Waar in die huis sal jy na ’n mop begin soek? Die meeste van ons bêre dit in die kombuis- of gangkas. Maar ek kan myself net indink hoe deurmekaar dr Hein Delport se ma moes gewees het toe sy dit om elke hoek en draai gesoek het en dit nêrens kon vind nie. Ek kan net wonder watter gedagtes by haar opgekom het toe sy sien die mop het ’n nuwe rol aangeneem? Die mop het nou klasse en eredienste bygewoon! Dr Delport se jonger suster het haar droom om ’n onderwyseres te word, uitgeleef deur vir die mop klas aan te bied en daarna moes die mop sommer ook na sy prediking luister.

Dit is hierdie roeping wat gekoester is deur mentors soos ds Eksteen Botes, dr André Ungerer en prof Theuns Dreyer. Ds Botes het die gemeentepredikant in dr Delport aangemoedig en hom help vorm. As ’n finalejaarkatkisant het ds Botes met die aansoekvorm in sy hand vir dr Delport gevra: Wil jy nog Teologie studeer? Sy ander mentors het hom gevorm en aangemoedig vir die akademie. Dit blyk dat beide hierdie rigtings vrug dra in sy  lewe. In 1997 het hy aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin studeer. Daarna dien hy as predikant by Gemeentes Magaliesburg, Krugersdorp, Krugersdorp-Wes en uiteindelik vestig hy homself by Gemeente Swartkop waar hy vir die afgelope agt jaar werksaam is.

Dr Ungerer het hom in 2021 gevra om deel van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) te vorm en by te dra tot die veld van homiletiek – juis oor sy proefskrif wat die werk van prof Theuns Dreyer ondersoek het en die nuwe verwikkelinge in die veld. Einde 2025 aanvaar hy die pos as hoof van die HTK ná dr Ungerer se aftrede. Hy erken dat hierdie mylpaal slegs moontlik is danksy die leiding wat hy van sy mentors ontvang het. Tans kyk hy terug op meer as ‘n kwartaal se diens sedert sy aanstelling as hoof. Hy noem dat hy skrikkerig opgewonde was oor die verandering. In hierdie tydperk het hy verhoudings, netwerke en vennootskappe op sy eie unieke manier versterk en uitgebou. Hy dra prof Wim Dreyer en daarna dr André Ungerer se visie oor die uitbreiding van dosentegetalle by die HTK voort. Hy vertel dat, alhoewel hy steeds op sy senuwees is, die span waarmee hy omring is en die ryk tradisie waarin hy homself bevind hom ondersteun en rigting gee.

Maar daar is ’n ondersteuningstelsel wat dr Delport in al hierdie verskeie rolle ondersteun en ook aanmoedig. Dit is niemand anders as sy dogter nie. Volgens hom is sy dogter sy lewe. Hy verduidelik voorts dat sy werk as gemeentepredikant soos ’n komma is en nie ’n punt nie.

Die Kerk sien uit na die ontwikkeling en visie wat dr Delport na die HTK en na UP bring ná hierdie komma. Die Kerk en die studente vra saam deur hierdie leerproses opnuut vir dr Delport: Wil jy nog Teologie studeer?

(Hooffoto: Drr André Ungerer en Hein Delport)