Soms kom argeoloë ontdekkings teë wat hulle redelik gou met die Bybel probeer verbind. So ’n geval is die ontdekking van ’n grot waar hulle glo Johannes die Doper geleef en gewerk het.

Die wêreld is baie meer geïnteresseerd in argeologiese ontdekkings wat met die Bybel verband hou, as in ontdekkings wat nié daarmee verband het nie. Die gevolg is dat argeoloë wat in die Siro-Palestyns-Israeliese gebied opgrawings doen, die Bybel baie gou sal nader trek om die wêreld se aandag op hul ontdekkings te vestig.

As opgrawingswerk deeglik gedoen word, kan daar soms dekades verloop voordat enige goeie gevolgtrekkings gemaak word. As sulke ontdekkings ’n mens kan terugvoer na die Bybelse tyd, is daardie inligting natuurlik van groot belang, maar ’n mens sal die inligting daaroor steeds versigtig moet evalueer.

Die uitleg van die grot

Kom ons kyk eers na wat by dié grot gevind is wat gemaak het dat die ontdekkers daarvan die plek as die grot van Johannes die Doper geïdentifiseer het.

Die ontdekking is toevallig in 1999 gemaak terwyl Shimon Gibson met ’n span argeoloë teen die skuinste van die heuwels aan die westekant van Jerusalem na spore van ou landboukundige aktiwiteite gesoek het. Die ingang van die grot was met digte doringagtige struike toegegroei. Nadat hulle in die grot kon inkom, was hulle aangenaam verras met wat hulle binne gesien het.

Die wande van die grot binne is netjies afgewerk. Teen die wande is ’n aantal tekeninge sigbaar van ’n man met ’n staf in sy linkerhand, terwyl hy met die ander arm in die lug staan asof hy besig is om te preek. Saam met dié tekening is daar ook ander simbole van ’n man se arm, iemand (’n man) se kop, T-vormige kruise en ’n groepering van drie kruise teen die wande geskets. Die tekeninge is vermoedelik deel van latere sketse wat gedurende die Bisantynse tyd tussen 400 en 600 nC gemaak is.

Die vermoede bestaan dat die figuur met sy staf waarskynlik ’n verering van Johannes die Doper kon wees, omdat daardie gebied met die beweging van Johannes die Doper in verband gebring is. Volgens oorlewering het Johannes die Doper in daardie omgewing gebly.

Die grot lyk anders as die ander grotte in die omgewing. Dit is ’n lang grot wat 23 meter diep in die rotswand van die heuwel uitgekap is, net 4 meter smal en 5 meter hoog. Waar ’n mens by die grot ingaan, is daar 18 trappies wat jy moet afklim om dieper in die grot in te kan gaan.

Die materiaal wat binne die grot ontdek is, potskerwe en keramiekwerk, het ooreengestem met die tipiese pottebakkerswerk wat in die eerste eeu na Christus tot die middel tweede eeu na Christus in gebruik was. Selfs die soort pleister wat gebruik is om die vloer stewig te maak, het ooreengestem met die soort vloerbedekking wat gedurende die Romeinse tyd van die eerste tot tweede eeu na Christus gebruik is.

Rituele praktyke in die grot

By die ingang van die grot, reg aan die binnekant en aan die regterkant daarvan, is klippe gekry wat argeoloë so ’n bietjie aan die raai het. Op elkeen van die klippe is die vorm van ’n mens se regtervoet in die klip uitgehol. Net bokant die voetmerk is ’n tweede, en baie kleiner, holte wat met ’n gleuf na die voetholte verbind is.

Nêrens het hulle enige klippe met linkervoete daarop in of naby die grot gekry nie. Die feit dat net klippe met regtervoetmerke daarop ontdek is, laat die vermoede bestaan dat die klippe vir die een of ander kultiese reinigingsrite gebruik is. Die vermoede bestaan dat net die regtervoete dan op die klippe geplaas is om met die een of ander vloeistof of olie gesalf te word. In die Evangelies word soms na sulke salwingsprosedures verwys. Johannes 12: 3 vertel dat Maria Magdalena Jesus se voete met reukolie gesalf het.

’n Ander waarneming is dat die grot nie vir landbouaktiwiteite of enige huishoudelike doeleindes gebruik is nie. Die plek sou met sy vreemde lang struktuur moeilik vir huisvesting gebruik kon word. Diere sou ook nie oornag daar gehou kon word nie, omdat die 18 trappe te moeilik vir hulle sou wees om in en uit te beweeg. Die grot kon ook nie vir waterbergings- of besproeiingsdoeleindes gebruik word nie, want daar is geen aanduiding van enige stelsels wat water daar kon in- of uitlaat nie.

Johannes die Doper

Die enigste doel waarvoor dié grot gebruik kon word, was vir die een of ander kultiese ritueel. Dit bring ons weer terug by die mannetjie met sy krom staf in die linkerhand en regterhand wat in die lug staan. Hy dra ’n harige kledingstuk met 32 kolletjies daarop en ’n gordel om sy heupe. Sy klere stem baie ooreen met Markus 1: 6 se beskrywing van Johannes die Doper se kleredrag. Markus vertel dat Johannes die Doper klere van kameelhaar gedra het met ’n leerband om sy heupe.

Skuins agter die mannetjie staan iets wat lyk soos ’n bak op ’n driepoot … of dit kan dalk ook ’n lam wees. As daardie uitbeelding ’n lam is, mag die voorstelling op die muur dalk ’n sinspeling op Johannes 1: 36 wees, wat lees: Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

Op die oorkantste muur is ’n tekening van ’n man se kop. Daardie kop sinspeel heel waarskynlik op die onthoofding van Johannes die Doper. Die losstaande arm dui waarskynlik op sy gevangenskap in die tronk, terwyl die kruise moontlik Jesus se kruisiging simboliseer. Die groepering van drie kruise blyk onteenseglik ’n voorstelling van die drie kruise op Golgota te wees. Hierdie soort ikonografie het gedurende die Bisantynse tyd redelik algemeen in die omgewing van die grot voorgekom.

Ongeveer ’n uur te voet van die grot af, is ’n klooster wat vernoem is na Sagaria en Elisabeth, die ouers van Johannes die Doper. Die klooster staan in Ain Karim, wat in die Bybelse tyd bekend was as Beth Hakkerim, en tradisioneel as Johannes die Doper se tuisdorp beskou is. In Lukas 1: 39-40 word net verwys na ’n dorp in die bergstreek van Judea waar Johannes die Doper se ouers gebly het. Argeologiese navorsing wat op die fondasie van dié klooster uitgevoer is, het die oorblyfsels van ’n eerste-eeuse gebou met ’n rituele bad onder die fondasie van die klooster blootgelê.

Geleerdes in Israel is baie skepties daaroor of dié grot enigsins die bly- of werkplek van Johannes die Doper kan wees. Die vermoede bestaan dat monnike gedurende die Bisantynse tyd sporadies na die grot toe gegaan het vir opvoedkundige redes. Hulle het waarskynlik een of meer kere in ’n jaar na die grot gegaan om die werk van Johannes die Doper in herinnering te roep, en sy eenvoudige lewenstyl en geboorte of dood te herdenk, wat deel van die Oostelike Bisantynse tradisie was.

Of waarskynlik is die grot deur die monnike gebruik as ’n inlywingsrite vir nuwe monnike wat tot die monnike-orde toegelaat word, of in die orde opgang gemaak het. Ons sal nooit regtig weet nie.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link