In 1990 het argeoloë in ’n eerste-eeuse graf in Jerusalem ’n ossuarium ontdek met die naam Kajafas wat daarop gegraveer is. Die enigste verwysing na Kajafas in Bybelse sowel as buite-Bybelse rekords is Kajafas, die hoëpriester van die tempel in Jerusalem toe Jesus gekruisig is. In dié ossuarium is twee ysterspykers gevind wat die filmmaker Simcha Jacobovici in 2011 beweer het, is die spykers wat tydens Jesus se kruisiging gebruik is.
Wetenskaplike toetse
Hierdie spykers is intussen aan intensiewe chemiese en mikroskopiese toetse onderwerp. Die uitslag daarvan het getoon dat daar tekens is van been- en ou houtfragmente. Die moontlikheid bestaan dat dit menslike been is wat aan die spykers gevind is.
Navorsers aan die Universiteit van Tel Aviv het voorts vasgestel dat die roes en die vorm van die spykers ooreenstem met dié van die spykers wat die Romeine tydens kruisigings gebruik het.

Foto 1
Die twee spykers wat volgens Simcha Jacobovici met die kruisiging van Jesus verband hou (bron: S Jacobovici).

Foto 2
Die Kajafas-ossuarium wat in ’n grafkompleks suid van Jerusalem ontdek is. Dit dateer uit die 1ste eeu nC en word tans in die Israelse Museum bewaar (bron: Israelse Museum).
Wetenskaplikes het nog nie bevind dat hierdie vonds die spykers is waarmee Jesus gekruisig is soos wat Jacobovici beweer nie. Hulle het wel verklaar dat dié spykers moontlik tydens ’n kruisiging gebruik kon wees.
Dit is steeds onseker hoe die spykers in die ossuarium van Kajafas beland het. ’n Moontlikheid is dat die spykers as ’n reliek daarin geplaas is om te dien as herinnering dat Kajafas by Jesus se verhoor en kruisiging betrokke was. ’n Ander teorie is dat dié spykers waarskynlik die spykers kan wees wat tydens Jesus se kruisiging gebruik is en op aandrang van iemand in die tempeladministrasie of iemand na aan Kajafas as aandenking in die ossuarium geplaas is. Beide teorieë waarsku dat ’n mens nou versigtig te werk moet gaan.
Indien die graf en die inhoud daarvan wel dié van die hoëpriester Kajafas is soos wat party kundiges vermoed, is hierdie ontdekking beslis van groot belang.
Die moontlikheid dat die inhoud van die graf ’n moderne vervalsing is, is byna onmoontlik. Die Israelse Raad vir Oudhede se eie personeel het die inhoud van die graf self ondersoek, gedokumenteer en leeggemaak.
Die graf het wél in die eerste millennium gedurende die Bisantynse tyd onder Islamitiese grafstropers deurgeloop, maar dit het nie tot ’n vervalsing van die inhoud gelei nie. Grafstropers is nie daarop uit om die inhoud van grafte te vervals nie, maar net om dit te steel.
Die storie van die spykers
Jacobovici vertel ’n interessante weergawe oor hoe die spykers in Kajafas se graf beland het. Sy weergawe is op twee tradisies gebaseer.
Die een tradisie kom uit ’n ou Siriese apokriewe geskrif van die 6de eeu nC, bekend is as Die Evangelie oor die Kinderjare van die Verlosser. Dié geskrif was nie wyd bekend nie en is net in die kringe van ’n Oosterse Christelike Nestoriaanse-sekte gebruik. Dit is in Arabies en volgens oorlewering deur Kajafas-self geskryf.
Volgens hierdie apokriewe geskrif het Kajafas daarmee geworstel dat hy toestemming gegee het dat Jesus gekruisig moes word. Ná Jesus se opstanding uit die dood het hy hom tot die Joods-Christelike beweging bekeer. Hy het nie geglo dat Jesus God is nie, maar slegs aanvaar dat Jesus wél die Messias is wat die profete gesê het sou kom.
Ná sy dood het Kajafas se familie gevra dat die spykers waarmee Jesus gekruisig is saam met sy oorskot begrawe moes word. Hulle het geglo dat dié spykers oor magiese helingskragte beskik wat aan Kajafas Goddelike beskerming sou gee vir die lewe ná die dood.
Die ander tradisie waarna Jacobovici verwys het, is ’n reël in die Misjna wat die Kajafas-familie gevolg het.
Die Misjna is reëls wat deur die Joodse godsdiensleiers opgestel is ten einde die Jode te help om in tye van vervolging standvastig te bly. Hulle het dié reëls gememoriseer. Dit het oor ’n lang tydperk, van 536 vC tot 70 nC, ontwikkel. Aanvanklik het die reëls net mondelings bestaan, maar is later in 217 nC. opgeteken.
Die reël wat die Kajafas-familie glo sou oorreed het om die spykers aan te vra waarmee Jesus gekruisig is, het betrekking op die goed wat mense toegelaat is om op ’n sabbatdag by hulle te dra. Sabbatsreël 6: 10 bepaal: ’n Mens mag met ’n sprinkaan se eier, ’n jakkals se tand of met ’n spyker waarmee iemand gekruisig is, uitgaan as hy dink dat dit heling kan bring.
Jacobovici het dié reël ongelukkig verkeerd verstaan. Die konteks waarin die reël staan, sê baie meer. Baie Jode het destyds sekere goed as ’n kuur met hulle saamgedra en geglo dat dit vir een of ander kwaal kon help. Die persepsie het by baie mense bestaan dat sprinkaaneiers vir hul ore kon help, ’n jakkals se tand kon slaaploosheid behandel en ’n spyker wat tydens kruisigings gebruik is kon vir ’n doringsteek of spinnekopbyt help.
Die rabbi’s het geweet dat mense hierdie en ander goed as ’n kuur met hulle saamgedra het, en sulke gedrag is nooit goedgekeur nie. Hulle het die Jode ontmoedig om enigiets as ’n kuur saam te dra en dit as heidense gedrag afgemaak. Die mense se gedrag is tog verdra.
Die bedoeling van die Sabbatsbepaling was dat mense nie op gewone dae aangemoedig moet word om enige item as ’n kuur saam te dra nie, wát nog te sê op Sabbatsdae. So iets pas by die bygelowige gedrag van die Amoritiese heidene en nie by die volk van die Here nie.
Die gebruik van die spykers
Die spykers is 8 cm in lengte. Tydens die bekendstelling van artefakte is die gebruik normaalweg om ’n meetinstrument saam met die item te vertoon sodat die artefak se grootte gemeet of met iets vergelyk kan word. In hierdie geval het Jacobovici dit ongelukkig nie gedoen nie.
’n Ander probleem is dat die lengte van die spykers ook nie met ander spykers wat tydens kruisigings gebruik is, vergelyk kan word nie. Tydens al die opgrawings wat al in die omgewing van Jerusalem gedoen is, is daar slegs één geval ontdek van iemand wat gekruisig is.
In 1968 is die voet van ’n man in ’n graf by Givhat ha-Mivtar, ’n voorstad van Jerusalem gekry. Hierdie was die voet van ’n man wat gekruisig is. Die spyker wat gebruik is om hom aan die kruis vas te spyker, was nog steeds in die voet soos dit deur sy enkel gedryf is.
In daardie geval was die lengte van die spyker 11,5 cm, ongeveer 3 cm langer as dié wat Jacobovici vertoon het. Volgens kenners sou Jacobovici se spykers beslis te kort gewees het om enige persoon mee te kruisig of selfs die gewig van ’n gekruisigde te dra.
Zvi Greenhut, onder wie se toesig die graf van Kajafas ondersoek en gedokumenteer is, verwys wél in sy verslag na twee spykers wat daar gekry is. Een is in die beenderekissie van Kajafas gekry. Die ander is op die vloer in die vierde holte (kokh IV) van die grafkamer gekry. Sy interpretasie is dat dié spykers moontlik gebruik is om die name op die beenderekissies in die graf uit te krap en dat dit nie gebruik is om iemand mee te kruisig nie.
Ongelukkig bestaan daar geen foto’s van die spykers wat in 1990 gekry is om dit met Jacobovici se spykers te vergelyk nie. Die feit dat die spykers nie gefotografeer of minstens ’n skets van gemaak is nie, en ook in ’n ongemerkte houer by die Universiteit van Tel Aviv gehou is, versterk die indruk dat dié spykers nie belangrik geag is nie. Daar bestaan geen aanduiding dat dié spykers dus wel uit Kajafas se graf gekom het nie.
Dr Joe Zias wat ten tyde van die ontdekking van Kajafas se graf die kurator van Israel se Oudhede was, het bevestig dat hy geweet het van die spykers wat in die graf ontdek is. Maar hy ontken dat die spykers wat Jacobovici gewys het die spykers is wat in Kajafas se graf gekry is.
In Mei 2011 het Greenhut verklaar dat die spykers oorspronklik deel van prof Nicu Haas se privaatversameling was wat hy in die Hebreeuse Universiteit Hadassah se Mediese Sentrum gehou het. Ná sy dood in 1987 het sy vrou dit aan Israel se Departement van Oudhede en Museums geskenk wat dit in die sorg van die Universiteit van Tel Aviv gelaat het.
’n Fantasievlug
Jacobovici se getuienis oor die spykers is al deur vele navorsers met agterdog bejeën. Hoewel hy ’n baie belese man is, in Israel gebore is en ’n bekroonde Kanadese filmmaker is, is hy nie ’n argeoloog nie.
Geleerdes se kritiek op Jacobovici se spykers spruit daarop dat sy aanspraak oor geen bewyse beskik nie en dat sy hipotese slegs ’n verbeeldingsvlug is. Dr Gordon Franz se kommentaar is dat Jacobovici se aanname eintlik ’n slegte poging is om Kajafas van enige verantwoordelikheid vir die dood van Jesus vry te skeld.
Ongelukkig glo en vertrou televisiekykers gewoonlik die navorsing wat in dokumentêre programme aangebied word. In hierdie geval is dit net weereens ’n bewys dat gelowiges krities en versigtig moet wees wat hulle sien of hoor, en nie sommer alles goedsmoeds moet glo nie.