DIE ‘KANON’ IN DIE KANON IN DIE PREDIKING[i]

Prof TFJ (Theuns) Dreyer

(In memoriam: 1946-2020)

6.1.  Probleemstelling

6.1.1. Selektiewe lees van die Bybel

Mense se posisie in die kultuur en samelewing is medebepalend in hul selektiewe lees van die Bybel (Van den Hoogen 1986:422). Die selektiewe lees van die Bybel kan daarin manifesteer dat sekere gedeeltes van die kanon op ’n bepaalde tyd vir ’n sekere groep gelowiges meer gesag het as ander. Dit is verder ook ’n algemene verskynsel in die Christelike kerk dat die Bybel in perikope gelees word by wyse van vrye keuses ten opsigte van die gedeelte wat gelees word in die erediens, tydens pastoraat, huisgodsdiens, ensovoorts. Hierdie keuses word telkens beïnvloed deur verskeie faktore, soos persoonlike voorliefde vir bepaalde gedeeltes of corpi in die Skrif, of die situasie waarbinne die lesing plaasvind.

Hierdie willekeurigheid en ongekontroleerdheid by die seleksie van Skrifgedeeltes blyk duidelik as preke van predikante ontleed word. Sommige boeke van die Bybel kom nooit in die prediking aan die orde nie. Elke predikant het ook weer sy eie voorliefde vir bepaalde gedeeltes van die Bybel. Die vraag ontstaan dus of die kanon slegs in sy totaliteit gesagvol is; of waarborg die kanon ook die gesag van elke afsonderlike teks; of is die kanon slegs ’n aanduiding van die totale omvang van tekste wat vir Christene as Heilige Skrif geld (Van Den Hoogen 1986:477)?

6.1.2.  Sentrum/periferie

Die sentrum-/periferie-benadering van die kanon veronderstel dat sekere uitsprake van die Skrif nader aan die sentrum van die kerninhoud van die Skrif lê en dus meer gesagvol is as ander uitsprake wat verder op die periferie geleë is en minder gesag dra. Dit veronderstel dus dat daar ’n hiërargie van waarhede is, soos wat dit ook inderdaad in die Rooms-Katolieke teologie geformuleer word. Witte (1986:445-462) stel dat dit om die ordening van die reliëf van Skrifwaarhede gaan. Sedert Vaticanum II kom hierdie vraag ter sprake onder die trefwoord van die hiërargie van waarhede. Hierdie dilemma word op die spits gedryf, die oomblik as gevra word na die hermeneutiese sleutel wat gebruik word in die vasstelling van hierdie hiërargie. Op grond van die uitsprake van Vaticanum II en die postkonsilêre verwerking daarvan, stel Witte (1986:459) twee beginsels wat moet geld as hermeneutiese sleutels, naamlik: Hoe naby is hierdie uitspraak geleë aan die Christologies-Trinitariese sentrum van die geloof, wat hy beskou as Jesus se dood en opstanding; of, in die tweede instansie, die vraag na die universaliteit of partikulariteit van ’n geloofswaarheid, wat hy noem die ‘hiërargie van konsilies’. Beide hierdie kriteria geld respektiewelik as ’n wedersydse toetsing.

Pelser (1988) toon aan dat verskeie pogings aangewend is in die vasstelling van kriteria om hierdie hiërargie te bepaal of die sentrum vas te stel. Hy kom egter tot die gevolgtrekking dat die verskillende pogings elkeen weer mank gaan aan bepaalde eensydighede en gebreke. Daarom stel hy (1988:396):

Daar kan streng gesproke nooit ’n absolute kanon of ’n slegs één hermeneutiese sleutel wat vir eens en vir altyd geld nie… Dit is nooit staties nie, nooit vas geformuleer nie maar dinamies – skeppend… Dit kan daarom nooit besit word, of as ’n losstaande grootheid naas die uitwerking daarvan op die gelowige funksioneer nie.

Die probleem van die kanon in die kanon word nie simplisties opgelos deur die vind van ’n hermeneutiese sleutel om te onderskei tussen sentrum/periferie of hiërargie van waarhede nie.

6.1.3.  Kanon en die kontingente situasie

Historiese ondersoek na die kanongeskiedenis wys steeds meer en meer op die feit dat die kontingente situasie telkens invloed uitgeoefen het wanneer oor die afgrensing van die kanon beslissings gemaak is. Venter (1987:755-768) wil die noodsaak aantoon van historiese navorsing oor kanonvorming. Die omstandighede, persone en gemeenskappe wat meegewerk het in die aanvaarding en deurgee van die kanon, moet nagegaan word.

Daar is drie sake wat verreken moet word, te wete (1) die teks; (2) die tradisie; en (3) die situasie waaronder die tradisie hanteer is en kanonvorming plaasgevind het. Sodra die wêreld en situasie verander, ontstaan die hermeneutiese probleem: Hoe moet ons die Skrif uitlê in hierdie nuwe situasie? Die gesag van die Skrif of dele van die Skrif kom dus in elke nuwe situasie weer onder die soeklig. Vroom (1986:428), aan die hand van voorbeelde ter stawing, kom ook tot die gevolgtrekking dat nuwe omstandighede telkens neerslag vind in ’n poging tot herinterpretasie van die geloofgoed en die moraal, tot ’n ander formulering van die kern van die geloof (‘kanon’ in die kanon). Firet (1986:521) is ook daarvan oortuig dat in die historiese proses van kanonvorming die uiteindelike kanon tog ook weer die karakter dra van ’n kompromie tussen verskillende regionale kanons, wat weer die resultate is van ’n eie teologiese tradisie en die eie situasie van die groep.

Daar is dus redelike eenstemmigheid oor die feit dat die historiese situasie telkens meegespreek het in die vasstelling van die kanon. As vanselfsprekend dring die vraag hom dus op in hoeverre die situasie moet meespreek as daar dan sprake is van ’n herevaluering van die gesag van die kanon vir vandag. Hierdie wisselwerking kan daartoe aanleiding gee dat die kontingente situasie uiteindelik normatief word vir die kanon. Aanduidings van hierdie normatiewe waarde van die situasie vir die kanon kom duidelik na vore in die siening van Thung (1986:463-475). Vanuit sosiologiese oorwegings sien hy die kerk as ’n vrywillig-normatiewe organisasie en konkludeer dan dat wanneer waardes en opvattings in die maatskappy verskuif, daar deur die lede van die organisasie druk uitgeoefen sal word om aanpassings te maak. Hy wil die kanonprobleem beantwoord deur in plaas van die kanon, ’n morele beraad in te stel wat dan feitlik op die beginsel van die grootste gemene deler sal aandui in welke mate geloofswaarhede herinterpreteer moet word. In hierdie siening word die kanon uitgelewer aan die eise van die situasie.

Wanneer daar dus uitgegaan word van die standpunt dat die situasie moet meespreek in die debat oor die ‘kanon’ in die kanon, is die gevaar van kapitulasie voor die eise van die situasie nie uitgesluit nie.

6.1.4.  Die vraag aan die prediking

Die debat oor die kanon in die kanon is nog lank nie afgehandel nie. Nuwe vrae en oplossings word vanuit verskillende dissiplines aangebied. Dit is ’n vraagstuk wat primêr op teologies-akademiese vlak uitgemaak sal moet word. Intussen staan die kerk voor die werklikheid dat, nieteenstaande die kompleksiteit van vrae en probleme, die prediking van die kerk moet voortgaan. Die konsekwensies van die bevraagtekening van die gesag van die kanon vir die prediking is legio. Vir die doel van hierdie ondersoek word die probleem vir die prediking gereduseer tot die drie fasette, naamlik:

  • selektiewe lees van die Bybel;
  • sentrum-periferie; en
  • die invloed van die eietydse situasie.

Indien die kerk enigsins op ’n verantwoordelike wyse met sy prediking wil voortgaan, sal riglyne vir die volgende vrae gevind moet word: (1) As aanvaar word dat die selektiewe lees van die Bybel vir die prediking in werklikheid neerkom op ’n ‘kanon’ in die kanon, op welke wyse kan dit georden word? (2) Indien die oorvloedige gegewens vanuit die Bybelwetenskappe aanvaar word dat daar onafwendbaar kennis geneem moet word van ’n sentrum/periferie of ’n hiërargie van waarhede binne die kanon, hoe gaan die kerk dit vermy dat die prediking as gesagvolle spreke in die Naam van God, in sy wese aangetas word? (3) In hoeverre kan die kerk in sy prediking die situasie laat meespreek, sonder dat die situasie normgewend word vir die prediking self?

Op hierdie en verwante vrae sal ons vanuit homiletiese gesigspunt enkele riglyne probeer trek.

6.2.  Implikasies vir die prediking

Sonder om in diepte in te gaan op elk van die genoemde drie fasette van die vraagstuk van die ‘kanon’ in die kanon, wil ons hier bloot uitgaan van die veronderstelling dat dit as vraag en probleem aan die prediking gestel word. Die prediking van die kerk moet intussen nieteenstaande die mynveld van probleme en gevare wat onder die oppervlak van die vraagstuk lê, sy voortgang hê. Daar moet dus gesoek word na bakens.

6.2.1.  Prediking en die selektiewe lees van die Bybel

Alhoewel die probleem van die selektiewe lees van die Bybel nie in die homiletiek bekend was vanuit die perspektief van die vraagstuk van die ‘kanon’ in die kanon nie, is dit tog reeds vanuit ’n ander hoek ’n eeu-oue vraag. Dit gaan hier naamlik om die vraag na die mate van vryheid en willekeur wat die prediker het in sy keuse van preekstof. Dit was nog altyd vir die homiletiek ’n probleem in watter mate die prediker in sy vryheid beperk moet word. Die kanonvraagstuk het slegs hierdie probleem in ’n ander raamwerk gestel, naamlik dat die keuse van preekstof, bewustelik of onbewustelik, die resultaat kan wees van die prediker se eie ‘kanon’ in die kanon, wat hy daarop nahou.

Die kern van die probleem wat hom aan die homiletiek opdring, is watter betekenis die kanon in sy totale omvang vir die prediking het? As ons die kanon sou verstaan as dié versameling geskrifte wat vir die Christelike kerk as Heilige Skrif geld (NGB Art 4), en tegelyk ook as die bron en basis van die geloof (NGB Art 5), is dit ook vanselfsprekend dat hierdie kanon die bron en norm vir die prediking sal wees. Dit sou ook by implikasie beteken dat die kanon in sy geheel in die prediking aan die orde moet kom. Dit was in die verlede die bedoeling van die Kerkwet, wat gestel het dat die Skrif in sy volle omvang uitgelê moet word.

Sou die bedoeling hiervan wees dat elke boek van die Bybel en by implikasie elke teksvers in die prediking aan die orde moet kom, of dat die betekenis van die boodskap van die Skrif in sy geheel in die prediking vergestalt moet word? Dit wil tog lyk asof die bepaling die moontlikheid ooplaat dat die aksent nie soseer val op die hele Skrif, bedoelende elke teksvers nie, maar die hele Skrif, bedoelende in sy volle betekenis. Hierdie vermoede word bevestig deur die verdere kwalifikasie dat die indeling van die kerklike jaar daarby in ag geneem moet word. Die indeling van die kerklike jaar wil voorskriftelik wees nie ten opsigte van bepaalde gedeeltes uit die Skrif, of die totale omvang van die Skrif nie, maar wil juis verseker dat die belangrikste heilsgebeure in hul betekenis aan die orde sal kom. Volgens hierdie bepaling kan gestel word dat die betekenis van die kanon vir die prediking nie geleë is in die eis dat die kanon volledig (boek- of versgewys) in die prediking tereg sal kom nie, maar wel volledig in die sin dat die voile heilsbetekenis soos vervat in die kanon, verkondig sal word.

In die geskiedenis van die prediking was daar wel verskeie pogings om te verseker dat die kanon in sy geheel as versameling van geskrifte behandel sal word. Spore hiervan is reeds in die sinagogediens aanwesig, waar op die wyse van die lectio continua gedeeltes uit die Tora en Profete gelees word. Die vroeg-Christelike kerk het in sy erediens die sinagoge gevolg in die sin dat beide Ou en Nuwe Testament gelees word. Dit het later uitgeloop op die perikope-sisteem by Luther. Die motivering van Luther vir die invoering van die perikope-sisteem was volgens Dijk (1955:158) nie soseer om die predikant te beperk ten opsigte van sy vryheid van tekskeuse nie, maar om minder begaafde dominees in hul prediking behulpsaam te wees. Dit het later gegroei tot ’n perikope-dwang, waarteen baie verset na vore gekom het (Dijk 1955:159).

’n Kenmerk van die reformatoriese prediking was dat die preek die vorm van ’n homilie aanneem, waarin die Skrifgedeelte op ’n analitiese wyse vers vir vers verklaar word (De Klerk 1977:37). Hierdie wyse van prediking was uiters geskik vir boekprediking waar ’n hele Bybelboek op dié manier deurgewerk kon word. Veral Calvyn en later Bullinger is bekend vir die feit dat feitlik die hele Bybel so deurgespreek is (Dijk 1955:158). Dit is interessant om daarop te let dat ook Karl Barth in sy homiletiek ’n voorstander was van gebondenheid in tekskeuse deur middel van die perikoopsisteem (Barth 1966), maar tog in sy eie prediking hom groot vryheid veroorloof in sy tekskeuse (Dreyer 1987:131).

Die pleitbesorgers vir die vrye keuse van ’n teks het wyd uiteenlopende motiverings. Jonker (1976:68-72) is van mening dat die predikant in sy eie gelowige en teologies-wetenskaplike omvang met die Skrif, deur die Woord in ‘n bepaalde teksgedeelte aangespreek word, en eers dan kan daardie teksgedeelte weer preekteks word. De Klerk (1977:102-105) pleit dat, naas die voorskrifte van die kerklike jaar, daar vryheid moet wees omdat rekening gehou moet word met aktuele toestande en situasies in die gemeente, omdat dit ruimte bied vir die individualiteit en selfwerksaamheid van die prediker en omdat die amptelike aard van die prediking verplig tot die selfstandige Woordbediening.

Tereg merk Dijk (1955:164) ook op Al is alle Schrift door God ingegeven, en al hebben we door heel die Schrift met de openbaring Gods te doen, niet alles is preekbaar. Al sou die hele Bybel met al sy boeke en teksverse as kanon vir die kerk en daarom ook as bron en norm vir die prediking geld, beteken dit nie noodwendig dat die hele kanon fisies gepreek moet of kan word nie. Daar is ruimte en vryheid vir seleksie. Hierdie vryheid word grotendeels aan die prediker oorgelaat. Die vrye tekskeuse kan en is in baie gevalle by predikante, in openlike of verborge sin, die neerslag van ’n eie ‘kanon’ in die kanon. Hierdie werklikheid en gepaardgaande risiko’s moet nie die kerk dwing tot ’n krampagtige vrees en ’n gevolglike gedwonge en voorskriftelike inperking van die vryheid van die prediker by sy of haar keuse van preekstof nie. Die vryheid en risiko’s vind tog ook plaas binne die wyer perspektief van die eie inherente dinamiek van Woord en Gees, waaronder die prediker leef en tekskeuses maak.

6.2.2.   Prediking en die sentrum-/periferievraag

Waarin lê die gesag van die prediking? Indien die gesag van die prediking as Woord van God in die eerste en laaste instansie gesetel sou wees in die gesag van die Skrif as kanon, sal die sentrum-/periferieprobleem outomaties ook die gesag van die prediking bevraagteken.

Dit is daarom nodig om eers kortliks enkele opmerkings te maak oor die gesag van die prediking. Die primêre gesag lê vanselfsprekend by die Heilige Skrif, en van daaruit by die prediking as proklamering van die Woord wat in die Heilige Skrif gehoor word (Velthuysen 1985:367). Dit geld egter ook nie ongekwalifiseerd nie, want die Skrif is tegelyk God se Woord in mensewoorde. Hoe gebeur dit dan dat ons die Woord van God in die mensewoorde verneem? Dit gebeur wanneer hierdie woorde vir my iets begin sê, wanneer dit my in my eksistensie op ’n onoortreflike manier aanspreek en kwalifiseer sodat dit finale antwoorde op my lewensvrae gee (Velthuysen 1985:367).

In die verslag God met ons van die Gereformeerde Kerken Nederland,  word die Skrifgesag uitgedruk as ’n relasionele waarheidsbegrip. Geyser (1985: 121) verduidelik dit so:

Dit wil sê dat die waarheid altyd geken word binne ’n bepaalde relasie, in die raamwerk van die mens by iets anders. Die waarheid van die Skrif kan alleen geken word in die geloof, binne die raamwerk van die verhouding met Jesus Christus, die opgestane Heer. Dit beteken nie die prysgawe van die objektiewe waarheid van die Skrif nie, maar hierdie waarheid word in die dialektiese spanning van objektiewe waarheid en subjektiewe belydenis van die waarheid as ’n eksistensiële waarheid vir my as mens ontdek, vanuit die lewende geloofsverhouding met God.

Vir die prediking het die insigte van die nuwere hermeneutiek, die vraag na die gesag van die prediking in ’n ander lig gestel. Dit was Bohren (1980:28-43) wat gesê het dat God nie vasgevang is in ’n historiese teks of geskrif nie. Die blote repetering van ’n teks of die eksegetiese dissektering van ’n teks in die prediking waarborg nog nie die spreke van God nie. Eers wanneer die lewende God self deur sy Heilige Gees tot spreke kom, is dit prediking. Karl Barth het ook gesê dat die Bybel Gods Woord is sofern Gott sie Sein Wort sein lasst, sofern Gott durch sie redet (Barth 1939: 112).

Waar die prediker in sy omgang met die Skrif as historiese teks die Woord van God tot hom hoor spreek in ’n totale nuwe situasie, vind daar ’n versmelting van verstaanshorisonne plaas. In hierdie proses waar die prediker as subjek met die teks as objek besig was, vind dan ’n omkering van rolle plaas waar die teks nou as subjek die prediker as objek aanspreek, interpreteer en uitlê (Pieterse 1979:114). Dan word die prediking ’n woordgebeure, waarin die lewende Woord van God gehoor word. Juis hierin lê die gesag van die prediking.

Wanneer daar ’n sentrum en periferie ten opsigte van die gesag van Skrifwaarde is, tas dit nie noodwendig die gesag van die prediking aan nie, omdat die gesag van die prediking nie slegs afhang van die Skrif as kanon nie, maar van die lewende God wat self tot spreke kom in die preekgebeure. Weer eens blyk dit ook dat, soos in die geval van die selektiewe lees van die Bybel, hierdie sentrum-/periferievraagstuk nie nuut is as produk van die probleem van die ‘kanon’ in die kanon nie.

6.2.3.   Prediking en die kontingente situasie

’n Faset van die kanonvraagstuk kom na vore in die feit dat die kerk telkens vanuit ’n nuwe situasie die kanon en sy gesag op ’n ander wyse vertolk en verstaan, wat weer lei tot ’n nuwe ‘kanon’ in die kanon. Deels is hierdie probleem van die prediking reeds beantwoord in die vorige twee vrae. Die situasie van die prediker spreek immers mee in sy keuse van preekstof. Daarom gebeur dit dat in ’n bepaalde situasie sekere gedeeltes van die Skrif meer relevant en aktueel is, terwyl in ’n volgende gegewe situasie aksente en keuses weer anders val.

Die situasie kan egter ook ’n invloed hê ten opsigte van verstaan van ’n bepaalde gedeelte van die Skrif en eventueel ook die gesag wat aan daardie deel van die kanon toegeken word. Die verleentheid waarvoor die prediking weer telkens staan, is wat die verhouding tussen teks en situasie is.

Die prediking as hermeneutiese gebeure beklemtoon juis die feit dat die eksegese en die gemeentesituasie in voortdurende wisselwerking met mekaar verkeer (Pieterse 1979:115). In die meditasie word die verlede van die teks en die hede van die verkondiging saamgesluit. In praktyk kán dit daarop neerkom dat die teks en sy gesag uitgelewer word aan die situasie van die hoorder, dus dat die huidige situasie in wese mede-konstituerend of selfs deurslaggewend is en so ’n ‘kanon’ in die kanon vorm. Om hierdie gevaar te vermy of in elk geval te minimaliseer, sal die homileet in sy omgang met die teks en situasie steeds bereid moet wees om aan die teks normatiewe voorrang te gee.

6.3.  Prediking as waagstuk

Vanaf die vroegste tye in die geskiedenis van die kerk is erken dat die prediking vanuit die pretensie dat dit gesagvolle spreke in die Naam van God is, ’n waagstuk is en bly. Moderne navorsing dui telkens nuwe gevare aan en bevraagteken die gesag van die prediking vanuit nuwe perspektiewe. So plaas die vraagstukke van die ‘kanon’ in die kanon die prediking voor nuwe uitdagings.

