Markus 14: 43-52; 16: 1-8

Hoe word ’n gelowige missionaal? en Hoe word die kerk missionaal? Michael Gorman gee in sy boek Becoming the Gospel ’n praktiese antwoord op dié vraag. Sy antwoord, kortweg opgesom, is die volgende: ’n Gemeente is missionaal wanneer dit deelneem aan die lewe en karakter van ’n sturende God wat Hom geopenbaar het in die gekruisigde en opgestane Christus en waar hierdie deelname tot diep transformasie van die gelowige en gemeente lei. Dit wil sê missionale gelowiges en ’n missionale gemeente vergestalt die DNS van die drie-enige God.

Wanneer jy met die werklikheid van Jesus se bestaan gekonfronteer word het jy ’n keuse: veg of vlug. In Markus 14: 43-52 lees ons van Jesus se gevangeneming. Jesus se dissipels vlug; ons lees hulle het letterlik weggehardloop. Daar was ook ’n sekere jongman met net ’n doek om sy lyf wat selfs die doek gelos en kaal weggehardloop het. Gelowig- en kerkwees in die stormtye vra ’n keuse: veg of vlug? Dit is ironies dat dit juis die dissipels, die mense van Jesus se binnekring, was wat gevlug het.

In Markus 16 leer ons die ander kant van die keuse ken. Die storm is op sy ergste, Jesus is dood. Hy lê in die graf. Al die drome van sy volgelinge lê aan skerwe. Dit is net die vroue, Maria Magdalena, Maria en Salome wat nie vlug nie. Hulle ontdek dat hy opgestaan het. Ons lees hulle het na die jongman in die graf geluister en daarna van skrik ook weggehardloop. Hulle hardloop weg van die graf om vir Jesus se dissipels te gaan vertel hy het opgestaan. Dit is missionaal!

Gelowiges en gemeentes is in murg en gebeente missionaal wanneer hulle hardloop om aan die wêreld van die opgestane Heer te gaan vertel. Hierdie vertel is in wese nie net woorde nie, maar veral dade. Uitreikaksies is missionêr, maar as die evangelie jou hart verander, verander jou roeping – en as jou roeping verander, leef jy missionaal.

Gaan jy veg of vlug? En net so belangrik: Gaan jou gemeente veg of vlug?

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding