Wanneer jy nuwe mense ontmoet, is een van die eerste vrae gewoonlik: Wat doen jy? Dan antwoord ek gewoonlik: Ek is ’n predikant en ’n juffrou. Die ander persoon is gewoonlik so beïndruk en wonder hoe ek dit als gedoen kry. En om hulle dan verder te verwar, las ek sommer aan: Ja, ek is getroud en gee ekstra klas ook. (So asof om getroud te wees ’n werk is – of is dit nie dalk nie?)
Kyk, dan is die persoon omtrent in verwondering – hoe doen hierdie vrou alles? Alles klink so indrukwekkend, maar hier agter die gordyn en vele maskers voel dit minder indrukwekkend. Hier agter die gordyn maal die gedagtes en raak die glimlag al flouer.
Ja, ek is ’n predikant, maar ek is ’n dominee sonder ’n gemeente. Ek preek net wanneer ek ’n geleentheid kry. Dit is natuurlik vir my ’n groot voorreg om die Woord van God te verkondig, maar ek smag na ’n geestelike tuiste waar ek self ook betrokke kan wees. Ja, ek is ’n onderwyseres, maar ek is tydelik en het nie my eie klaskamer nie. Ek swerf rond op soek na oop klaskamers. Dit vat ’n goeie vyf tot tien minute om alles op te pak in die een klas en weer reg te kry in die volgende klas. Dan besef ek natuurlik ek het iets vergeet wat ek nodig het. Dit is natuurlik vir my lekker om die kinders wiskunde te leer, een van my groot passies in die lewe, maar ek sou graag my klaskamer wou mooi maak met notas en ekstra oefeninge gereed hê in verskillende rakkies.
Elkeen van ons dra maskers en kruip agter gordyne weg. Ons probeer ander beïndruk, bewustelik of sonder dat ons dit besef. Ons vergelyk ons so vinnig en maklik en probeer byhou by norme en standaarde wat partykeer so ver buite ons bereik voel. Maar ons gee ons beste, ons daag op met ’n glimlag en lag en gesels saam. Kom by die huis en doen alles wat gedoen moet word (jy weet hoe baie daar is om te doen), maar wanneer dit donker word en jy alleen is en met jou eie gedagtes gekonfronteer word, word die glimlag al flouer en jou oë al dowwer.
Hoe hou ek by? En waar pas ek nou eintlik in? Is ek maar net wat ander mense my nodig het om te wees? Moet ek maar net al die maskers en balle in die lug hou?
Daar agter die gordyne, wanneer jy ophou vergelyk het en gewens het dinge was anders, draai jy dalk ook na die Bybel. Dan spring daardie onnodige en intimiderende vrou van Spreuke 31 uit en voel jy weer van voor af sleg oor jou omstandighede, want regtig, wie kan met haar kompeteer?! Maar moenie jou Bybel toemaak nie. Moenie ophou lees en ophou stil word by God nie. Hoor wat God eintlik vir jou wil fluister daar agter jou gordyne waar jy wegkruip.
Liewe vriendin, jy hoef nie te kompeteer of sleg te voel nie. Spreuke 31 se vrou is nie een vrou met wie jy jou moet vergelyk om na te streef nie. Sy is nie daardie supervrou wat almal moet probeer wees nie – dit kan nie, jy sal dit nie kan uithou nie. Daar gaan dae kom wanneer jy weer agter jou gordyne wegkruip met geen krag of lus om aan te gaan nie. Want jy kan net nie meer nie. Weet jy, dit is okay. Jy is nie alleen nie.
In hierdie hoofstuk word verskillende karaktereienskappe genoem, nie net een vrou se bonatuurlike eienskappe gelys nie. En soos ek maar weer moed bymekaar geskraap het om weer die gedeelte te lees, vang vers 30 my oog: Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word. Of soos ons in die 2020-vertaling lees: Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ’n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word.
Wat is werklik belangrik? Wat is die norm en standaard waarna ek en jy dan moet streef? Wat is dit wat God wil hê jy moet hoor? Wie ontsag het vir die Here, word geprys. Ek en jy moet minder maskers vashou en agter gordyne skuil en ons vergelyk met almal anders rondom ons (ek weet dit gebeur vinniger en makliker as wat jy graag wil erken). Ons moet eerder ons fokus daarop plaas om God te dien en ’n instrument vir God te wees. Want wanneer jy nie jou maskers met ander se maskers vergelyk nie – want ja, jy is reg, almal van ons het daardie hoop maskers wat ons saamdra – en jou fokus daarop is om God te dien hoe en waar jy kan, sal jy agterkom dat God jou reeds gebruik. Daar te midde van al jou chaos. Daar waar jy dalk net die negatiewe en die tekortkominge raaksien. Daar waar jy dink jy beteken niks vir niemand – daar sien God jou raak. Daar wil God jou gebruik om ander ook agter hul maskers en gordyne te gaan haal en by hulle te sit. Net soos wat jy is en lyk, sien God sy geliefde kind.
Ek is dalk ’n dominee sonder ’n gemeente en ’n nomadiese juffrou sonder my eie klaskamer, maar dit is nie wie of wat ek is nie. Ek wil ’n vrou na God se hart wees, wat so lewe dat ander God deur my chaos en tekortkominge sal sien en ervaar. Ek wil ’n instrument vir God wees, al speel ek soms baie vals note en kom dit krom en skeef uit. Ek wil iemand wees wat geprys moet word. Nie as gevolg van my sukses, soet en gemanierde kinders, bankbalans, status of hoeveel ek vir die skool of kerk of gemeenskap doen nie, maar vir hoe ek, te midde van alles, ontsag het vir die Here. Hoe ek daagliks in verwondering staan oor hoe God my wil gebruik op plekke waar ek gedink het ek skiet ver te kort.
Ja, vir die wêreld is ek ’n dominee sonder ’n gemeente, maar ek is al tuis op ’n hele paar gemeentes se kansels waar ek die wonder geniet om die evangelie te verkondig. Ja, ek is ’n juffrou sonder ’n klas, maar ek het klaskamers vol kinders in wie se lewe ek ’n positiewe verskil kan maak. Ek het waarde.
Liewe vriendin – ja, jy wat agter die maskers en gordyne wegkruip of dalk nog nie nou kan erken dat jy self maskers en gordyne het nie – jy is God se geliefde kind en jy is goed genoeg. Jy verdien om geprys te word.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)