Efesiërs 5: 21 tot 6: 9

Ons leef in ’n wêreld waar almal smag na ’n bietjie mag. Diegene wat sterk, ryk en een of ander magsposisie beklee, word bewonder. Ongelukkig lei hierdie mag dikwels tot een of ander vorm van magsmisbruik. In so ’n wêreld, waar mag alles is, word mag nie gesien as ’n diens aan ander nie, maar eerder as ’n staf om oor ander te heers.

Paulus in sy woorde aan die gemeente in Efese, skets vir ons ’n ander prentjie van mag. Hy vertel dat in die gemeenskap van gelowiges nie alles oor magsposisies gaan nie. Paulus sê dat ’n gemeenskap in Christus eerder gefokus moet wees op onderdanigheid.

Paulus se hele boodskap word in Efesiërs 5: 21 vasgevang: Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir Christus.

Alle verhoudings wat volg, die verhouding tussen man en vrou, die verhouding tussen ouers en kinders en verhoudings tussen slawe en eienaars, word voorbeelde hiervan. Maar kyk mooi: Paulus leer glad nie dat mans beter is of hoër gesag het as vrouens nie. Hy leer nie dat eienaars meer werd is as slawe nie. Inteendeel: hy verduidelik dat elke rol gekoppel kan word aan diens, respek, en liefde, asook aan Christus as die hoogste gesag.

In ’n gemeenskap van gelowiges roem ons nie op mag nie, want ons almal, of ons nou lei of volg, word geroep om onsself aan mekaar te onderwerp. Ons doen dit nie omdat iemand dit verdien nie, maar omdat ons Christus eerbiedig en Hom wil volg.

Ware gemeenskap groei nie waar mense hulself probeer verhoog en mag najaag en misbruik nie, maar waar ons mekaar dien, net soos Christus gedien het, waar ons mekaar liefhet soos Christus ons eerste liefgehad het. Kom ons dien mekaar uit liefde vir Christus.

Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit