DIE SKRIFBESKOUING VAN KARL BARTH[i]

Prof FJ (Frans) van Zyl

(1913-2008)

2.1.  Inleidend

Karl Barth gaan in sy Skrifbeskouing uit van die grondslag dat ons die Woord van God in sy drie gestaltes leer ken: die geopenbaarde Woord van God [Jesus Christus], die geskrewe Woord van God en die verkondigde Woord van God.

In hierdie bydrae gaan dit om die tweede gestalte van Gods Woord, die geskrewe Woord, die Heilige Skrif. Daar moet dadelik bygevoeg word dat ons nie een van hierdie gestaltes los van die ander kan verstaan nie. Ons kan wel onderskei, maar nooit skei sonder om in growwe dwalinge te verval nie. In hierdie drievoudige gestalte is die een, ewige Woord van God gegee, en moet ons dit probeer verstaan.

Die eerste gestalte van die Woord ken ons net indirek uit die Skrif en in die verkondiging. Sover die verkondiging op die openbaringsgetuienis van die Skrif rus, en gehoorsame herhaling van die Bybelse getuienis is, is dit nie minder Woord van God as die Bybel self nie. Sover die Bybel werklik van die Openbaring getuig, is hy nie minder Gods Woord as die Openbaring self nie. Die verkondiging van die Kerk rus dus op die Skrif, en die Skrif weer op die openbaring.

2.2.  Openbaring

In die gebeurtenis van die Openbaring gaan dit om Jesus Christus. Die Woord het vlees van ons vlees en bloed van ons bloed geword. Sy heerlikheid is gesien, hier in die diepte van ons situasie. Dit het midde-in die menslike geskiedenis gebeur. In die Bybel gaan dit om die menslike poging om die Woord van God in bepaalde menslike situasies in menslike gedagtes en woorde te herhaal en weer te gee. Hierdie gebeurtenis van die Openbaring, hierdie “God met ons”, het as las op die Bybelse getuies gekom en moet opnuut deur die kerk uitgeroep word as die dringendste wat elke mens kan en moet hoor.

Die kerk vind in die Heilige Skrif ’n grootheid wat teenoor hom staan met normatiewe krag. Die Heilige Skrif is Gods Woord aan en vir die kerk. Deur die Heilige Skrif word die kerk tot sy verkondiging opgeroep, gemagtig en gelei. Wat in die Kerkhervorming gebeur het, sê Barth, is dit: Die kerk het raakgesien dat hy Christus nie immanent (soos in die Roomse leer) in homself besit nie, maar dat die kerk Christus vind in die Woord wat van buite na hom toe kom.

2.3.  Kanon

Ons kom dan vanself tot Barth se beskouing van die kanon. Op die vraag waarom juis die geskrifte wat saamgevat is in die Ou en Nuwe Testament as reël van die waarheid en kanon van die kerk gestel is, antwoord Barth eenvoudig, omdat die Bybel sigself tot kanon maak. Die Bybel is kanon, omdat die Bybel dit is. Dit kan alleen as ’n feit gekonstateer word. Dit is geleë in die inhoud van die Bybel, naamlik die profeties-apostoliese woord, getuienis en prediking van Jesus Christus. Waar die kerk hierdie woorde hoor, daar het die kerk ’n gebiedende en laaste woord gehoor, ’n woord wat hy met geen ander kan verwissel of op gelyke vlak stel nie.

Barth meen dat ons met die erkenning van die Skrif in en saam met die kerk sê dat dit nie ons menslike saak kan wees om die een of ander geskrif as Heilige Skrif, as getuienis van God se openbaring, te bepaal en uit te kies nie. By die aanname daarvan gaan dit om die ontdekking en erkenning van wat reeds bestaan. Ons kan van Gods Woord geen enkele woordjie spreek nie, as Hy dit nie self tot ons spreek nie. Maar, sê Barth, ons hoor van daardie antwoord is menslik en onderworpe aan die moontlikheid om te fouteer. Daarom was daar ook altyd ’n engere en wyere opvatting van die kanon. Die vasstelling van die kanon staan vir Barth dan ook gelyk aan die vasstelling van ’n dogma, in die betreklikheid van ’n menslike erkenning van die waarheid deur God aan die mens geopenbaar. Hy wys op die lang geskiedenis wat agter die vaslegging van die kanon lê, en kom tot die slotsom dat die konkrete gestalte van die kanon nie absoluut kan wees nie, maar net ’n hoogs relatiewe afgeslotenheid kan wees.

Dit beteken nie dat Barth goedkeuring daaraan verleen om uit geskrifte buite die erkende kanon te preek nie. Hy beklemtoon dit nadruklik dat die kerk in die Bybel alleen sy lewe het, dat die Skrif vir die kerk normerende openbaringsgetuienis is, dat die trou van die kerk aan God geleë is in sy trou aan hierdie Boek. Wat die kerk as kanon erken, is genoeg vir tyd en ewigheid. Geen enkeling kan enige ander geskrif as Heilige Skrif bepaal nie. As dit sou gebeur, moet dit die handeling van die kerk as geheel wees. Wat die kerk as Heilige Skrif verklaar het, lees ons in die verwagting dat dit ook vir ons Woord van God gaan word.

2.4.  Die Bybel is menslike getuienis

Die Bybel is die menslike getuienis van die Openbaring. Op sigself is die Bybel dan nie Woord van God nie, maar moet dit altyd weer word. Deurdat die Bybel vir ons Openbaring word, is dit die Woord van God. Ons het die Woord van God nie anders as in die menslike woorde van die Bybelgetuies nie. Wanneer ons met die Bybel te doen het, het ons met hierdie medium, met hierdie menslike woorde te doen, wat op sigself nie die Openbaring is nie, maar van die Openbaring getuig. Dit is deur en deur menslike spreke waardeur God self spreek. Die mens kan met sy getuienis die Woord van God net dien.

Getuig beteken om na ’n ander heen te wys. Getuienis is diens aan hierdie Andere. In hierdie diens wys die Bybelse getuies na Christus. As ons hulle reg wil verstaan, moet ons hulle as getuies, as wysende na die Andere, verstaan. Nie terwille van hulself, ook nie om hul diepste innerlike besit of nood nie, maar opgeroep deur die Andere, praat en skryf hulle.

Die eenheid van die Bybel is daarin geleë dat die inhoud die getuienis van die Openbaring is. Die enigste werklike verskil tussen die Ou en Nuwe Testament, is dat die Ou Testament van die komende en die Nuwe Testament van die gekome Christus getuig. Daar is in die Bybel ook die onderskeid tussen die persoonlikhede van die bekende en onbekende skrywers. Jesaja is nie Prediker nie, en Paulus nie Jakobus nie. Maar die verskil en onderskeid van die verskillende persoonlikhede word ook weer beperk en betreklik gemaak deur die eenheid wat deur almal gesê word. In die bestaan van hierdie besondere mense word Christus vir ons werklikheid. In die uitoefening van hul amp as eerste getuies, is hierdie mense heilige mense en samestellers van die Heilige Skrif.

Barth huldig geen inspirasie van Bybelskrywers nie. Beter gesê, Barth verwerp alle bestaande inspirasieleer, die dualistiese, organiese sowel as die meganiese inspirasieleer. Uit vrees vir die Neo-Protestantse dwaling wat bou op die mens, sy gawes en vergoddeliking van die wedergebore mens, wys Barth alle geïnspireerdheid van die Bybelskrywers af. Die getuies is wat hulle is, nie kragtens hul begaafdheid as denkers, religieuse persoonlikhede of morele helde nie, maar kragtens wat hulle sê. Barth is ook teen alle geïnspireerdheid van die Bybel wat die Bybel as heilige objek, as afgod tussen God en mens sou stel.

Die Woord van God ontmoet ons in hierdie vorm, en afgesien daarvan, is daar vir ons geen Woord van God nie. Ons kan by die vraag na die Openbaring ons nie van die teks losmaak nie. Barth beklemtoon dat die menslike menslik bly, sonder om goddelik te word. Daar bestaan geen eenwording tus­sen God en die menslikheid van die profete en apostels nie. As Woord van God is die Heilige Skrif nie net goddelik, of net menslik, of ’n mengsel van God en mens nie. Die Heilige Skrif is soos Jesus Christus: ware God en ware mens. Die Heilige Skrif is getuienis van die Openbaring wat self Openbaring is en tegelykertyd ’n historiese literêre dokument van ’n bepaalde mensheid. Die mense wat ons hier as getuies van die Openbaring hoor spreek, spreek as feilbare en fouterende mense soos ons. Daarom kan ’n mens met Paulus en Jakobus in debat gaan. ’n Mens moet erken dat jy met sekere dele van die Bybel niks kan uitvoer nie. ’n Mens kan jou aan sekere dele van die Bybel erg. Dis ook noodsaaklik dat ’n mens die Bybel histories moet lees, verstaan en uitlê. Hy is en bly menslike woord en moet as sodanig ernstig geneem, gelees en verstaan word.

Die Bybel is dus ’n menslike boek soos alle ander boeke. Dit word vir ons Woord van God deurdat God deur middel van die menslike woord ons aanspreek. Is Barth miskien hier tog dualisties in sy denke, naamlik dat ons in die Bybel mensewoord en Gods Woord het? Hy verskil van die dualisme hierin, dat dit buite die mag en moontlikheid van die mens lê om sekere dele as mensewoord en ander dele as Gods Woord aan te dui. Die heie Bybel is mensewoord, maar in die mensewoord ook Gods Woord deur die goddelike genadedaad wat dit vir die mens Woord van God laat word.

2.5.  God as handelende subjek

Barth lê veral baie klem daarop dat dit God self is wat die han­delende subjek in sy Woord is. Hy is vrye subjek. Hy is nie aan die Woord gebonde nie, maar die Woord aan Hom. God is die Heer van sy Woord. Hy kan dit gebruik of nie gebruik nie, Hy kan dit so of ook anders gebruik. Hierdie persoonlikheid van die Woord van God is juis die hindernis wat opgewerp word om te verhinder dat van die Woord van die Skrif ’n menslike sisteem gemaak word. Dit noem Barth die vryheid van die Woord van God, en Gods trou aan die kerk bestaan hierin dat hy van sy vryheid gebruik maak om in sy Woord self tot ons te kom, en dat Hy Hom hierdie vryheid voorbehou om dit altyd weer te doen.

Ons ken Gods Woord nie anders as ’n deur God aan ons gerigte woord nie. Geabstraheer van God, is daar geen Woord van God nie. God se Woord bestaan vir ons alleen daarin dat Hy ons aanspreek. Daar is egter geen noodwendigheid waarom God ons sou aanspreek nie. Dit kon ook anders gewees het. God het nie nodig gehad om tot ons te spreek nie. Dat God sy Woord tot ons spreek, is alleen genade wat God in volkome vryheid vir ons aanbied.

Waar die Woord van God aan die mens geopenbaar word en dit geglo word, kom die Heilige Gees ter sprake. Dat die Woord van God tot hierdie en daardie mens spreek en hulle vir die Woord van God oop is, is die werk van die Heilige Gees. Dit behoort tot die wese van die Woord van God dat dit verneembaar is. Die mens kan die Woord van God hoor. Is daar in die mens ’n aanknopingspunt vir die Woord van God? Barth verwerp so ’n moontlikheid. In die geloof is die mens in staat om die Woord van God te verneem. Die herstelde beeld van God deur Christus, beteken dat die mens die Woord van God kan hoor. Die Heer wat die Woord gee, is ook die Heer wat geloof gee. Die Woord van God kan alleen deur die Heilige Gees gehoor en geglo word.

2.6.  Slot

In die Bybel het ons menslike getuienis van die Openbaring. In sover dit die getuienis van die Openbaring is, is dit Gods Woord. Die klem val op die woord wat hulle gespreek het, en die outoriteit van daardie woord is geleë in die saak waarna daardie woord heenwys. Daardie woord neem God nou in sy hand om ons daardeur aan te spreek. Barth verwerp alle geïnspireerdheid van die Bybelskrywers, in teenstelling met die neo-Calvinistiese stand­punt wat eers praat van die inspirasie van die Bybelskrywers, en daarna, as tweede aksie van die werk van die Heilige Gees, van Skrifinspirasie.

Iemand het die Barthiaanse teologie gekarakteriseer as die uitwerking van die enkele sinnetjie: Uit die geloof lewe, beteken genade. Dit is ook van toepassing op Barth se Skrifbeskouing. Die geheel draai om drie woorde: God, genade, geloof. Dis alleen genade dat ons deur die geloof God in die Skrif kan ken. God is vir Barth die onbekende God, ook in die Skrif. Dis ’n negatiewe uitspraak, maar gelaai met positiwiteit: Ons ken God nie, maar God ken ons.

Die Bybel is nie mensegedagtes oor God nie, maar God se gedagtes oor die mens. Die inhoud van die Bybel, sê Barth, is God. Oor die inhoud van hierdie Inhoud kan ons alleen maar stamel. Hy is meer, groter en hoër as die hoogste en skoonste waarvan ons kan dink of droom. Van hierdie God spreek die Bybel, en in hierdie Bybel is die lewenskrag van die kerk. Ons trou aan God is geleë in ons trou aan hierdie Boek.

2.7.  Literatuurverwysings

Barth, K., 1925, Das Wort Gottes und die Theologie, München.

Barth, K., 1930, ‘Offenbarung, Kirche, Theologie‘, Theologische Existenz Heute No. 9 (1930).

Barth, K., 1934, ‘Der Dienst am Wort Gottes‘, Theologische Existenz Heute No. 13 (1934).

Barth, K., 1939, Kirchliche Dogmatik 1/1, Evangelischer Verlag,  Zollikon Zürich.

Barth, K., 1939, Kirchliche Dogmatik 1/2, Evangelischer Verlag,  Zollikon Zürich.

Du Preez, A.B., 1932, ‘Die Skrifbeskouing van Karl Barth’, Onder Eigen Vaandel VII/3, Wageningen.

Haitjema, Th. L., 1933, ‘Het Woord Gods en de Bybel’, Onder eigen vaandel VIII/3, Wageningen.

Eindnota

[i] Hierdie hoofstuk word vanweë sy historiese waarde geplaas. Dit is ’n verkorte en geredigeerde weergawe van die heel eerste artikel wat ’n Hervormde teoloog oor Skrifbeskouing gepubliseer het. Frans van Zyl was 31 jaar oud en predikant van Gemeente Standerton toe hierdie artikel in die HTS Teologiese Studies verskyn het (te vind by https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/3320/7011). In die volgende hoofstuk tree Gert Malan in gesprek met die artikel, asook ander Hervormde teoloë. Die volledige verwysing vir die oorspronklike artikel is soos volg: Van Zyl, F.J., 1944, ‘Die Skrifbeskouing van Karl Barth’, HTS Teologiese Studies Vol. 1 No. 3 (1944), bl. 124-135).