Galasiërs 5: 13-26

Wanneer ons die Heilige Gees ontmoet en ontvang, beleef ons die werking van die Gees van God in ons lewens. Nou is dit tyd om die Gees van God te leer ken. Ons sal die Gees van God nooit ten volle kan ken nie, maar elke dag wat ons in verhouding met die Gees leef en werk, sal ons die Gees beter kan leer ken.

Deur die woord van God leer ons die Here ken. Ons leer ook deur die lees van die Woord van God die Gees van God ken. Wanneer ons die Woord van die Here lees, leer ons van die verskillende mense en hoe hulle die werking van die Gees beleef het. Ons leer deur die gebeure in die mense se lewens hoe God in hul lewens gewerk het deur sy Gees en deur hulle tot ander gewerk het. 

In Galasiërs leer ons die Gees van God ken deur die vrug van die Gees uit te leef. Wanneer die Gees van God in ons leef en werk sal die vrug van Hom wat in ons leef en werk duidelik sigbaar wees.

Hierdie vrug word dikwels verwoord as verskillende vrugte. Die gedagte vorm dat ons as gelowiges ’n keuse het rakende watter vrugte van die Gees ons wil uitleef en watter vrugte nie in ons lewens plek het nie.

Wanneer ons in diepte fokus op die woorde in Galasiërs sien ons dat een vrug beskryf word. Hierdie vrug kan vergelyk word met ’n nartjie. Een vrug met verskillende dele of dan ook skywe.

Ons leer die Gees van God ken deur te fokus op elkeen van die skywe van die vrug wat in Galasiërs aan ons genoem word naamlik: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.

Laat ons as gelowiges die volledige vrug van die Gees leer ken en uitleef in hierdie honger wêreld.

Gebed

Here help my om elke dag bietjie meer van u Gees te leer ken. Help my om nader aan U te leef. Gee dat ander die vrug van u Gees in my en deur my lewe kan sien. Amen.

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente