Koning Assurnasirpal II was een van die konings van Nieu-Assirië en het ’n groot rol in die Bybelse geskiedenis van die negende eeu voor Christus gespeel. Nadat hy sy paleis in Kalgu/Kalag voltooi het en dié stad as sy hoofstad ingerig het, het hy die paleis in 879 vC met groot vertoon ingewy. Hy het ’n reusebanket oor tien dae in die tuin van die paleis gehou, met 69 579 gaste.

Koning Assurnasirpal II het gedurende 884-859 vC regeer, wat ooreenstem met die tyd wat konings Asa (908-868 vC) en Josafat (868-847 vC) oor Juda regeer het, en Omri (882-871 vC) en Agab (871-852 vC) die konings oor Israel was.

Die Assurnasirpal II-inskripsie

Op een van die monumente wat tussen die ruïnes van ou Assirië ontdek is, is ’n inskripsie van koning Assurnasirpal II gekry waarin hy oor homself die volgende geskryf het: Ek is koning, ek is heer, ek is lofwaardig, ek is verhoog, ek is opwindend, ek is vooruitstrewend, ek is ’n groot krygsheer, ek is ’n held, ek is ’n leeu, en ek is lewenskragtig. Assurnasirpal, die koning van Assirië.

Die suil waarop dié inskripsie verskyn, is ’n monument van 3 meter hoog met aan albei kante Akkadiese spykerskrif, en dit weeg 3 ton. Die steen is nét buite die ingang na die troonkamer van die paleis opgerig. Konings het in die reël gespog met hul prestasies, en sulke stene of panele is gewoonlik aangebring waar besoekers dit die beste kon sien.

Assurnasirpal se naam beteken letterlik “Assur het sy erfgenaam bewaar”. Assur was die hoofgod van Assirië. Assurnasirpal was die seun van Tukulti-Ninurta I en die pa van Shalmaneser III wat ’n groot rol in die Bybelse toneel gespeel het.

Op die Suil van Assurnasirpal II wat in die Tempel van Ninurta in Nimrud gekry is, staan die koning met ’n koninklike sekel in sy regterhand en ’n staf in sy linkerhand. Sy hare en baard is lank, en vertoon die mode van die Assiriese tyd. Hy wys met sy regterwysvinger na bo waar die kentekens van vyf gode aangebring is. Die tekens simboliseer van regs na links: Assur, in die vorm van ’n horinghelm; die songod Shamasj as ’n gevleuelde sonskyf; Sin, in die vorm van ’n halfmaan; Adad, in die uitbeelding van ’n vurkteken; en Isthar, as ’n ster. (Sien die foto hierby © The British Museum)

Assurnasirpal II se naam word nie in die Ou Testament genoem nie, maar die plekke wat hy verower het wél. Hy het gereeld strooptogte op die stamme in die noorde en ooste van Assirië uitgevoer. Daardeur het hy verseker dat die handelsroetes altyd veilig sou wees. Sy hoofdoel was om Assirië se invloed na die weste toe uit te brei, en daarvoor moes die roete daarheen toeganklik en veilig wees.

Hy het Eden ingeneem, ’n gebied wat langs die Eufraat geleë was en waarna in 2 Konings 19: 12, Esegiël 27: 23 en Amos 1: 5 verwys word. In 877 vC het hy die Middellandse See-gebiede van Tirus, Sidon, Biblos en Amurru aan hom onderwerp en sodoende vrye toegang bewerkstellig vir die roetes na die weste en Israel.

Verder het Assurnasirpal II groot bouaktiwiteite in Kalgu onderneem met sterk verdedigingsmure, tempels en ’n paleis wat hy daar laat oprig het. In Genesis 10: 11-12 word ook na die plek verwys onder die naam Kalag. Die paleis is deur oorlogsgevangenes gebou en is met panele met graveerkuns en skilderwerk versier, met tonele van Assurnasirpal se militêre prestasies en jagekspedisies. Kalgu/Kalag is later vergroot en hernoem tot Nimrud.

Assurnasirpal II het ook binne die paleisgronde ’n dieretuin met eksotiese wilde diere gevestig, asook ’n botaniese tuin met besondere uitheemse bome en plante wat hy van sy militêre veldtogte af teruggebring het.

