Matteus 8: 5-13
Ons lees in die teks vir vandag dat daar ’n Romeinse offisier was en dat sy Joodse dienaar siek geword het. Van hierdie Romeinse offisier kan ons ’n paar dinge sê:
Hy kon as ’n Romeinse burger met minagting neergekyk het op die klomp Jode wat om hom was, maar hy doen dit nie. Ons lees in Lukas 7: 5 dat hierdie Romeinse offisier met sy eie fondse vir die Jode ’n plek van aanbidding gebou het.
Hy kon wreed en onmenslik teenoor sy siek Joodse dienaar opgetree het en eenvoudig net ’n ander dienaar gaan soek het om die siek een se plek in te neem. Maar hierdie Romeinse offisier doen dit nie, want hy gaan uit sy pad uit om Jesus se hulp te gaan soek vir die dienaar wat siek is.
Hy kon die Jode veroordeel en bespot het vir hul godsdienstige reëls en maatreëls. Maar hierdie offisier doen dit nie, want hy wat self ’n godsdienstige man is, weet hoe belangrik hierdie maatreëls vir die gelowige is.
Wanneer hy voor Jesus kom, maak hy die opmerking dat hy nie werd is dat Jesus in sy huis kan inkom nie. Want as Jesus, wat ’n Jood is, by hom wat ’n heiden is sou ingaan, dan word Jesus onrein verklaar volgens die Joodse reinheidmaatreëls. Hierdie Romeinse offisier hanteer die Jode en hul maatreëls met respek en die nodige verstand.
Hy kon staat gemaak het op blote geweld en gesag, dit is tog wat die Romeinse Ryk vir hom aanbied om te gebruik. Maar hierdie Romeinse offisier is self ’n godsdienstige man en hy besef dat die lyne tussen kultuur, klas en geloof oorskry kan word. Daarom gaan soek hy hulp by Jesus, die een waarvan hy al van gehoor het en wat wonders kan doen.
Jesus verbly Homself oor hierdie Romeinse offisier se geloof en maak sy dienaar by die huis gesond. God se genade is vir almal, vir almal soos die Romeinse offisier wat in Jesus Christus glo.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter