Die meeste van ons het van kindsbeen af ons verbeelding met behulp van rolspel uitgedruk. Sommige kan nog onthou hoe hulle op ’n skopfiets sou jaag terwyl ’n polisiebeampte hulle op hul eie een agternasit! Vir die meeste van ons dames is ons gunsteling herinnering seker dié van ons met ons ma se bruidsluier. Elke dag was ’n geleentheid om ’n nuwe karakter uit te beeld of ’n nuwe beroep uit te leef. Maar vir die Truscott-gesin het hierdie rolspel dikwels dieselfde gelyk: klein Lané was altyd die predikant!
En so het hierdie droom Lané Truscott vergesel waar sy haarself ook al bevind. Maar vir jare het die waar van hierdie droom so bietjie anders gelyk. Aanvanklik was dié waar deur haar pa wat in die weermag gedien het, geïnspireer en het haar besluit uiteindelik op kapelaanskap berus. Tans is sy ’n vyfde jaar teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria en lidmaat van Gemeente Swartkop. En só word haar aanvanklike waar aangepas. Haar betrokkenheid by dié gemeente het haar tot die beslissing gebring dat sy haar passie as gemeentepredikant wil uitleef. Dit is ook in die gemeente waar sy haar belydenis van geloof afgelê het en eendag moontlik haar passie as predikant wil uitleef. Maar Lané is opgewonde om, met die oog op haar praktiese jaar in 2027 en ná afloop van haar studies, by enige gemeente verwelkom te word. Solank dit is waar die Here haar lei.
Miskien lei hierdie avontuur haar ook weer terug na die Fakulteit van Teologie en Religie (UP). Ná soveel jare se studies asook die huislike atmosfeer wat sy by die fakulteit beleef, wil sy nie die akademiese deur heeltemal agter haar toe te maak nie. Sy oorweeg daarom die moontlikheid om in die toekoms haar doktorsgraad in Praktiese Teologie aan te pak, met die fokus op ’n saak wat baie na aan haar hart lê: bejaardesorg! Sy vertel dat daar soveel fokus geplaas word op jeugbediening dat bejaardesorg soms in die skadu daarvan leef. Sy wil daarom haar gawes en vaardighede tot die geestelike versorging van bejaardes aanwend.
Die Kerk is ook dankbaar dat haar avontuur haar na die die Blitsflits gelei het waar sy bydra tot die sigbaarheid van die Kerk. Sy reflekteer oor dié bydra tot Kerklike Kommunikasie en vertel dat daar ’n nuwe vlam in die Kerk is. En ons die jongmense, is deel daarvan. Dankie dat julle ook na ons luister. Hierdie spasie wat geskep word, gee aan jonger studente die geleentheid om die Blitspos in ’n videogreepformaat met ’n vars aanslag aan te bied, sê sy.
Dit is duidelik dat die waar nie so belangrik is nie, want die hart van die saak bly dieselfde: om met mense te werk en die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Die Kerk is daarom opgewonde om jong teologiestudente te huisves en op te lei wat nie net ’n verskil in hul gemeente wil maak nie, maar ook in die samelewing.