafsteen is in rooi geskryf en lees volledig: Jakob (Yakoov) die Bekeerling het by homself gesweer dat enigiemand wat hierdie graf oopmaak, vervloek sal wees. Dan volg ’n dik horisontale rooi streep wat die teks van die daaropvolgende inskrywing skei, en slegs die ouderdom van die oorledene aandui as: 60 jaar oud. [Foto: Die grafsteen van Jakob die Bekeerling waarop in Grieks geskryf is: “Moenie oopmaak nie!”. © 2022, The Times of Israel]

Die inhoud van die grafskrif is as ’n vervloekingsteks bedoel om mense te waarsku om nié die graf oop te maak nie. Sedert die tweede eeu voor Christus, selfs tot vandag toe, is grafstropery ’n groot probleem. Die derde en vierde eeue na Christus was nie gevrywaar daarvan nie. Grafstropers het grafte oopgebreek op soek na waardevolle items daarin. 

In die grafkompleks van Beit She’arim is ’n groot aantal grafte ontdek. Baie van hierdie grafte het nog oor hul oorspronklike grafstene beskik. Vervloekingspreuke wat op grafte aangebring is, was nie regtig ongewoon nie. Dit was amper eerder die reël om sulke spreuke op grafte aan te bring. [Boonste foto: Grafte ondergronds in die Beit She’arim Nekropolis wat binne die Beit She’arim Nasionale Park in Benede-Galilea geleë is. © 2009, Doron Horowitz/Flash90; The Times of Israel]

Die bewoording op Jakob se grafsteen het egter navorsers se aandag getrek. Die Griekse inskripsie op die steen getuig nie van gesofistikeerde Grieks nie. Die konstruksie lyk meer na dié van iemand wat nie met Grieks grootgeword het nie, en is eerder soos wat die persoon gepraat het.

In die ou tyd was dit geen ongewone verskynsel nie dat mense die woorde wat op hul grafte aangebring moes word, self geskryf het. Met dié feit in ag geneem, is die moontlikheid sterk dat Jakob vir sy eie bewoording, en dus die vloek, op die grafsteen verantwoordelik was. Hy het die spreuk geskryf soos wat hy gepraat het.

Of Jakob die teks persoonlik met sy eie hand geskryf het, en of hy slegs die bewoording aan iemand gedikteer het, sal niemand natuurlik weet nie. Wat wel duidelik aan die skrif is, is dat die vorm van die Griekse letters met groot en versigtige presiesheid gedoen is.

Die plek van die graf

Die plek waar Jakob die Bekeerling begrawe is, is van groot belang. Dit is in dieselfde begraafplaas waar Juda HaNasi begrawe is.

Wie Juda HaNasi was, is nogal werd om te weet. Hy was die leierrabbi in die tweede eeu na Christus en het ’n deurslaggewende rol gespeel met die redaksionele samestelling van die Misjna. Verder was hy ook die hoof van die Sanhedrin, die hoogste godsdiensraad van die Jode.

Baie Jode, van oral in die omgewing, het groot moeite gedoen om ook begrawe te word waar Juda HaNasi begrawe is. So het dit dus gekom dat Jakob die Bekeerling ook in die begraafplaas van Beit She’arim begrawe is. Die bewoording op die grafsteen wat navorsers se aandag getrek het, is die beskrywing dat hy ’n proseliet is. Hierdie beskrywing van Jakob bied ’n belangrike beskrywing van die man.

Iemand wat as ’n proseliet beskryf word, is as ’n volle bekeerling beskou. In die Joodse godsdiens van destyds is onderskei tussen twee kategorieë van mense wat na die Joodse geloof oorgekom het. Die een groep was as die Godvresendes bestempel. Hulle was dié wat nog nie die hele siklus van die Joodse leer voltooi het en/of besny is nie. Die tweede groep was dié wat reeds die hele proses deurloop het om die Joodse geloof te verstaan. Hulle het ook reeds die besnydenis ontvang en is dus die proseliete of “volle bekeerlinge” genoem.

Die grafkompleks waar Jakob se graf gekry is, is ’n kompleks wat nog nie voorheen ondersoek is nie. Watter graf spesifiek Jakob se graf was, is ook nie seker nie. Die grafsteen waarop die vervloekingspreuk geskryf is, was nie meer aan die graf geheg nie, maar is eenkant teen ’n rotswand gekry. Dit beteken dat iemand die steen reeds eeue gelede verwyder het, wat waarskynlik die werk van grafstropers was. Langs die grafsteen is ook ander grafstene gekry wat losgemaak is.

Die waarde van die ontdekking

Die ontdekking van hierdie geskrewe grafsteen werp belangrike lig op die geskiedenis waaruit die steen kom. In ’n tyd waarin die Christendom onder invloed van die Romeinse Ryk geweldig gegroei het en ontwikkel het tot die oorheersende godsdiens, is dit betekenisvol dat daar steeds mense was wat by die Joodse geloof aanklank gevind het en hulle tot die Judaïsme bekeer het.

Galilea was bekend as ’n gebied waar ’n sterk Joodse gemeenskap nog bestaan het, maar ná die twee mislukte Joodse Opstande, veral die Bar Kochba-revolusie in 135 nC, is dié gebied ook onder streng toesig en beheer van die Romeinse Ryk geplaas. In hierdie omstandighede het dié man wat as Jakob die Bekeerling bekend was, nog verkies om hom tot die Joodse geloof te bekeer.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)