Saterdag 7 Maart – Ek glo, help my ongeloof

Markus 9: 24

Hierdie toneel is roerend: Jesus kom van die berg af en loop in ’n menigte mense vas. Die dissipels is moedeloos, hulle het probeer om die kind van ’n bose gees te bevry, maar hulle het gefaal. Die pa, desperaat, wend hom tot Jesus en sê: As U iets kan doen, help ons! Jesus antwoord: Alles is moontlik vir die een wat glo. En dan kom daardie eerlike, rou gebed uit die pa se mond: Ek glo, help my ongeloof!

Wat ’n eerlike belydenis. Hy probeer nie geloof voorskyn wat hy nie het nie. Hy maak nie asof hy sterk is nie. Hy bring net sy stukkie geloof, klein, huiwerend, maar opreg en bied dit aan Jesus. En dít is genoeg.

Hierdie gebed word een van die mooiste in die hele Nuwe Testament. Want dit weerspieël ons eie werklikheid. Wie van ons het nie al geworstel met twyfel nie? Wie van ons het nie al gebid terwyl ons terselfdertyd gewonder het of God gaan antwoord nie? Hierdie pa se gebed sê: Jy hoef nie altyd geloof sonder enige skadu van twyfel te hê nie. Jy moet net bereid wees om dit wat jy wel het aan God te gee en te vra dat Hy die res aanvul.

Dis goeie nuus. Jesus doen nie ’n geloofsoudit nie. Hy kyk nie eers of jou geloof genoeg is om Hom in beweging te bring nie. Hy reageer nie op die volmaaktheid van jou vertroue nie, maar op die egtheid daarvan. Dis nie die grootte van jou geloof wat saak maak nie, dis die objek daarvan.

In Lydenstyd is jy dalk vol vrae, vol huiwering, vol onduidelikheid. Maar bring daardie vrae na Jesus toe. Bid soos daardie pa: Ek glo, help my ongeloof. Dis ’n gebed wat Jesus hoor… en eer.

Gebed

Here, ek het nie altyd ’n sterk geloof nie. Soms is dit ’n fluistering, soms net ’n sug. Maar ek bring dit vir U. Vul aan wat by my ontbreek. Ek glo, help my ongeloof. Amen.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

Sondag 15 Februarie – Wag op die Here

Psalm 130 In ons verhouding met God beleef ons soms ongeduld. Veral wanneer ons wag op die verhoring van ons gebede. Ons wag dalk al so lank! Waarop en hoe wag jy? Abram en Sara het gewag om ’n kind te kry, die volk wag vir bevryding uit Egipte. Ons wag soms verkeerd....

read more

Saterdag 14 Februarie – Dit gaan goed met die mens

Psalm 1 Vir bykans alles in die lewe is daar riglyne, van koekbak tot die hoeveelhede kos vir jou hond. Psalm 1 bied vir ons riglyne vir die lewe. Almal wil gelukkig wees en vrede ervaar. Hoe om hierdie geluk te bereik, word in die Psalm aan die hand van twee groepe...

read more