Die seëngroet aan die begin en einde van die erediens is nie bloot ’n handeling waarmee die dominee die diens begin en afsluit nie. Die seën van die Here is ’n betekenisvolle element van die erediens wat die dominee met eerbied uitspreek en deur die gemeente met dankbare geloof aangehoor word.

Numeri 6: 22-27 bring besondere perspektiewe na vore ten opsigte van God se seën. Hierdie perspektiewe word duidelik as ’n mens die teks in sy oorspronklike taal (Hebreeus) ontleed.

Die Here is in gesprek met Moses. Hy moet vir Aäron en sy seuns opdrag gee om die volk Israel in God se Naam te seën. Aäron en sy seuns is volgens Eksodus 28: 1 deur die Here as priesters aangestel. Dit is dus die opdrag (en voorreg) van die gesalfde priesters om in die Naam van God hul volk te seën.

Volgens vers 27 moet Aäron-hulle die Naam van die Here op die Israeliete lȇ. God is sy Naam, wat beteken dat Hy self daadwerklik by die seën betrokke is.

Om op te lȇ het die betekenis om iets met onder andere ’n kleed/kombers beskermend te bedek. Die hele volk word dus onder hierdie beskermende seën ingesluit. Hiérdie gedagte sluit aan by die kunstige samestelling van die seënspreuk se drie versreëls: Verse 24, 25 en 26 begin elkeen met die Naam “Jahwe” (die Here). In vers 24 volg dan twee woorde, in vers 25 vier woorde en in vers 26 ses woorde. Twee, vier en ses tel op tot 12, wat na die volk Israel se 12 stamme verwys. Die seën van die Here spoel dus soos ’n tsoenami oor die hele volk om almal te oordek. Niemand is uitgesluit nie.

Nog ’n perspektief is die twee vermeldings van God se aangesig. God se aangesig was vir die Israeliete baie belangrik. As God van hulle af wegkyk, dui dit op sy toorn teenoor sy volk. As Hy na hulle toe kyk, dui dit op God se goedheid en guns.

Om sy aangesig oor hulle te laat skyn, beklemtoon dat God se volle aandag in goedheid op hulle gevestig is. God vergeet hulle nie. As Hy sy aangesig oor hulle verhef, sȇ dit dat Hy hulle liefhet en vir hulle omgee.

Wat verder belangrik is, is die feit dat God se seën nie bloot ’n wens of ’n verwagting is waarop gehoop word nie. Dit is nie iets in die toekoms waarop gewag en voor gebid hoef te word nie. In die seënspreuk waarmee die gemeente gegroet word, is God se seën ’n volle werklikheid. Sy goedheid, sorg, genade en liefde word daar en dan aan die gemeente toegesȇ en geskenk. Daarop kan ’n mens met Amen antwoord: Dit is alles waar en seker, nie eers eendag nie, maar nou in die hede.

Die tragiese is dat Israel se geskiedenis vertel dat hulle God se seën nie waardeer het nie. Ten spyte daarvan dat profete hulle vermaan, gewaarsku en bestraf het, het hulle steeds volhard om ander gode te aanbid deur onder meer aan die Baäldiens van die Kanaäniete en Babiloniërs mee te doen. Die Assiriese (722 vC) en Babiloniese (586 vC) ballingskappe was God se straf oor Israel, die volk van die verbond.

Gelukkig het God nie die werk van sy hande laat vaar nie. Babiloniese ballinge kon, danksy die Perse onder leiding van Kores, in 544 vC, terugkeer na Jerusalem om die stad en tempel, hul land, weer op te bou (Jes 40 en 41).

Op sy tyd het God die wȇreld kom seën deur sy Seun te stuur. Ons het Hom leer ken as Jesus Christus, die Seun van God. Van krip tot kruis en deur die opstanding heen, het Jesus God se seën van sondaarsliefde vir ’n sondige wreld ’n volle werklikheid kom maak. Hy, ons groot Hoëpriester (Heb 4: 14), seën vir tyd en ewigheid.

Van besondere belang is die hemelvaart van Jesus soos deur Lukas beskryf in sy Evangelie: Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem (Luk 24: 50-51).

Die apostel Paulus het die gewoonte gehad om aan die begin en einde van sy briewe die lesers met God se seën te groet. Die volledige en bekendste een is 2 Korintiërs 13: 13: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

In ons Kerk, soos ook by ander kerke, is dit die gebruik dat die dienaar van die Woord aan die begin en einde van die erediens die gemeente groet deur die seën van die Here met uitgestrekte hande “op die gemeente te lȇ”.

Ons Kerk het die gebruik om ’n teologiestudent wat afstudeer het, op aanbeveling van die Kuratorium, beroepbaar te stel. Hierdie proponent word dan, in die erediens, met handoplegging deur aanwesige kollegas, georden en as dienaar van die Woord bevestig. Daarmee ontvang hy/sy die sanksie en voorreg om die seën van die Here met opgehefde hande, in die Naam van die Here, uit te spreek. Predikante doen dit met eerbied en erns terwyl die gemeente dit eerbiedig met dankbare geloof aanhoor.

God se seën is evangelie, dis nóú waar en seker.

Ons lewe word die afgelope tyd gekenmerk deur vele beproewings wat ons land moes trotseer. Die droogte en oorstromings op baie plekke; werkloosheid en armoede wat voortduur; politieke woelinge en gewelddadige opstande by baie dorpe en stede, om ’n paar te noem.

Tans word die wȇreld bedreig deur die lewensverwoestende Covid-19-virus. In ons land het die getalle van persone wat daarmee besmet is kommerwekkend toegeneem. Ons almal leef met die kommer dat dit ons en ons gesinne ook sal tref.

Maar, te midde van al die nood wat ons bedreig, kan ons as Christengelowiges met troos in ons harte leef, want ons Heer en Heiland, Jesus Christus, wat ons so ryklik seën, is immer met ons.

Sing ons dan nie vreugdevol nie: Wat my tref in dood en lewe; watter teenspoed op my wag, Jesus sal my nooit begewe – is ek swak, by Hom is krag. Niks wat ek op aarde ly nie kan my van sy liefde skei nie: Hoogte, diepte, vreugde, rou – niks ontruk my aan Gods trou! (Ges 573: 3).

In Jesaja 43: 2 belowe die Here aan sy volk wat in groot nood verkeer: As jy deur water moet gaan, is Ek by jou… Let wel, die Here belowe nie dat hulle die water gespaar sal bly nie, maar dat Hy saam met hulle daardeur sal gaan. Juis dit is ons troos: Te midde van die krisis wat ons tans beleef, is ons nie sonder die teenwoordigheid en bystand van die almagtige God nie. By Hom is ons veilig vir tyd en ewigheid.

God se seën verskoon ons egter nie as ons ons verantwoordelikhede nalaat nie. Ons kan nie agteroor sit en kyk wat gebeur nie. Ons moet sorg dat ons alle maatreels sorgvuldig nakom, en veilig, skoon en verantwoordelik lewe.

af
af
Deel met behulp van
Copy link