Johannes 6: 41-71

Die Amiese gemeenskap is ’n groep mense wat die pertinente keuse maak om, ten spyte van die moderne wêreld wat rondom hulle gebeur, eerder met waardes en gebruike te leef wat vir die meeste mense vandag oudmodies sal voorkom. In Oktober 2006 is ’n Amiese gemeenskap egter tot sy fondamente geruk, nadat ’n melkman – wat bewapen was met ’n arsenaal van wapens – by ’n Amiese skool ingebars het en losgebrand het met skote. Op daardie dag is daar ses mense doodgeskiet en talle gewond.

Die Amiese gemeenskap het, in die lig van hul noue bande met mekaar, bymekaar gekom om te rou oor hul verlies. Hierdie gemeenskap het egter nog ’n meer merkwaardige ding gedoen: Hulle het dadelik vergewe… Die media het wyd oor hul vermoë om te vergewe berig. ’n Vermoë wat ons elkeen sal erken amper bo-menslik is.

Ek weet nie of ek dadelik tot vergifnis sou kon oorgaan as my kind of mense in so ’n skietvoorval gedood of gewond was nie. Dit wil vir my voorkom asof vergifnis, in die lig van dit wat by die skool gebeur het, net te hopeloos en te moeilik is. Hoe het die Amiese gemeenskap dit reggekry? Ek dink die Amiese gemeenskap het iets verstaan van die kruisweg waarop Jesus geloop het, want hulle het gesê: Ons geloof vra van ons om so op te tree soos Jesus onderweg na die kruis opgetree het.

Die kruisweg is beslis nie ’n maklike pad om te stap nie. Nie almal sien daarvoor kans om hulle kruise op te neem en vir Jesus te volg nie. Selfs sommige gelowiges in Johannes 6 het nie langer hiervoor kans gesien nie; en het eerder teruggekeer huis toe. Gaan lees gerus weer Johannes 6: 41-71.

Dit troos vir ons om tot die besef te kom: Natuurlik, is hierdie pad moeilik! Ons kan hierdie pad nie op ons eie, of met ons eie stoom, loop nie. Jesus Christus stap saam met ons op hierdie kruispad. Ons kan, daarom, hierdie pad met vrymoedigheid loop.

Ds Steve Oxton, Wapadrant