Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (Filippense 4: 4)

Lees Filippense 4

Daar was ’n man wat geweet het dat sy dood naby is. Hy is in die tronk en gaan tereggestel word deur onthoof te word. Agter hom lê ’n moeilike pad. Hy was al verskeie kere in die tronk. Hy is deur mense aangerand en geslaan. Sy lewe is telkens bedreig. Vyf keer is hy die Romeinse straf van 39 houe toegedien. Hy het ook ander lyfstraf gekry en is by geleentheid met klippe gegooi. Drie maal het hy skipbreuk gely en een maal het hy ’n dag en ’n nag op die oop see deurgebring. Hy het bitter hard gewerk en groot ontbering verduur. Hy het nagte sonder slaap deurgegaan. Hy was dikwels sonder kos, honger en dors, en sonder skuiling en bedekking teen die koue.

Die rede vir die marteling en lyding wat hy moes verduur en die teregstelling wat hy in die gesig staar, is nie omdat hy ’n moordenaar of ’n skurk is nie. Dit is omdat hy verkondig dat Jesus Christus die Here is. Voordat hy in Christus geglo het, was sy lewe anders. Hy was ’n suksesvolle, jong man. Hy het van ’n goeie familie afgestam. Hy het geleerdheid gehad. Hy was waarskynlik welvarend. ’n Goeie toekoms het vir hom gewink.

Dis toe hy die opgestane Here Jesus Christus ontmoet en in Hom begin glo het dat alles verander het. Hy het sy rug gedraai op sy suksesvolle lewe, die pad gevat en Klein-Asië met sy voete deurgeloop. Oral waar hy gekom het, het hy verkondig dat Jesus Christus die Here is. Wat het hy daarvoor gekry? Armoede, eensaamheid, mislukking, ontbering, marteling, die dood wat voorlê.

’n Mens sou verwag dat hierdie man, Paulus, swaarmoedig en verbitter sou wees. Hy het immers alles opgeoffer ter wille van Christus. Sou iemand wat soveel ly ter wille van die evangelie nie darem van God iets meer kan verwag nie? Hy behoort in die steek gelaat te voel. Hy weet nie eens of die kerk en die boodskap van Jesus Christus gaan oorleef as hulle wat dit moet verkondig, vervolg word en moet sterf nie. Oor sy lewe hang, menslik gesproke, ’n skadu van lyding en sinloosheid en dood omdat hy in Jesus Christus glo.

Maar die brief wat Paulus aan die Filippense geskryf het, weerspieël ’n totaal ander gees. Daar is nie sprake van moedeloosheid en bitterheid nie. Daar is geen woord van teleurstelling of die gedagte dat hy misluk het of dat die evangelie se toekoms in die weegskaal is nie. Inteendeel. Uit die brief straal vreugde en blydskap en opgewondenheid. Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees (Fil 2: 17-18).

Wat maak dit vir die martelaar moontlik om, menslik gesproke, alles te verloor en te sterf, maar om ten spyte daarvan met vreugde en blydskap te leef? Net die geloof in Jesus Christus en die krag van die gekruisigde en opgestane Here kan onder sulke omstandighede vreugde en blydskap meebring. En vrede wat ’n mens se verstand te bowe gaan.

Paulus was nie ’n onverskrokke held nie. Hy het ook swakheid en aanvegting geken en geveg teen die sonde. Maar deur die geloof in die gekruisigde en opgestane Here Jesus Christus, het hy byna bomenslike krag en entoesiasme en selfversekerdheid gehad om, ten spyte van die martelaarskap, met vreugde en blydskap te leef.

In die vierde eeu het die Christenmartelare Christenmaghebbers geword toe keiser Konstantyn tot die Christendom bekeer is. Hoewel die kerk dan skouspelagtig uitbrei, skatryk word en die mag het om die wêreld polities te regeer, was dit nie goed vir die kerk en die evangelie van Jesus Christus nie. Die kerkgeskiedenis leer: Die bloed van die martelare is die saad wat die kerk reg laat groei. ’n Vervolgde kerk is ’n sterk kerk. Gelowiges wat vervolg word, se geloof en vertroue op God is sterk. Hulle kan ten spyte van die moeilikste omstandighede met vreugde en blydskap leef. In menslike swakheid word God se krag die duidelikste sigbaar. Deur die dood kom die lewe.

Die internasionale organisasie Geopende Deure wat navorsing doen oor vervolgde Christene wêreldwyd en hulle ondersteun, berig dat Christenvervolging toeneem, veral in sogenaamde “mislukte lande”, swak state waar maatskaplike en politieke strukture sodanig ineenstort dat die regering min of geen beheer het nie. Straks dít of in elk geval ’n moeiliker en moeisamer pad van kerkwees wat vir ons voorlê in ons geliefde land…

Mag die geloof van die martelare waaraan ons in hierdie maand rondom Bartolomeusnag aandag gee, tot versterking, krag en ywer dien van ons eie geloof, en bydra tot die vreugde van kerkwees ten spyte van die branding wat waarskynlik vir ons voorlê.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap