Oor die jaar 2020 sal daar nog lank gepraat word. Die koms van Covid-19 en die gepaardgaande inperkings het ’n invloed op alles en almal gehad. Ook die NHSV takke in gemeentes moes aanpas en nuut begin dink. Projekte en byeenkomste kon nie plaasvind nie.

Uit die NHSV se takjaarverslae van 2020 is dit duidelik dat die vrouelidmate hulle nie maklik laat onderkry nie. As diensorgaan en as deel van die Kerk lewer die NHSV ’n besondere bydrae. Uit die inperking is positiewe en negatiewe dinge gebore en beleef.

Aan positiewe dinge was daar inderdaad geen gebrek nie. Die dames het sterk gestaan en die voortou geneem om seker te maak dat almal steeds betrokke, tuis en gemaklik voel. ’n Positiewe gesindheid, spangees en kreatiwiteit het gegroei en geblom. Die gevoel van samehorigheid het versterk, asook die gevoel van aan mekaar behoort. Daar het ’n groter bewustheid van dankbaarheid, omgee vir en empatie met mekaar onder die lidmate ontwikkel. Met inisiatief en aktiewe deelname het die dames, individueel of in klein groepies, op unieke en vindingryke maniere barmhartigheidsdiens gelewer, en kon sekere aktiwiteite of projekte steeds geïmplementeer word. Die geringste geleentheid vir sosiale kontak het die moraal gelig, en glimlagte was selfs onder die maskers sigbaar.

Nuwe inisiatiewe het spontaan ontstaan en bestaandes vervang. Hoenderpasteie word vir Covid-pasiënte by hul hekke afgelaai. Die predikant stap om die kerk, die dames hou telling en voorsien water. “Randrekkers” en “Toor met min” boeke is afgestof en resepte is uitgeruil. Nuwe resepte is gedeel en foto’s van almal se probeerslae is aangestuur, en almal het lekker gesmul. Kreatiwiteitsgroepe het met die nodige regulasies hul aktiwiteite voortgesit.

Daar was groter bereidwilligheid by lidmate om met kosskenkings vir behoeftiges of gesinne waar daar nie ’n salaris was nie, te help. Kos en klere is by skole voorsien aan gesinne wat hul werk verloor het. Pakkies is aan mediese personeel en onderwysers uitgedeel. Padkafees is gehou waar die kos gratis verskaf is en waar lidmate donasies moes bring vir barmhartigheid. Uitsonderlike ondersteuning van lidmate onder mekaar was ’n riem onder die hart, van werksoek tot insamelings vir spesifieke sake. Omgeegroepe kon steeds voortbestaan en ondersteuning bied deur oproepe en WhatsApp-boodskappe. Ons kan mekaar biddend ondersteun.

Die waarde van sosiale media is besef en dit is effektief benut. Dit het bestaan uit bemoediging, ondersteuning en Woordbediening. Só is baie meer mense as onder normale omstandighede bereik. Dit het kommunikasie tussen die predikante en die gemeentelede asook tussen die NHSV bestuur en die lidmate bevorder. Dit het geestelike leiding, troos en bemoediging aan die gemeentelede en veral die vrouelidmate gebied. Sommige lede het ook in die proses tegnologies meer vaardig geraak en ook ander geleer.

Welwillendheidsvoordeurbesoeke is gemaskerd aan sommige eensame bejaardes gebring. Selfs uitstappies vir bejaardes na ’n fliek of teater kon onder baie streng Covid-19-regulasies slegs vir hulle plaasvind. Tuisgebak met ’n kaartjie van goeie wense is vir ouer en eensame lidmate afgelewer, wat opreg waardeer is. So is maskers vir bejaardes gemaak en kospakkies weekliks voorsien. ’n “Smart” TV is vir Machteld Postmus aangekoop, en internet is beskikbaar gestel vir inskakeling op GLOmedia.tv en YouTube vir eredienste en geestelike opbou.

Verleenthede word geleenthede. Só kon lidmate hierdie unieke tyd gebruik om meer kwaliteittyd met hul gesinne deur te bring. Gesinne het saam “huiskerk” gehou met preke en boodskappe op WhatsApp en YouTube. Daar was ook genoeg tyd om na te dink oor wat werklik belangrik is om te doen in die gemeente. Daar was ’n groter behoefte by lidmate om eredienste by te woon toe dit kon voortgaan. Baie naby aan God die Vader gevoel, maar ver van mede-gemeentelede. Sommige gemeentes het selfs ’n toename in offergawes ervaar.

Aan die negatiewe kant: Die Covid-19-inperkingsregulasies het almal tot ’n mindere of meerdere mate negatief geaffekteer. Daar is probeer om eensaamheid, onsekerheid, angs en vrees tydens barmhartigheidsaksies te hanteer. ’n Lamheid en mismoedigheid wou-wou onder ons kom nesskop. Isolasie het ’n groot inpak op lidmate se geesteswelstand gehad, wat soms tot depressie gelei het. Die moraal was laag, veral na die tweede inperking. Lidmate was traag om eredienste weer by te woon uit erge vrees dat hulle dalk blootgestel sou word aan die virus. Sedert Fase 2 van die grendeltyd het minder lidmate die kerk en byeenkomste bygewoon, te bang en versigtig om die nuwe vryheid aan te gryp. Die feit dat eredienste nie kon plaasvind nie, het ons weer bewus gemaak van hóé bevoorreg ons is om wel ons godsdiens vrylik te kan beoefen.

Sterftes van gemeentelede en NHSV lede asook ontsmettings en isolasie was en is ’n realiteit. Die Kerk en die NHSV lede kon nie soos gewoonlik ’n ondersteuningsdiens, troos en bemoediging tydens begrafnisse of tuis lewer nie. Vir baie was dit uiters traumaties, om nie eens tot siens te kon sê nie. Die behoefte aan direkte kontak met kinders, ouers, eggenotes, vriende, ensovoorts, is gekniehalter. Uitreike was beperk en meestal “oppervlakkig”. Die praat, sing, huil en benoudheid agter die maskers was en is steeds swaar. Ons frustrasies en beperkings kon ons egter aanspoor om meer en meer te bid. Meer werkafleggings, werkloosheid, finansiële nood en broodgebrek is die grootste realiteit en nood. Eensame lyding, veral onder bejaardes en enkellopendes, is aan die orde van die dag.

Sommige van die gewone wyses waarop aktiwiteite deur die NHSV gedoen was, is óf nie meer toelaatbaar volgens Covid-19-regulasies nie (soos sosialisering tydens kosfeeste of algemene byeenkomste) óf nie meer bevredigend vir alle lede nie (soos vergaderings tydens byeenkomste op Saterdae). ’n Behoefte om vernuwend te “dink en doen” is geïdentifiseer: Ons moet buite die kassie begin dink.

Fondsinsamelings kon nie plaasvind nie. Daar is ook gevind dat fisiese verkope meer suksesvol is as virtuele verkopings. Daar was ook groot finansiële verliese weens lidmate wat moes verhuis of bloot net nie weer teruggekeer het kerk toe nie.

Vergaderings en byeenkomste kon slegs aan die begin en einde van 2020 plaasvind. Gelukkig kon die meeste NHSV takke jaarvergaderings hou waartydens bestuursverkiesings kon plaasvind; die res het voortgegaan met die huidige bestuur. Plek-plek is wegspring- en afsluitingsfunksies gehou. Dringende sake is Sondag na kerk hanteer. Beplanning vir 2021 is op nuwe maniere gedoen.

Omdat dit vir baie gemeentes ook finansieel ’n moeilike tyd is, was die meeste van die fondsinsamelingsprojekte wat wel plaasgevind het, vir die gemeentes se fondse.

Kosverkope bly maar die grootste bron van inkomste en die waarde van bestellings is opnuut besef. Deurryverkope kon plaasvind, en daar was heelwat bestellings vir gebak of bederfkos.

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Gebruik dit wat tot jou beskikking is. Dink en doen anders en nuut. Deur die genade, liefde en seën van God het ’n “verleentheid” inderdaad ’n “geleentheid” geword. Die NHSV kon steeds ’n seën wees.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Visesekretaris: NHSV Hoofbestuur en predikantsvrou in Gemeente Ermelo-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link