Doeke het in die Nuwe Testamentiese tyd ’n belangrike rol in die normale gang van die lewe gespeel. Met die geboorte van Jesus lees ons dat Hy in doeke toegedraai is. Dit was ’n algemene gebruik in daardie dae om pasgebore babas te was en met sout in te smeer – om te reinig en om die vel te versterk. Daarna is die baba in ’n vierkantige doek toegedraai. Die doek is byna soos ’n koevert toegevou sodat die baba binne-in die doek die vorm van ’n kokon aangeneem het. Die gewrigte is voorts met ander doeke vasgebind, want daar is vas geglo dat dit die spiere sou versterk. Jesus se fisiese lewe begin dus nie anders as ander babas s’n nie – toegedraai in doeke.

Die betekenis wat ons daaraan kan koppel, is dat Hy volledig mens was. Hy was niks anders as ’n gewone baba van sy tyd nie. Hy is toegedraai om warmte, geborgenheid en sekuriteit te ervaar. Die babas is voorts gereeld met olie ingesmeer om die vel te beskerm.

Doeke en olie het onder andere ook by die afsterwe van ’n mens ’n belangrike rol gespeel. Ons vind dit ook in die Paasverhaal. Daar was doeke in Jesus se leë graf en die vroue het na die graf gegaan met olie.

’n Mens kan jou die gemoedstoestand van die vroue goed indink. Hulle sou hartseer en verlore gevoel het ná Jesus se afsterwe. Tog, te midde van al dié emosie, was daar ’n praktiese saak wat afgehandel moes word. Hulle het olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te gaan balsem, aldus Markus 16: 1. In die graf waarheen hulle op pad was, het hulle ’n liggaam verwag wat volgens die gebruik van hul tyd behandel en versorg moes word.

Hou in gedagte dat die Joodse leiers wat Jesus aangekla het, bang was dat sy liggaam in die nag uit die graf verwyder sou word en dat die dissipels dan aanspraak sou kon maak op die opstanding wat Hyself voorspel het. Daarom het die Joodse leiers gelas dat die graf verseël moes word en dat daar wagte geplaas sou word om te verseker dat niemand die liggaam in die nag kon wegneem nie.

Die vroue wat aankope gedoen het, voorrade bymekaarmaak het en wat uit hulle pad gegaan het om die liggaam te versorg soos wat tipies van hulle verwag sou word, het duidelik die liggaam op geen ander plek as in die graf verwag nie. Hulle, wat in die kern van die dissipelkring beweeg het en wat elke fyn besonderheid van die twaalf se bewegings en planne geken het, het ’n liggaam wat versorg moes word in die graf gaan soek. Hulle vind egter ’n leë graf. Later daag enkele lede van die twaalf daar op. Al wat hulle daar vind is ’n klomp doeke wat eenkant lê.

Die doeke word in hierdie geval ’n simbool van bomenslikheid. Anders as die babadoeke wat Jesus se volledige menslikheid uitbeeld, is hierdie doeke ’n teken van bonatuurlike gebeure. Die eerste perikoop van Johannes 20 stel dit duidelik dat al die dissipels wat hiermee gekonfronteer is, nie net die vroue nie, verward was. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie (Joh 20: 9, AFR83)

Verwagting: ’n liggaam, aan die een kant. Die werklikheid: net doeke, aan die ander kant.

Die tweede doek wat ’n rol in hierdie Paasverhaal speel, is die doek wat om Jesus se kop was. Hierdie doek het aldus Johannes 20: 7 (AFR83) eenkant afsonderlik opgerol gelê. Die gebruik in daardie dae was dat ’n gasheer tydens ete die doek wat gebruik is om sy hande mee skoon te vee, sou opfrommel en eenkant gooi as ’n aanduiding dat die ete afgehandel is. Die gasheer sou dikwels opstaan en die tafel verlaat en die opgefrommelde doek sou dan ’n teken wees dat die gaste ook maar die tafel kon verlaat. Die slawe sou dan die tafel skoonmaak en afdek. Die ete of fees was dan afgehandel.

Indien die gasheer egter sou opstaan en die doek netjies gevou of opgerol het, was dit ’n aanduiding dat die ete nog nie afgehandel is nie. Die gasheer sou dalk die tafel verlaat om ander sake af te handel. Dit was dan nie vir die gaste het nodig om die tafel te verlaat nie. Die fees sou later voortgaan. Die gasheer sou weer terug kom.

Die opgerolde doek waarvan ons in Johannes 20 lees, word ’n simbool, ’n kragtige boodskap wat Jesus vir sy volgelinge laat: Dit is nie afgehandel nie. Die boodskap van lig en hoop, die boodskap van bevryding leef! Die Gasheer leef en gaan steeds lewens aanraak en vernuwe.

In die lewe van ons Here Jesus het doeke aan die begin én tot aan die einde van sy lewe ’n prominente rol gespeel. Hierdie doeke herinner ons aan Hom wat volledig mens was en terselfdertyd bo en buite die grense van die normale besig was.

Die merkwaardige is dat ons in eenvoudige, alledaagse gebruike diepte en betekenis vind wat ons, soos die dissipels, stom laat. Kom ons omarm hierdie kosbare simboliek met hul kragtige boodskappe, en maak die betekenis daarvan ons eie. 

(Met erkenning aan verskeie teoloë se navorsing oor die onderskeie afdelings van die tema.)