Psalm 46: 11
In die wêreld waarin ons lewe is stilte ’n seldsame geskenk, maar tog is stilte nodig. Die Bybel nooi ons uit om stilte te omarm as ’n manier om nader aan God te kom en die Here se stem te hoor. In Psalm 46: 11a lees ons: Bedaar en erken dat Ek God is. Hierdie woorde nooi ons na ’n plek van rus waar ons die grootheid asook die teenwoordigheid van God kan ervaar.
Stilte is nie net die afwesigheid van klank nie, maar ’n diep geestelike ingesteldheid. Dit vra van ons om die geraas van ons gedagtes en ons bekommernisse stil te maak en ons harte oop te maak vir die vrede van die Here.
Daar is krag in stil word. Wanneer ons stil word, maak ons ruimte vir refleksie, gebed en die werking van die Heilige Gees. Dit is in die oomblikke van stilte wat ons besef dat ons nie alleen is nie en dat God ons dra self in moeilike tye.
Neem vandag ’n oomblik van stilte. Sit by die Here en vra die Here om jou hart te vul met vrede en met insig. Al is stilte soms ongemaklik, is dit so belangrik. Laat stilte jou anker wees te midde van die storm.
Mag jy vandag bedaar en in stilte aan die voete van die Here gaan sit.
Lees gerus: Gesang 519: Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou ’n toevlug wees.
Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof.
Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana