Handelinge 14: 21-23

’n Klein seuntjie roep benoud uit sy kamer: Mamma, ek is bang! Sy ma antwoord: Moenie bang wees nie, Jesus is by jou. Maar die seuntjie roep terug: Ek wil iemand hê met ’n regte vel aan. Hierdie kind se behoefte wys iets wat ons almal ken – dat ons in tye van nood iemand tasbaar, naby en teenwoordig soek.

Paulus se eerste sendingreis eindig nie met ’n triomf nie, maar in vervolging en teenstand vir die jong gemeentes in Listra, Ikonium en Antiogië. Hy besef hulle het geestelike ondersteuning nodig. In plaas van ’n brief of ’n gestuurde afgevaardigde, verander Paulus self sy planne om hulle persoonlik te besoek – hy kom na hulle toe met ’n regte vel aan.

Hy versterk hul geloof deur aanmoediging, gebed en praktiese leiding. Die gemeentes kies geloofsleiers (ouderlinge) en word toegewyd aan die Here. Hierdie konkrete optrede gee hulle nuwe moed om in moeilike tye staande te bly.

Die Here bring vir hulle nuwe perspektief: Die pad na die koninkryk gaan deur verdrukking. Hulle moet nie vasval in hul nood nie, maar bly glo en werk ál is die pad vol struikelblokke.

In ons eie tyd, beleef ons iets soortgelyks. Ons vra ook: Waarheen nou? Geloof voel soms soos ’n doodloopstraat. Maar God stuur steeds mense met ’n regte vel aan – gelowiges wat deur teenwoordigheid, bemoediging en hulp mekaar dra. Soms fisies, soms deur ’n oproep, ’n boodskap, ’n gebed.

God se plan gaan voort, al voel dit soms of alles stilgestaan het. Daarom roep Hy jou op om nie passief te wees nie, maar saam met Hom te beplan en jou plek vol te staan. Neem verantwoordelikheid, organiseer en bou – in jou lewe, in sy kerk en koninkryk.

Want wanneer jy ander dien en hoop bring, word jy self ook versterk.

Gebed

Here ons God, U is ons toevlug en krag in elke nood. Sterk ons geloof, verlig ons twyfel, en lei ons op u pad. Gee ons moed om u wil te doen en liefde om ander te dien. Amen.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte