Matteus 4: 18-22; 28: 16-20

In Matteus is die laaste opdrag wat Jesus vir sy dissipels en vir ons gee ook die eerste en voortdurende taak waarmee Jesus besig was. Aan die begin van Jesus se optrede soos wat Matteus dit vertel, roep Jesus eerste vir Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes om sy volgelinge (dissipels) te wees. Ons lees dat hulle dit waarmee hulle besig was, net so los en Jesus volg.

Om alles te los en Jesus te volg… Dit klink na die ideale oplossing en uitkoms vir al ons probleme, veral as ’n mens nie gelukkig is by die werk, of in die situasie waarin jy jou bevind nie. Om alles te los. Nie meer die spanning te hê van vergaderings bywoon, konflik te hanteer in verhoudings en werksomstandighede nie. Dit klink lekker.

Maar ons weet dat die lewe nie so eenvoudig is nie. Daar is steeds nog rekeninge wat betaal moet word. Ons kan nie alles net so los nie.

Om Jesus te volg, is nie ’n wegvlug uit die probleme van ons lewe van elke dag nie. Is nie ’n kits oplossing om weg te kom van dit wat ongemak en ongeluk in ons lewe veroorsaak nie.

Hoe verstaan ons hierdie, optrede van Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Hulle het dadelik hulle nette gelos en Jesus gevolg. Dit beteken nie dat hulle nooit weer nodig gehad het om vis te gaan vang, om ’n inkomste te hê om van te lewe nie. Dit beteken dat hulle bereid is om in hulle daaglikse lewe Jesus na te volg, anders te dink oor hulself, hul eie waarde, hul plek in die samelewing. Hul plek voor God.

Om ’n dissipel van Jesus te wees beteken om in ons lewe van elke dag, wat dalk nie eers vir ons altyd lekker is nie, Jesus na te doen. Om in ons lewe van elke dag nie ander so sleg te behandel soos hulle ons behandel nie. Nie te vergeld en bitter te wees nie. Maar om Jesus se voorbeeld in ons eie lewe na te doen. Dit verander ons lewe.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten