Psalm 51: 12-15

O my hart.

Wanneer ons onsself tot beweging wil laat bring, moet ons sorg dat ons harte in rat is.

Om in gebed tot God te nader, help ons om dit te doen.

En Psalm 51 is ’n psalm wat ons hiermee kan help.

Walter Brueggemann stel dat Psalm 51 ’n gebed van rou uitroep tot die Here is. Dit is nie vol vroom selfvertroue nie, maar ’n gebed vanuit ’n hart wat smag na herskepping. Een waar daar ruimte geskep word vir ’n nuwe hart, nuwe gees, nuwe begin.

Wanneer daar in hierdie psalm na God geroep word, dan is dit ’n uitroep van herskepping. ’n Radikale versoek wat vra dat die Here van voor af sal begin met hom. Selfhelp is nie meer moontlik nie. God se transformerende krag, transformerende Gees is nodig.

Dit is moontlik vir ons ook. Ons elkeen kan vandag hierdie gebed bid en vra vir ’n:

Rein hart: Nie net vergifnis van sonde nie, maar innerlike vernuwing. Die Heilige Gees skep nuut; was nie net skoon nie, maak ook oor.

Standvastige gees: In ‘n wêreld van onsekerheid en wisselvalligheid, kan ons ook smag en vra vir ’n gees wat vasstaan. Die Gees bevestig ons identiteit in Christus en hou ons staande wanneer alles anders wankel.

Die vreugde van verlossing: Só dikwels verloor ons die vreugde in ons geloof. Maar waar die Gees is, is daar lewe en lig en vreugde — nie oppervlakkige blydskap nie, maar die diepe vrede wat net Hy kan gee.

Gebed

Here, in hierdie Pinkstertyd vra ons nie net vir nuwe vuur nie, maar vir nuwe reinheid. Skep in ons ’n hart wat U soek, ’n gees wat U dien, en vreugde wat van U af kom. Laat u Heilige Gees ons vul, herstel en dra – vandag en elke dag. Amen.

Ds Leanie Lemmer, Bellville