2026 is die jaar waarin die 74ste Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) die narratief oor kerkwees doelbewus aangespreek het. Die Kommissie het gevra dat elke lidmaat sal meewerk om die verhale oor die Hervormde Kerk, oor sy of haar gemeente en oor wat dit beteken om ’n gelowige te wees, op ’n nuwe manier en met nuwe inhoud te vertel. Hoe klink die geloofsverhale van mense in wie se midde Jesus Christus (God met ons) self sy Kerk regeer? Getuig hierdie geloofsverhale van die geloof en hoop wat in ons leef?
Die inhoud van ons gesprekke moes verander. Die Kerk moes nuwe taal en begrippe aanleer om ’n nuwe narratief te vestig. Dit vereis dat ons dieper luister en met nuwe oë na die Kerk en die wêreld kyk waarin God met elkeen van ons op reis is.
Die inhoud van die gesprekke het inderdaad begin skuif:
- Van meting en prestasie na genade.
- Van konformisme en tradisionalisme na geloofsmoed en integriteit.
- Van bestuur, bevel en beheer na roeping en geloofsonderskeiding.
- Van doen en oorlewing na afhanklikheid.
Die roeping van die Hervormde Kerk is eenvoudig en laat geen ruimte vir misverstand nie: Ons droom is dat alle mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld. Tog is ons altyd geneig om kerkwees te oorkompliseer! Die inhoud en trant van gesprekke en die energie wat die institusionele struktuur opeis, verdof dikwels die misterie en die intimiteit wat wel tussen Jesus en sy kerk bestaan.
Hoop is byna altyd op die toekoms gerig en daarin gesetel – in die verwagting dat môre beter, anders of makliker as vandag sal wees.
Hoop is egter vir die gelowige allereers die antwoord op alles wat God reeds volbring het en bied vanuit hierdie perspektief ’n nuwe lewensuitsig. Dit is vir die Hervormde Kerk, gemeentes en lidmate belangrik om te weet dat hoop in tye van ontwrigting en ontworteling altyd en allereers in Jesus Christus setel. Hy is die Here van ons lewens: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17: 27b-28, AFR83). Hoop strek altyd veel dieper en wyer as wat nodig is om die status quo te verander. Hoop is veel meer as om dit wat in 2027 stukkend is, heel te maak.
Die Hervormde Kerk het ’n teologie en ’n spiritualiteit van hoop nodig om hierdie narratief te verander. Lidmate moet deur die geloof en vanuit die hoop leef.
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor 4: 16-18, AFR83).
Hoop lê ingebed tussen die genade wat daar in Jesus Christus, ons Here, is (sy lewe, kruisiging en opstanding) en die beloftes van God waarvan die Bybel oorloop (Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld – Matt 28: 20, AFR83). Jesus Christus is die bron en waarborg van die sekerheid waarop die Hervormde Kerk en elke lidmaat se hoop berus.
Vanuit ’n verhouding van versoening en die verkondiging van die genade dat Jesus God met ons (Matt 1: 23, AFR2020) is, ervaar die gelowige hoop. Dit is ’n uitbeelding en openbaring van God se liefdevolle en persoonlike uitreiking na die mensdom. Hierin bereik God Homself – as God én mens deur die oorbrugging van die kloof tussen God en die mensdom.
Hoe verander jy ’n storie of die inhoud van ’n verhaal wat die Hervormde Kerk al eeue lank oor en oor vertel? Tot watter mate het die Hervormde Kerk se narratief met verloop van tyd verander? Om die narratief te verander, het lidmate en die Kerk nuwe gedrag, taal en begrippe nodig. Om ’n verhaal te herskryf, moet die gelowige sy of haar daaglikse gewoontes en leefstyl verander. Daar kan selfs outomatiese gedragspatrone wees wat die gelowige verhinder of terughou om ’n nuwe rol in ’n nuwe narratief te vervul. Om ’n narratief te verander, moet ons verhaalredigering (story editing) doen!
Die volgende vrae kan elke gemeente help om te onderskei waarmee die gemeente in 2026 werklik besig was:
- Wie was werklik die hoofkarakter in en tydens ons vergaderings: die Kerk, ons voortbestaan of die teenwoordigheid van God in en deur sy Woord en Gees?
- As ’n buitestander ons agendas en notules van 2026 sou lees, sou dit lyk soos dié van ’n geloofsgemeenskap wat op ’n lewende God vertrou?
- Waar het ons God se genade in 2026 werklik beleef? Hoe en waar deel ons hierdie geloofsverhale met ander gelowiges?
- Kan die gemeente oomblikke identifiseer waartydens God iets verrassends buite ons planne om gedoen het?
- Watter patrone sien ons in ons gemeente se welstand ten opsigte van geloof, gebed, roeping en gawes?
Die hoop beskaam nie, omdat dit altyd in die liefde van God gegrond is. Hoop het in en deur Immanuel na hierdie wêreld gekom. Hoop het deur die genade ook die Hervormde Kerk se deel geword. Mag hierdie hoop ons lewens deurspoel en in en deur elke gemeente leef.
Ek bid dat Jesus, ons Here, die Hervormde Kerk se lewe in 2027 met hoop sal vul. Mag ons geloofsverhale altyd van die goedheid en deernis van ons Here getuig.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. Amen (2 Kor 13: 13, AFR83).
(Dr Frikkie Labuschagne is lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, SGB, dosent en leraar van Gemeente Rust der Winter)