Dit is uiters noodsaaklik dat die kerk in sy prediking hom vergewis van dié gevare en probleme. Dit mag egter nooit daartoe lei dat die kerk terugdeins vir hierdie waagstuk van die prediking nie; inteendeel, dit moet die kerk steeds weer daartoe bring om in sy teologiese besigwees met die Skrif as kanon, so noukeurig moontlik te probeer luister, om die aanspraak van God vir ons tyd daarin te hoor. Hy sal hierdie boodskap wat hy verneem het voortdurend moet toets aan teks, belydenis en situasie en bereid moet wees om homself te laat korrigeer. As hy dit alles klaar gedoen het, sal hy vanuit die geloof, en deur die leiding van die Heilige Gees, die waagmoed moet openbaar om te kan sê: ‘So sê die Here’.

Die dilemma ‘kanon’ in die kanon mag nooit die kerk met so ’n krampagtige vrees oorweldig, dat hy sy waagmoed in die prediking verloor nie. Die lewende God van die Woord kan en wil ook in ons tyd gesagvol spreek.

6.4.  Literatuurverwysings

Barth, K., 1939, Kirchliche Dogmatik, Bd. 1/1, Zurich, Zollikon.

Barth, K., 1966, Homiletik: Wesen und Vorbereitung der Predigt. Zurich: EVZ.

Bohren, R., 1980, Predigtlehre. Munchen: Kaiser.

De Klerk, J.J., 1977. Prediking. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Dijk, K., 1955, De dienst der prediking, Kampen, Kok.

Dreyer, T.F.J., 1987, ‘Die homiletiek van Karl Barth’,  HTS Teologiese Studies Jaargang  43, bl. 121-137.

Firet, J., 1986, ‘Toetstenen voor geloven. Praktische Theologie’, Nederlands Tijdschrift voor Pastorale Wetenschappen 1986/1, bl. 417-420, bl. 518-531.

Gereformeerden Kerken Nederland, 1981, God met ons: Over de aard van het Schriftgezag, Utrecht, Libertas.

Geyser, P.A., 1985,’Die relasionele waarheidsbegrip en die Christelike lewe: Die sinodale rapport van die GKN’, HTS Hervormde Teologiese Studies Jaargang 41, bl. 119-129.

Jonker, W.D., 1976, Die Woord as opdrag, Pretoria, NG Kerkboekhandel.

Pelser, G.M.M., 1988, ‘Die kanon in die kanon as hermeneutiese probleem’, HTS Teologiese Studies Jaargang 44, bl. 387-402.

Pieterse, H.J.C., 1979, Skrifverstaan en prediking, Pretoria, NG Kerk Boekhandel.

Thung, M.A., 1986, ‘Nieuwe canoniciteit: Tentatieve sociologische overwegingen’, Praktische Theologie: Nederlands Tijdschrift voor Pastorale Wetenschappen 1986/1, bl. 463-475.

Van den Hoogen, T., 1986, ‘Naar ons beste weten…’, Praktische Theologie: Nederlands Tijdschrift voor Pastorale Wetenschappen 1986/1, 421-426; 476-502.

Velthuysen, G.C., 1985, ‘Wat is die Woord van God – Skrif, belydenis, prediking?’, HTS Teologiese Studies Jaargang 41, bl. 364-371.

Venter, P.M., 1987, ‘Die kanonbegrip as Bybels-teologiese probleem’, HTS Teologiese Studies Jaargang 43, bl. 755-768.

Vroom, H.M., 1986, ‘Het schriffegezag ter diskussie in protestantse kring’, Praktische Theologie: Nederlands Tijdschrift voor Pastorale Wetenschappen 1986/1, bl. 427-444.

Witte, H., 1986, ‘Er zullen altijd accenten vallen’, Praktische Theologie: Nederlands Tijdschrift voor Pastorale Wetenschappen 1986/1, bl. 445-462.

Eindnota

[i] Hierdie hoofstuk is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat te vind is by https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/2207. Die volledige verwysing na die oorspronklike artikel is soos volg: Dreyer, T.F.J., 1988, ‘Die ‘kanon’ in die kanon as probleem vir die prediking’, HTS Hervormde Teologiese Studies 44/2 (1988), bl. 314-328.