Die gelykenisse van Jesus is van die geliefste en mees bestudeerde verhale in die hele wêreld. Hierdie verhale, van die barmhartige Samaritaan tot die verlore seun, het vir meer as twee millennia gevorm hoe ons deernis, vergifnis en geloof verstaan. Maar sê nou maar ons lees al vir eeue hierdie bekende verhale met een oog toe?
Tradisionele interpretasies van die Bybel, wat dikwels deur ’n manlik-gesentreerde perspektief gevorm word, het histories die teenwoordigheid van vroue in hierdie verhale misgekyk of heeltemal geïgnoreer. Wanneer ons vandag die gelykenisse lees, neem ons dikwels aan dat omdat vroue nie in elke verhaal uitdruklik genoem word nie, hulle bloot nie daar was nie. Maar in die antieke wêreld het tekstuele stilte nie historiese afwesigheid beteken nie.
Om die gelykenisse te verstaan en te lees soos Jesus se oorspronklike gehoor dit verstaan het, moet ons erns maak met wat ek in my PhD-tesis ’n unhiding reading noem: ’n manier van lees wat die versteekte stemme, arbeid en teenwoordigheid van vroue wat nog altyd deel van die verhaal was, blootlê.
Die Hompie Kedompie-effek
Om te verstaan hoe ons hierdie versteekte vroue miskyk, dink aan die bekende kinderrympie van Hompie Kedompie. As jy die meeste mense vra wie Hompie Kedompie is, sal hulle dadelik vir jou sê hy is ’n eier. Indien jy hom aanlyn soek, sal jy oneindig baie beelde sien van ’n eierman wat van ’n muur afval.
Maar as jy mooi na die teks van die rympie kyk, sê dit nêrens dat Hompie Kedompie wel ’n eier is nie! Daar is niks in die teks wat eers voorstel dat hy ’n eier is nie, tog stel ons almal hom as een voor. As argeoloë 2 000 jaar van nou af daardie teks sou opgrawe, sou hulle waarskynlik tot die gevolgtrekking kom dat ’n persoon op ’n muur gesit en afgeval het. Hulle sou verkeerd wees, want hulle sou nie ons kultuur, ons taal, of ons daaglikse konteks verstaan en hoe ons verbeelding die gapings invul nie.
Dieselfde dinamika vind plaas wanneer ons vandag die Bybel lees. Jesus het met ’n hoë-konteks-samelewing gepraat, wat beteken dat sy gehoor ’n gedeelde kennis van kultuur, tradisies en samelewingsrolle gehad het. Wanneer Jesus na ’n huis, ’n fees, of ’n brood verwys het, het die gehoor dit nie nodig geag om die betrokke vroue uitdruklik te noem nie; hul gedagtes en verbeelding het outomaties die vroue, dogters en vroulike slawe, wie se werk daardie dinge moontlik gemaak het, ingesluit. Vir die antieke gehoor het die woord huis dikwels letterlik vrou beteken.
Om dit makliker te maak om voor te stel, dink aan die geskiedenis as ’n Hollywood-trefferfilm. Histories het mans die draaiboek geskryf, die aksie geregisseer en vir hulself al die hoofrolle toegeëien. Vroue is na agtergrondrolle verskuif, soos om die stelle te bou of die klere en uitrustings te ontwerp; werk wat absoluut noodsaaklik is vir die film om te bestaan, maar wat weg van die kameras gehou word. ’n Unhiding reading tree op as ’n ingryping in hierdie historiese film, wat verby die manlik geskrewe draaiboek kyk om die vroulike akteurs raak te sien.
In my nuwe boek ondersoek ek ’n reeks gelykenisse en hoe ons met die unhiding-bril nuut na die stories kan kyk. Kom ons sit hierdie nuwe lens aan die werk en kyk na ’n paar van ons gunsteling gelykenisse wat ook in die boek bespreek word.
Die verlore seun se vermiste ma
Die gelykenis van die verlore seun word tradisioneel geïnterpreteer as ’n pragtige verhaal oor ’n vergewensgesinde pa en sy twee seuns. Maar hierdie tradisionele lesing kyk ’n massiewe stuk van die legkaart mis.
Die gelykenis begin met: Daar was ’n man wat twee seuns gehad het (Luk 15: 11, AFR83). Uit die staanspoor word ’n ma se teenwoordigheid verberg, tog kan daar geen seuns wees sonder ten minste een ma wat aan hulle geboorte geskenk het nie. In die antieke Mediterreense kultuur was ’n ma se band met haar seun een van die waardevolste verhoudings wat sy gehad het, aangesien hy haar primêre beskermer in haar oudag sou wees. Daarom sou die jonger seun se voortydige versoek om sy erfporsie te neem, en sy daaropvolgende vertrek, ’n bron van intense onsekerheid en stille angs vir sy ma gewees het.
Verder het moeders in patriargale samelewings dikwels as lewensbelangrike bemiddelaars gedien wat agter die skerms gewerk het om gesinseenheid te handhaaf en konflikte, veral oor erfporsies, tussen vaders en seuns te besleg. Wanneer die seun uiteindelik terugkeer en die pa hom tegemoet hardloop, was dit dalk nie ’n spontane daad van deernis nie. Dit was waarskynlik te danke aan sy vrou se geduldige, onsigbare arbeid van versoening agter die skerms waar sy by haar man gepleit het om hul seun te vergewe.
Wanneer die pa sy dienaars beveel om die vetgemaakte kalf te bring en fees te vier, moet ons onthou dat vroue verantwoordelik was vir die meerderheid van die huishoudelike take. Die vrouens, dogters en vroulike slawe sou die maaltye voorberei het en verseker het dat komplekse reinheidsvoorskrifte nagekom word. Die vreugdevolle verwelkoming van die verlore seun was nie ’n eensame daad deur ’n enkele man nie; dit was ’n gemeenskaplike herstel wat georkestreer is deur die onerkende arbeid van sy ma en die vroue van die huishouding.
Die herbergier se versteekte vrou
Die barmhartige Samaritaan word gevier as ’n radikale herdefiniëring van wat dit beteken om iemand se naaste te wees. Maar die plekke waar hierdie gelykenis afspeel, die gevaarlike pad en die herberg, was ver daarvan om slegs manlike ruimtes te wees. Vroue was gereelde reisigers op die paaie van die Romeinse Ryk. Hulle het ook dikwels alleen gereis en dieselfde gevare van rowers as die beseerde man in die gesig gestaar.
Wanneer die Samaritaan die beseerde man na die herberg bring en die herbergier vra om vir hom te sorg, is dit belangrik om te onthou dat ’n antieke herberg ook ’n huishouding was. Antieke bronne bevestig dat vroue dikwels self herbergiers, bestuurders en deurslaggewende personeel in hierdie instellings was. Die herbergier se vrou, vroulike slawe en genesers sou diegene gewees het wat die beseerde man gebad het, sy wonde met olie en wyn skoongemaak het, en die geld wat die Samaritaan agtergelaat het, bestuur het. Die Samaritaan se deernis is kragtig juis omdat hy ’n professionele netwerk van vroue vertrou om sy missie van genesing voort te sit.
’n Geloof wat niemand verborge laat nie
Waarom maak dit alles vandag vir ons saak?
Om die gelykenisse te ontbloot (unhide) is meer as ’n akademiese oefening. Dit is ’n daad van geregtigheid. Dit daag die historiese raamwerke uit wat vroue uitgesluit het, en bied ’n pad na ’n eerliker, akkurate en regverdige geloof. Wanneer ons fyn kyk, sien ons dat die koninkryk van God nie slegs ’n mansruimte is nie, maar ’n lewendige, gemeenskaplike werklikheid waarin die arbeid, eer en agentskap van vroue absoluut lewensbelangrik is.
Hierdie manier om die Skrif te lees vra van ons om die versteekte karakters in ons eie wêreld te ontdek. Deur vrae te vra soos: Wie het die feesmaal voorberei? of Wie het die brood gebak?, lei ons ons harte op om te vra wie ons in ons eie gemeenskappe miskyk. Dit is ’n praktyk wat blindekolle afbreek en ons uitdaag om die waardigheid van elke individu se bydrae te erken, ongeag hoe verborge dit mag lyk. Ons word geroep om ’n radikaal inklusiewe gemeenskap te bou waar elke persoon gesien word, elke stem gehoor word, en almal as gelykes bymekaar gebring word.
Delf dieper op die YouVersion Bybel-toep
Indien u daarin belangstel om hierdie gelykenisse verder te verken en te leer hoe om ’n unhiding reading in u eie daaglikse lewe te beoefen, nooi ek u uit om by my aan te sluit op die YouVersion Bybel-toep. Ek publiseer tans verskeie vereenvoudigde, toeganklike leesplanne en Bybelstudiegidse gebaseer op my navorsing. U kan hierdie hulpbronne maklik op die toep of aanlyn vind deur bloot na my naam, Charel Daniël du Toit, te soek of deur unhiding women in die soekbalk in te tik. Die Bybelstudies is beskikbaar in beide Engels en Afrikaans.
My boek, Unhiding Women in the Parables: A Study Guide for Groups and Individuals, is aanlyn beskikbaar op Amazon, Barnes & Noble, of Wipf & Stock. U kan ook gerus met my in verbinding tree by drchareldutoit@gmail.com.
(Dr Charel du Toit is ’n navorsingsassosiaat by die Universiteit van Pretoria en woon tans in Tennessee, VSA, waar hy vir CBE (Christians for Biblical Equality) International werk)