Laas week lê ek op die naat van my rug onder ’n wildevy in die wildtuin. Ek kyk hoe die blare van die ou reus dans in die wind. Die skaduwee verander die groene van die blare met elke beweging. Ek hoor hoe die blare saggies ritsel as hulle teen mekaar skuur. Die wind suis soos dit deur die takke beweeg.
Deur die blare in die blou lug sweef ’n arend verby… baie hoog. Grasieus verander hy van rigting deur net sy stertvere anders te sprei en sy lyf te kantel. Sonder ’n enkele vlerkklap bly hy moeiteloos sweef op die windstrome.
Onder teen die rivieroewer stoei die rooibokramme, en as die windjie opkom, dra dit die geluid van hul blawwe en blase tot by my ore.
Dit tref my weer eens: Die wind het soveel krag en tog is dit sélf onsigbaar! Dis die uitwerking van die wind wat dit sienbaar, hoorbaar en voelbaar maak. Verder tref dit my dat dit juis deur ’n “verbygaande” aandwind was dat die Here Homself aan Elia openbaar het. Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak (1 Kon 19: 12).
Net soos die wind self wat jy nie kan sien nie, hoef jy nie die Here self te sien nie. Hy moet sigbaar wees deur jou! Jy moet die boom wees wat die wind toelaat om jou in beweging te bring – deur saam met sy ritme te beweeg en ’n lafenis van koelte vir ander te wees en hulle te beskerm met jou lower en takke. Ander sal raaksien dat dit die Here se bries is wat jou bewegings bepaal.
Jy kan die arend wees wat net sy vlerkte oopmaak en sweef op die perfekte lugstrome – die bane wat reeds bestaan en wat jy net kan volg. Wees ’n inspirasie vir ander, ’n toonbeeld van krag en selfvertroue. Jy kan sonder veel inspanning ander op jou vlerkte dra omdat jy gly waar die Gees jou dra!
Jy kan die stem wees wat die klank dra van lofsange, en gebede van bemoediging en vertroosting vir elkeen wat daarna smag. Jou klanke word ver bo ons begrip gedra deur die Heilige Gees, tot aan die troon van God.
God werk deur jou: Hy is onder jou vlerke vir krag; tussen jou woorde vir wysheid; in jou gedagtes vir kalmte. En ander sien Hom so deur jou optrede!
Baie mense vra juis vandag: Waar is God dan in hierdie tye van wêreldkrisisse en onsekerheid? Hy is nié weg nie… Nes die onsigbare wind is hy hiér! Maar waar is die arende wat moet opstyg, waar is die bome wie se takke moet buig en waar is die bokke wat na mekaar moet roep?
Voel dit nie dalk windstil omdat ek en jy wegkruip, bang is, of verleer het hoe om die wonder van God se Gees te gebruik nie? Is ons swerwers sonder rigting of soekers wat nooit vind? Nee, eindelik moet ons almal God se kinders van die wind wees…
NHSV Streeksvoorsitter Hoëveldstreek en predikantsvrou Gemeente Secunda
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)