Wie sou kon dink dat ons in 2020 die gevoel van ’n lewe in ballingskap sou beleef?
Wat is ’n lewe in ballingskap? Dit is om verwydering te beleef van dit wat aan jou geborgenheid gee – jou mense, noodsaaklike lewensmiddele, gesondheid, die vermoë om vir jouself te sorg… die gevoel van verwydering van God en ja, die ervaring van verlies.
Ons word in ons huise opgesluit en kan nie eens by ons families uitkom nie. Families moet afskeid neem van geliefdes sonder om by hulle te wees en kan selfs nie eens by begrafnisdienste afskeid neem nie. Dus ’n seer tyd, net om te dink wanneer ooit sien jy weer jou mense wat in ander huise, provinsies en lande bly. Die lei tot moed verloor, hooploosheid, depressie, angs en twyfel. Dan maak niks meer sin nie! Sonder ’n skoot is die lande van die wêreld op hul knieë gedwing. Die ekonomie stort in duie.
Mense is honger vir kuier. Hulle mis hul familie en vriende. ’n Mens kan ook net soveel kaste regpak en soveel op jou eie doen. Jy hunker na ander se geselskap en die koffie drink na kerk. Die swart hond onder die stoep hap kort-kort na jou hakskene, en dit is dan dat jy besef die mens is nie ’n eiland nie. Ons mense is bedoel om daar te wees vir mekaar. Om mekaar te ondersteun en te onderskraag. Niks kan ’n situasie so vinnig verander nie as ’n “omgeedrukkie”.
Maar die mens het nog altyd onder moeilike situasie oorleef, al het dit ook hoe swaar gegaan. Na elke oorlog, ramp en pes, tel ’n mens die oorblywende stukke op, skraap dit bymekaar en begin weer van vooraf. Dink maar aan ons voorouers. Nie eens die uitmergelende konsentrasiekampe kon hulle finaal breek nie. Families was uitmekaar geskeur en geweld was aan die orde van die dag.
Net soos die ballinge wat in die vreemde was en ons voorouers met al hul ontberings voel ons weer vasgegrendel en op moedverloor se vlakte. Maar steeds sal ons moet leer om aan God se beloftes vas te hou en vorentoe te beur. Die uitkoms is hier! Die Here self maak vir ons ‘n pad na herstel en heling van ons omstandighede. Ons is steeds verbondskinders! Ons sal ook moet leer dat God van ons egter verootmoediging vra – liefde vir God en ons naaste in navolging van Jesus.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
