Volgens die boek Die Openbaring aan Johannes het Jesus in ’n visioen aan Johannes opdrag gegee om aan die sewe gemeentes in Klein-Asië elkeen ’n brief te stuur: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. 

Die derde gemeente, Pergamum, het hierdie boodskap gekry: Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy het egter my Naam in ere gehou. Selfs in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is by julle waar die Satan woon, het jy nie jou geloof in Montken nie (Op 2: 13, NDV). 

Simboliek en die Romeinse Ryk 

Die troon van Satan het simbolies verwys na die Romeinse Ryk wat weerstand teen die aanbidding van Christus gehad het. Regdeur Openbaring word die Satan, wat in simboliese terme met ’n draak of ’n slang voorgestel word, verbind met die Romeinse Ryk en sy keisers wat as ’n dier beskryf word. 

Baie van die vroeë Christelike skrywers het ’n neutrale houding teenoor die Romeinse Ryk ingeneem en Christene aangemoedig om onderdanig en gehoorsaam aan die owerheid te wees. Johannes het nie hierby ingeval nie en sy verset teen die Romeinse Ryk duidelik laat blyk. 

Aanvanklik was die Romeinse keisers gedurende die eerste helfte van die eerste eeu nog verdraagsaam teenoor die Christene en hul geloof, maar van Nero af het die keisers se houding verander. Paulus was een van die Christene wat onder Nero se bewind in 68 nC onthoof is. 

Ná Nero het die vervolging van die Christene fel toegeneem. Teen die tyd van Trajanus (98-117 nC) se bewind is Christene wat geweier het om Jesus te vervloek, en die keiser én die Romeine se gode te dien, summier in hegtenis geneem en tereggestel. 

Johannes se verwysing na die troon van Satan was meer as net gewone beeldspraak. Wanneer die argeologiese ontdekkings en die teks van Openbaring 2: 13 bymekaar gebring word, wys die getuienis in net één rigting: die Groot Altaar in Pergamum. Vir Johannes was daardie altaar die simbool van die troon van Satan. 

Die Groot Altaar in Pergamum 

Pergamum, wat vandag bekend is as Bergama en in Turkye op die oewer van die Kaikusrivier geleë is, was in die westelike deel van Klein-Asië. Die oudste deel van die stad was geleë op die akropolis wat net ’n bietjie hoër as die res van die stad was. Die altaar is aan die suidelike kant daarvan vir die god Asklepios gebou. Asklepios was die god van genesing en medisyne. Die simbool van dié god was ’n slang wat om ’n paal gedraai is. Daardie simbool is tot vandag toe die standaardvoorstelling of kenteken by mediese instellings en op doktersbriewe. 

Die altaar is vermoedelik deur die Grieks-Hellenistiese koning Eumenes II as ’n monument gebou om sy oorwinning oor die Romeine te vier. Die altaar is nooit voltooi nie, maar het vir baie eeue nog as ’n belangrike landmerk vir die stad gedien. 

Later jare, toe die Romeine die gebied herower het, is dié altaar weer in gebruik geneem en aan die Romeinse gode Zeus en Athena gewy. Die tempels vir Zeus en Athena is eers in die derde eeu na Christus gebou. Die altaar word tans in die Pergamum-museum in Berlyn vertoon. 

Die Griekse mite en die troon van Satan 

Volgens Irenaeus het Johannes sy visioen in ongeveer 95-96 nC aan die einde van keiser Domitianus (81-96 nC) se bewind gesien. Die boek Openbaring is in ongeveer 96-100 nC geskryf. 

Die beeldhouwerk op die altaar beeld ’n mitologiese stryd tussen die Griekse gode en die Reuse uit. Volgens die Griekse mites was die Reuse ’n stam wat uit vermengde huwelike tussen bewoners van Ge (Aarde) en Uranus (Hemel) gespruit het. Hulle was wrede en onsterflike krygers wat die Griekse gode aangeval het. Die Griekse gode kon die Reuse slegs met die hulp van ’n sterfling verslaan. 

Herakles was uiteindelik die sterfling wat tot hulp van die Griekse gode gekom het. Hy is gebore uit die verhouding tussen ’n menslike moeder en ’n god. Volgens die mite is die Reuse verslaan en het die Griekse gode voortbestaan. 

Hierdie mite het later die simbool geword om mense te beskryf wat ander gode aanbid het. Die mense van daardie tyd het hierdie uitdrukking goed verstaan. Die bestaan van ander gode en dat daar aan hulle geoffer is, was vir sowel die Jode as Christene ’n groot probleem. Die gevolg was dat hulle die gode van ander volkere as engele of demone begin beskryf het. Persoon wat onder die invloed van demone gekom het, is dus beskou as iemand wat die gode van ander volkere gedien het. 

Paulus skryf byvoorbeeld aan die Korintiërs dat die Grieke en Romeine hul offers nie aan God offer nie, maar aan afgode, wat niks meer as demone is nie (1 Kor 10: 20). In die apokaliptiese literatuur is die verwysing na Satan, wat as die hoof van die gevalle engele voorgestel word, net ’n sinspeling op Zeus, die regeerder van die gode. Iets hiervan word ook in Markus 3: 22-27 vertel. 

Johannes het iets uit sy eie tyd gesien wat hy as die troon van Satan beskryf het. Die Groot Altaar wat op die suidelike hange van die akropolis in Pergamum gestaan het, was die simbool van Zeus en die mag van die Romeinse Ryk. Die Groot Altaar in Pergamum was die Satan se troon. Antipas is by die plek van Satan in Pergamum vermoor, omdat hy geweier het om Christus te vervloek, Zeus te dien en die keiser as god te verheerlik. Johannes se verwysing na die plek waar Satan woon, is dus ’n sinonieme uitdrukking vir die troon van Satan. 

Vir Johannes was die Romeinse keiser, wat Zeus dus op sy Groot Altaar gaan aanbid het, die instrument van Satan. 

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.) 

Foto: Die Groot Altaar van Zeus en Athena. Dié altaar is in ongeveer 175 vC in Pergamum opgerien uit marmer geskep. © Jamie Schorsch 

af
af
Deel met behulp van
Copy link