Jesaja 1: 2-20

God en sy volk Israel is hier in ’n hofgeding. Deur die profeet Jesaja word die volk aangekla van al hulle misdade teen God. Die hemel en aarde word opgeroep as getuies om te kom luister na die klag wat teen hulle gelê word. God het sy volk soos kinders grootgemaak maar hulle het teen Hom in opstand gekom. Hy het met hulle ’n verbond gesluit wat Hy nooit verbreek het nie. Hy was altyd getrou en sy beloftes aan hulle het waar geword. Die volk aanbid ander gode en pleeg sosiale ongeregtighede. Die Here los hulle nie net nie. Deur die profete roep Hy hulle op om hulle te bekeer.

Dan kom hulle met hul verdediging. Hulle hou alles voor wat hulle reg gedoen het. Hulle vra wat van hul getroue brandoffers? Wat van die feeste wat gereeld plaasvind? Hulle kom gereeld na die tempel toe om God te aanbid. Maar dit beïndruk God glad nie. Dit walg Hom want hulle doen al hierdie dinge, maar leef soos heidene. Hulle aanbid Hom maar hul hande is met bloed bevlek. Hy kla hulle aan van skyngodsdiens.

Dan gebeur die ondenkbare in hierdie hofgeding. Die Here sê Hy sal alles vergeet wat hulle gedoen het ten spyte van hul skuld as hulle net terugkeer na Hom toe. Al was hulle skarlakenrooi, Hy sal hulle so wit soos sneeu maak. Die rooi kleurstof van daardie tyd was kleurvas en het nie uitgewas nie. Tog sê Hy dat Hy hulle so wit soos sneeu sal maak. Hy verwag net dat hulle sy aanbod van genade sal aanneem.

Dit is wat die Here ook weer aan ons kom bewys het met die dood van sy Seun aan die kruishout. Hy skep ’n nuwe ooreenkoms met ons en belowe ook genade en verlossing aan ons deur geloof alleen.

Hy het vir ons die Pleitbesorger gestuur. Die Gees en die Seun tree op as ons voorspraak by die Vader. Kom ons gaan leef in hierdie verbondsverhouding.

Ds Manda le Roux, Weskus