Die groot banket

Die suil vertel ook van die grootste banket wat nóg in die geskiedenis gehou is.

Nadat Assurnasirpal II sy paleis in Kalgu/Kalag voltooi het en dié stad as sy hoofstad ingerig het, het hy die paleis in 879 vC met groot vertoon ingewy. Hy het ’n reusebanket oor tien dae in die tuin van die paleis gehou, met 69 579 gaste wat daarheen genooi is.

(Op die hooffoto is ’n toneel uit Assurnasirpal II se banket op ’n paneel teen ’n muur in die noordwestelike deel van die paleis in Nimrud. Die koning sit op sy koninklike troon tussen twee gevleuelde beskermingsgeeste, terwyl gaste vir hom geskenke bring. © The British Museum)

Onder die gaste was daar 16 000 van die stad se eie inwoners, en meer as 5 000 leiers uit ander gebiede en lande in die omgewing. Van die gaste was verteenwoordigers uit Gilzanu, Suhu en Patina.

Die voorraad vir die spyskaart gee ’n goeie aanduiding van hóé groot die beplanning vir die banket was. Dié inligting is bedoel om ’n groot indruk op besoekers of leiers uit ander lande te maak. Volgens die inligting op die suil het die bestanddele uit minstens die volgende bestaan: 1 000 beeste; 10 000 visse; 1 000 mak vee en skape; 10 000 eiers; 14 000 ingevoerde vetgemaakte skape; 10 000 brode; 1 000 lammers; 10 000 mates bier; 500 wilde voëls; 10 000 houers wyn; en 500 gaselle.

Benewens hierdie items verskyn daar ook ’n lys van speserye, groente, uie, vrugte, druiwe, knoffel, mosterd, heuning, melk, neute, kaas, olywe, dadels en ander verversings op die suil.

Die koning het die banket vir die volle duur van tien dae bygewoon en is deurlopend met geskenke oorlaai en met lofprysings besing.

Die sosiopolitieke betekenis van bankette

Die verwysing na etes en die hou van bankette in antieke dokumente het ’n belangrike sosiopolitieke betekenis gehad. Tonele van mense wat saam eet, en die verwysing daarna in ou tekste, is ’n kragtige manier om ’n boodskap te kommunikeer.

Die simboliek agter die banket wat koning Assurnasirpal II gehou het en op die banketsuil van die koning uitgebeeld word, was ’n slim stukkie politieke propaganda om die invloed en krag van die Nieu-Assiriese Ryk te verkondig.

Die Assiriese koning was die hoofpromotor van die geleentheid. Hy het die leiers van ander stede, gebiede en lande na sy banket genooi. Daardie gaste het die boodskap gekry dat hul uitnodiging ’n besondere verering is. Luidens die inhoud van die suil sou die gode die eerste keuse na die banket wees, maar omdat hulle reeds in die tempels met offers onthaal word, is die uitnodiging nou spesifiek na uitgesoekte gaste gestuur. Hierdie uitnodiging het nie net die genooides spesiaal laat voel nie, maar ook by hulle die indruk oor die mag van die Assiriese koning gewek.

Kommentaar

Assurnasirpal II het 25 jaar lank regeer en was die derde koning van die Nieu-Assiriese Ryk. Hy het omgegee vir sy volk en veiligheidsmaatreëls op die grense van sy land ingestel, asook voedseldepots en bergingspunte vir water opgerig.

Verder het hy 14 suksesvolle militêre veldtogte onderneem, wat ’n groot bydrae tot die ekonomie gelewer het.

Oor die groot feestelike banket wat koning Assurnasirpal II in Kalgu gehou het met die inwyding van sy nuwe paleis bestaan daar geen ander rekord as nét hierdie suil wat daaroor berig nie. Die betroubaarheid van dié inligting kan dus op geen manier gekontroleer word nie. Al wat dus oor die banket gesê kan word, is: Eendag, lank gelede, was daar ’n koning, Assurnasirpal II, wat in Kalgu die grootste banket wat nóg ter wêreld gehou is, in sy tuin aangebied het vir 69 579 gaste wat vir die geleentheid opgedaag het. Die inskrywing op hierdie suil het verseker dat mense tot in lengte van dae kennis sal kan neem van dié groot fees wat dié koning van Assirië in sy tuin gehou het.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)