Genesis 1: 1-31

In Genesis 1: 28 sê God vir die mens dat hulle die skepping moet onderwerp en daaroor heers. Die Hebreeuse woorde kan so vertaal word, en dit is hul betekenis. Maar hierdie bevel van God moet gelees word in lig van die voorafgaande. In Genesis 1: 27 word vertel dat die mens as beeld van God geskape is. So enige heersing wat die mens in die skepping uitvoer, sal hierdie beeldskap moet reflekteer. As ons onsself sien as bo of buite die skepping dan kan hierdie onderwerp en heers as ons wat oor die skepping moet heers of beheer oor die skepping uitvoer, gelees word anders verval die skepping in chaos. Die gevolg is dat ons onsself as die kroon van die skepping sien, as iets wat buite die natuurlike wêreld staan. Dit word soms in die alledaagse spreektaal gevind wanneer kinders vra hoe ek gemaak is. Asof die mens gemaak is buite die skepping en toe in die skepping ingegooi is. Asof ons iets vreemd is wat anders en uniek tenoor die res van die skepping is. Tog, voor die mens geskape was, het God reeds die skepping ’n stempel van goedkeuring gegee. Oor en oor word daar gesê dat as God klaar geskep het, oordeel God hierdie skeppingswerk as goed (Gen 1: 4, 10, 12, 18, 21, 25). Wanneer die mens egter geskape is en beveel word om as beeld van God oor die skepping te waak, dan is die oordeel nie net goed nie, maar baie goed (Gen 1: 31). Ons is nie net per ongeluk, of willekeurig deel van hierdie skepping nie. Ons is nie in die skepping ingegooi nie. Soos wat ’n appelboom appels dra, op dieselfde wyse kan ons sê die aarde dra mense. Ons groei uit die skepping uit en is deel van hierdie skepping van God. Wanneer daar so oor ons plek in God se skepping gedink word, sal enige onderwerping en heersing daaroor gaan om so te leef dat alle lewe kan floreer.

Dankie, Here, dat ons gewortel is in u skepping, en ons kan deel in u goeie skepping.

Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria