Romeine 3: 21-24
Met Jesus Christus se menswording het Hy ’n nuwe werklikheid (Nie net moontlikheid!) aan ons kom openbaar. Die werklikheid dat verlossing slegs op een persoon berus. In hierdie geval is die persoon nie die individu wie die vermoë het om homself te onderskei en bo sy eie bestaan uit te lig nie. Nee, die persoon, is die Persoon van Jesus Christus. Hy het Homself verneder deur in die mens se omstandighede neer te daal. Hy het so diep neergedaal dat Hy die absolute verworpene geword het. In hierdie verworpenheid het hy ons wat die verwerping verdien se plek volwaardig ingeneem. In hierdie toestand het Hy elkeen wat in Hom glo uit hierdie verworpe toestand uit opgelig. In werklikheid het Hy ons so hoog verhef dat ons nou Koningskind is. Saam met Hom verhoog tot die spesiale plek waartoe God ons aanvanklik bestem het.
Niks hiervan gebeur deur ons eie krag of vermoë nie. Dit berus nie op enige prestasie van ons kant nie. Dit gebeur wanneer ’n nietige mens sy geloof in Jesus Christus stel en op Hom alleen vertrou om deur Hom gered te word.
Dit verlos ons van die idee dat daar iets spesiaal aan ons is wat ons in ’n besondere gunstige verhouding met God bring. Dit is nie ons insig, wysheid, afkoms, geslag, vermoë, oriëntasie of selfs intensie wat ons naby God bring en ons van ons sonde verlos nie. Dit is in Jesus Christus alleen gewaarborg.
Hierdie in Christus waarvan Johannes in in sy evangelie praat, wys daarop dat ons deur geloof in Christus op Hom, die wingerdstok, ingeënt word. Dit is die werk van die Groot Boer, wat deur sy genade en voorsienigheid ingryp en ons verlos.
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Ef 2: 8).
Gebed
Dankie Hemelse Vader dat u ingryping my ook insluit.
Amen.
Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb