Matteus 5: 1-12
Ons leer vandag verder uit die saligsprekinge in Jesus se bergrede. Ons kyk na ’n praktiese probleem in ons eie lewens, hoekom ons soms sukkel om mekaar te vind en dan leer ons by Jesus hoe ons eerder moet optree.
In vers 7 lees ons dat Jesus sê dat hulle wat barmhartig is barmhartigheid sal ontvang. Waar ek vir ’n ander genade het, daar maak ek myself ook oop vir genade en barmhartigheid. Gestel ek en my suster gesels oor iets. Sy was nog altyd ’n hoë presteerder en nou vertel sy my van iets wat sy onlangs reggekry het. Dis ’n suksesverhaal! Sy deel haar vreugde met my, maar ek val haar heeltyd in die rede. Ek wys haar op die foute wat sy gemaak het en ek gee raad oor hoe sy dalk nog beter kon doen. Dadelik vertel ek ’n storie van hoe ek nog ’n gróter prestasie bereik het. Dit raak soos ’n kompetisie! Eintlik is ek besig om my suster net so bietjie terug te bring na haar plek toe: Jy het dalk goed gedoen, maar moet net nie grootkop kry nie, hoor! As ek eerlik wil wees, dan is my suster se sukses eintlik ’n bedreiging vir my. Ek is so bang mense sien haar raak en nie vir my nie. Ek is so bang hulle vergeet van my of dink dat ek nie belangrik is nie. Daarom moet ek heeltyd tussen-in iets sê, heeltyd kritiseer en net so bietjie my hou inkry.
Nou begin ons om vir Jesus te hoor: Iemand wat altyd afkraak en altyd die belangrikste wil wees; so iemand word uitgestoot, want my onsekerheid doof jou liggie uit. Maar as ek die een is wat raaksien, as ek opreg belangstel en na jou luister, dan sal mense vir my plek maak in hul lewens.
Gebed
Jesus, help my om nie ’n bedreiging in mense te sien nie. Leer my weer om barmhartig en vrygewig te wees, ook met liefde en menswaardigheid. Want dan maak ek myself oop om dit ook te ontvang. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust