Handelinge 2: 1-13

Veertig dae na die kruisiging vind Jesus se hemelvaart plaas. Vyftig dae ná die viering van Paasfees word die Pinksterfees gevier. Tien dae en die wag is verby …

Daar is min dinge wat soveel opgewondenheid veroorsaak soos om die slaap af te tel en te deel in die kinderlike opgewondenheid wat aankondig dat daar nog net twee en dan een slapie oor is voor ’n verjaarsdag. Daar is ook die skoenlappers-in-die-maag opgewondenheid in afwagting om ’n geliefde weer te sien na ’n lang tydperk en die vooruitsigte om hom of haar net weer te kan vashou en te kan opvang in ure se gesprekke wat verdwaal tussen gister en vandag.

10,9,8,7,6 … word die sekondes afgetel om die volgende groot oomblik in te lei. Die uitstorting van die Heilige Gees het egter nie só plaasgevind nie. In Handelinge 2: 2 lees ons dat hierdie gebeurtenis skielik plaasgevind het met die geluid uit die hemel soos dié van ’n geweldige stormwind en daarna is almal met die Heilige Gees vervul. Die daaropvolgende gebeure word gekenmerk deur mense wat verras en verbaas staan oor die gebeure en daar word selfs gevra oor wat dit kan beteken?

Een deel van die antwoord op hierdie vraag word reeds gegee wanneer daar getuig word dat mense in hul eie taal praat oor die groot dinge wat God gedoen het. God se grootheid, sy goedheid en sy genade word in die chaos van die wêreld egter nie deur almal erken of aanvaar nie. Net soos met die uitstorting van die Heilige Gees word ons vandag ook nog begroet met afbrekende opmerkings en gespot wanneer ons getuig oor ons geloof in God. Die konfronterende en aanvallende aard hiervan affekteer ons met tye so dat ons nie meer kans sien om openlik ons geloof in God te bely nie.

Petrus het egter saam met die ander apostels opgestaan en onder leiding van die Heilige Gees het hy die mense begin toespreek. Wat sou dit beteken? Is daar hoegenaamd nog enige betekenis hieraan in ’n wêreld wat eerder kies om te verval in chaos en verwarring en wat nie meer onderskeid kan of wil tref tussen valshede en waarhede en tussen kunsmatigheid en Ewigheidswaarde nie.

Wat vra dit van jou en wat beteken dit vir jóú?

Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal