Die Hervormde Kerk het in 1922 formeel toegetree tot kinderversorging. Christelike barmhartigheid is ’n wesenskenmerk van die geloofshandelinge van die kerk.
Op 3 Augustus 1922 besluit die Algemene Kerkvergadering om ’n weeshuis op te rig. In Augustus 1923 word die eerste kinders opgeneem in ’n huis wat in Krugersdorp gevestig is. Die oudste was 12 jaar en die jongste twee jaar oud. In 1923 word 17 kinders opgeneem en in 1924 nog sewe kinders. Gou was die huis te klein, en in 1940 word ’n huiskompleks van drie dogtershuise en drie seunshuise met ’n prinsipaalhuis en ’n hospitaalhuis in gebruik geneem. Die Kerk het van die begin af in terme van ’n huis gedink om so aan kinders ’n huis te gee met gewone en normale versorging.
In 1947 het die Kerk ’n bestaande kinderhuis aangekoop. Dit was die Ebenhaezerhuis in Capital Park, Pretoria, wat die naam Andries Hendrik Potgieterhuis kry. Die eerste kinders is op 4 Junie 1947 opgeneem. Daar is ook ’n satelliethuis in Rustenburg, bekend as Huis Prinsloo, gevestig.
Daar is in die vroeë 1980’s begin beplan aan die Albert Herbst-kinderhuis in Middelburg. Die amptelike ingebruikneming van die Kerk se modernste kinderhuis het op 30 April 1988 in Middelburg plaasgevind. Daar is voorsiening gemaak vir tien huise met 12 kinders in elke huis. So ’n huis het bestaan uit ses slaapkamers, ’n sit-/eetkamer, kombuis, ’n personeelwoonstel en baie ontspanningsgeriewe.
Op 27 Februarie 1996 het die Kinderhuisdireksie besluit om die kinderhuisversorging te vervang met pleegsorghuisversorging. Die eerste agt DPS-huise is op 1 Januarie 1997 gevestig.
Kinderversorging is uit nood gebore. In die beginjare is veral weeskinders versorg. Vir lank is verwys na die Weeshuis van die Kerk. Later het die fokus verskuif na kinderversorging. Al hoe meer kinders word verwaarloos en is selfs erg getraumatiseer. Die gedagte van versorging van kinders in ’n huis was deurgaans die uitgangspunt van die Kinderhuisdireksie. Met die vestiging van die Diakonale Pleegsorghuise het die Kerk van weeshuis tot ouerhuis beweeg. So is die Diens van Barmhartigheid ook afgewentel na rings- en gemeentevlak.
(Ds Willem Kok is voorsitter van die direksie van die Kinderhuise en leraar in Gemeente Potchefstroom)

























