Argeologiese ontdekkings by ’n ou Joodse sinagoge uit die vyfde eeu word tans gereken as een van die tien grootste ontdekkings sedert die begin van die 21ste eeu. In die vloer is mosaïektonele van Bybelse motiewe gekry wat van onskatbare waarde is.

Toring van Babel

Reg onder die motief van Jona en die vis verskyn ’n mosaïekpaneel wat mans uitbeeld terwyl hulle besig is om aan ’n toring te bou – die toring van Babel. Die toneel beeld verstommende besonderhede van alledaagse bouwerk uit. Die toring word in die regterkant van die paneel gebou. Die motief wys hoe werkers besig is om met stene aan ’n vierkantige toring te bou. Die toring lyk meer soos ’n pilaar wat in tempels of koningshuise voorkom.

Rondom die toring, veral aan die linkerkant daarvan, word verskillende vorme van konstruksiewerk uitgebeeld, soos die maak van stene, houtwerk en die ophysing van boumateriaal. Dié voorstelling bied belangrike inligting oor ou boutegnieke soos dit in die Laat-Romeinse en Bisantynse tyd bekend was.

Opvallend in die uitbeelding is dat die arbeiders verskillende haarstyle vertoon, hul kleredrag verskil en daar is selfs duidelike verskille in hul velkleur. Die bedoeling is duidelik dat die ontwerpers van die paneel wou wys dat mense van verskillende nasionaliteite aan die bou van die toring gewerk het. Ten spyte van die verskille, werk die arbeiders saam aan die bou van die toring.

In die middel van die motief word egter ’n fisiese geveg uitgebeeld wat tussen ’n man met ’n swart vel en een met ’n wit vel uitgebreek het. Die man met die swart vel is met ’n byl gewapen, terwyl die een met die wit vel homself verdedig met iets wat soos ’n sif of rooster lyk. Hierdie geveg gee uitdrukking aan die taalverwarring wat God onder die bouers gebring het. Die bedoeling van die motief in die mosaïek was nie om ’n rassekwessie uit te beeld nie, maar om die verskeidenheid van volkere en tale ná die taalverwarring te beklemtoon.

Die motief, net soos die meeste van die ander uitbeeldings, is met die uitsondering van ’n bietjie skade eintlik in ’n goeie toestand. Prof Jodi Magness erken dat die ontdekking en veral die detail van hierdie motiewe as ’n verrassing gekom het.

Noag se ark

In 2016 het argeoloë ’n uitbeelding van Noag en sy ark in die middeskip van die sinagoge gekry. Die middeskip van ’n plek van aanbidding is die gedeelte van die liturgiese sentrum waar die erediens plaasvind.

Die mosaïek beeld ’n toneel uit van diere wat uit verskillende rigtings in pare na die ark toe kom om ingelaat te word voordat die vloed uitbreek. Onder hierdie diere verskyn olifante, kamele, luiperds, donkies, bokke, verskillende voëlsoorte en slange.

Genesis vertel twee verhale oor die vloed. Die finale redakteur het dié twee verhale as een saamgevoeg. In die een verhaal word vertel dat Noag die diere volgens pare, ’n mannetjie en ’n wyfie, by die ark ingeneem het (Gen 6: 19-20). In die ander weergawe word vertel dat daar sewe pare rein diere en een paar onrein diere was (Gen 7: 2).

Die rede waarom daar twee tradisies oor die verhaal in die Bybel geskryf staan, is omdat daar twee vertellinge daaroor in omloop was. Die een het uit die tempelkringe gekom. Dit is die weergawe wat vertel dat daar sewe rein pare en een onrein paar diere in die ark opgeneem is.

Die ander weergawe was in die noordelike gemeenskap van die land in omloop en het slegs vertel van een paar van al die diere wat in die ark ingeneem is. Die finale redakteur was deeglik bewus daarvan dat elkeen van hierdie twee tradisies sy eie aanhangers gehad het. Ter wille van versoening tussen die twee groep het hy nie ’n keuse tussen die tradisies gemaak nie en altwee weergawes in die finale samestelling van Noag se verhaal geakkommodeer.

Die voorstelling wat in die sinagoge uitgebeeld word, wys dat die diere in pare na die ark toe aangestap kom. Die samestellers van die toneel was waarskynlik nie bewus van die twee historiese tradisies nie en het die paneel slegs vanuit die keuse van ’n bepaalde teksvers gemaak.

Die uitbeelding van Noag se ark in sinagoges is uniek. Die enigste ander voorbeelde daarvan is een wat by Gerasa/Jerash in Jordanië gevind is, en die een wat in Mopsuestia/Misis in Turkye voorkom.

 

© Foto’s: Jim Haberman, Universiteit van Noord-Carolina (UNC) se Mediabetrekkinge

af
af
Deel met behulp van
Copy link