Lukas 24: 36-49

Om te praat is somtyds maklik maar somtyds moeiliker. Ons gesels gemaklik wanneer ons tussen vriende is, maar moeiliker tussen vreemdelinge. Ons gesels gemaklik oor bekende sake maar moeiliker wanneer ons nie baie kennis van iets het nie. Ons almal weet hoe moeilik dit is om in ’n ander taal as jou moedertaal te kommunikeer.

Jesus se opstanding het die mag en krag van die dood oorwin. Met die opstanding het Christus die verloop van die wêreld se geskiedenis verander. Wanneer die dissipels begin om hieroor te praat, verander die verloop van die wêreld. Ons lees in die gedeelte hoedat Jesus die verstand van die dissipels geopen het om die skrifte te verstaan sodat hulle die genade van die opstanding kon gaan verkondig.

Deur insig in die Skrif en dit wat oor Christus geskryf is, kon die dissipels nuut begin praat. Daar is nuwe inhoud aan hul gesprekke gegee. Hulle het begin om van die wonders van Christus te getuig en so het die boodskap van Christus oor die wêreld heen versprei. Nie net het die dissipels gepraat nie, maar hulle het kragdadig getuig van dit wat Christus gedoen het. Hulle gesprekke is met nuwe woorde gevul wat tot gevolg gehad dat mense se lewens verander het.

Waaroor praat ons? Is ons gesprekke beperk tot sport en politiek van die dag? Praat ons maar net oor die alledaagse of kom daar ook nuwe woorde en berigte oor ons lippe wat ’n getuienis is van Jesus Christus se opstanding. Ons moet getuig van die Opgestane Christus. Ons sien raak wat Hy gedoen het en ons moet daarvan getuig sodat meer kan hoor en glo. Dit is alleen wanneer ons meer en meer van Christus getuig dat die wêreld ’n beter plek word.

Die geleentheid is hier om die wêreld te verander, maar die verandering sal slegs plaasvind indien ons nuut en anders begin praat. Mag ons woorde getuig van Christus se genade en liefde. Woorde van troos en hoop.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas