Openbaring 2: 12-17

Pergamum was ’n stad van mag en aanbidding waar die Romeinse keiser as god vereer is, met tempels vir Zeus, Dionysus en Asklepios wat die landskap oorheers het. In dié stad vol geestelike druk het ’n klein gemeente probeer getrou bly en Jesus Christus erken dit: Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is (Op 2: 13a) Hy prys hulle vir hul getrouheid, selfs toe Antipas vir sy geloof gesterf het. Maar Jesus spreek hulle ook aan: …Ek het ’n paar dinge teen julle (Op 2: 14a). Sommige het leerstellings geduld wat afgodery en seksuele losbandigheid geregverdig het. Wat begin het as verdraagsaamheid, het geëindig in kompromie.

Wanneer ’n gelowige eerlik kyk, sien ons dieselfde gevaar van kompromie in ons tyd. Dit begin selde met openlike rebellie, maar eerder met stil toegewings: ons lag in die werkplek vir grappe wat teenstrydig is met ons waardes, skuif geloof opsy in verhoudings om konflik te vermy, of bly stil op sosiale media oor wat reg is terwyl ons uitgesproke is oor wat gewild is.

Om kompromieë te herken, het ons die Gees se onderskeidingsvermoë nodig, soos Paulus bid: Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer (Fil 1: 9-11).

Ons vra onsself dalk nie of iets reg of verkeerd is nie, maar eerder of dit veilig, gemaklik of aanvaarbaar is – elke klein kompromis kan mettertyd ’n groot afstand tot gevolg hê. Christus se oproep is duidelik: Bekeer julle… (Op 2: 16a). Hy kom met die swaard van sy mond – sy Woord wat skerp onderskei tussen waarheid en verdraaiing, maar Hy belowe ook: verborge manna – sy sorg; ’n wit steentjie – sy aanvaarding; ’n nuwe naam – sy genade.

Vandag vra Christus:

Is daar plekke waar jy al soveel kompromieë aangegaan het, dat jou hart al stadig begin afkoel het?

Hoe lyk jou finansiële besluite, jou vriende, jou gewoontes?

Is jy nog aan Christus getrou, nie net in wat jy bely nie, maar ook in hoe jy leef?

Miskien is vandag die dag om op te hou met die kompromieë en eerder weer met duidelikheid en liefde in die waarheid vas te staan, geanker in die waarheid van Christus se Woord. Hy wat roep, is getrou – en Hy gee lewe vir dié wat volhard.

Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht