Jeremia 1: 1-19
Ons het dikwels die wanopvatting dat net sekere mense geroep is tot sekere werke. As ons egter vanuit ’n geloofsperspektief na roeping kyk, sien ons die ganse Bybel vertel ’n roepingsverhaal. God is die Een wat roep – verskillende mense op verskillende tye in verskillende omstandighede. Alle gelowiges en die kerk in geheel is daarom geroepenes van God.
Jeremia 1 vertel die roepingsverhaal van die profeet Jeremia. Jeremia kom uit ’n priesterlike familie, maar dan roep die Here hom op ’n jong ouderdom om profeet te word. Die boodskap wat Jeremia in sy tyd aan die mense moes bring, was ongemaklik en ongewild. Hiervoor is hy deur sy eie mense vervolg en selfs in ’n put gegooi. Hoewel Jeremia nie by sy roeping geweet wat op hom wag nie, het hy homself op grond van God se belofte van teenwoordigheid en redding oopgestel vir God, na sy roepstem geluister en Hom gevolg. So gebruik die Here vir Jeremia as jong, onervare profeet in die groter prent van God se Verlossing.
Soos wat Jeremia by sy roeping uitgelewer was aan onsekerhede en die ondeursigtigheid van die lewe, voel ons ook by tye so oor ons roeping. In die wêreld waarin ons leef, is die boodskap van die evangelie steeds ongemaklik en ongewild. Maar steeds roep die Here ons om sy boodskap van verlossing, genesing, hoop en lewe aan mense te bring.
Maar om dit te kan doen, moet ons ook na God se roepstem luister en ons oopstel vir God se woord. Te midde van die moontlikheid van lyding, swaarkry en opoffering, kan ons dit in vaste vertroue met God waag, want sy belofte van redding en teenwoordigheid aan Jeremia geld ook vir ons. Mag ons roepingsbede die woorde van Gesang 527 wees:
Die werk behoort aan U, ons Heer, die werk waarin ons staan.
Gee daarom, Heer, dat hierdie werk nooit sal ten gronde gaan.
Deur lyding heen het U, ons Hoof, die vreugde ingegaan.
Laat ons ook met volharding, Heer, ons pad met vreugde gaan.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom