Haggai 1: 12-15

Serubbabel (gesaai in Babilon) is iemand met status. Hy is ’n nakomeling van koning Dawid en is as administrateur aangestel, ’n trappie laer as die Satraap die goewerneur van ’n provinsie.

Eie aan die Persiese amptenare beskik hy ook oor buitengewone vermoëns om te organiseer en te kommunikeer. Haggai rig ook aan Serubbabel God se oproep om te herbou, want soos met die meerderheid van die volk het die instandhouding van die eie voorkeur geniet.

Serubbabel word by die naam genoem. Sy naam is opgeteken in die annale as deel van diegene wat herbou het.

Soms is kritiek teen die kerk dat die administratiewe masjinerie onpersoonlik is en mense net ’n inskrywing in ’n doop-, lidmaat of huweliksregister is. Ander kommentaar is dat die kerk iets is wat tot die verlede behoort en net uitwendig. Grondliggend hieraan is die opvatting dat die uiterlike uitgedien of ongeestelik is.

Die oproep aan Serubbabel vra na die betekenis van die bouwerk: Hier is jou plek. Hier is ’n instelling wat oor jou besorg is, wat belangstel en dit kan ook gestalte vind in ’n attestaat, ’n doopseël of kaartjie; ’n afkondiging in die erediens of die gemeente se WhatsApp-groepie. Die kerk bied nie net plek aan ’n mens nie, maar spoor ook aan om dit wat goed en reg is te doen.

Serubbabel se organisering van God se volk is geestelik noodsaaklik en Haggai verseker hom dat die Here onderskraag en begeester.

Die woord van God bemoedig en spoor aan om met dade en woorde mee te werk en bied aan elke mens ’n plek en tyd om saam te arbei in sy koninkryk.

Soveel te meer kan die kerk na Christus Jesus kyk en sien hoe Hy mens word in die geskiedenis, in gemeenskap met mense. Hy is die enigste ware heil en deur Hom ontvang die kerk die roeping om deur die Bybel en belydenis, die sakramente en die ampte, selfs die geskiedenis van die kerk en tradisie God se woord te hoor en daardeur begeester word.

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege