Josua 1: 9
In ’n wêreld wat soms onvoorspelbaar en uitdagend is, is daar ’n waarheid waaraan elke gelowige kan vasgryp: Die Here is met jou. Hierdie belofte word keer op keer in die Bybel herhaal, en bring troos, krag en hoop. In Josua 1: 9 staan daar: Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
Wanneer ons hierdie belofte omhels, dan besef ons dat God se teenwoordigheid ons nie net in tye van vreugde vergesel nie, maar ook in dieptes van onsekerheid. Die Here wandel saam met ons, rig ons en dra ons, self wanneer ons pad donker voel. Die Here se liefde en teenwoordigheid is nie afhanklik van ons gevoelens of omstandighede nie, want die Here is Immanuel God met ons.
Die Here se nabyheid beteken dat ons nooit alleen hoef te wees nie. Psalm 23 beeld God uit as ’n Herder wat ons lei deur groen weivelde, en by ons is, self in die skaduwee van die dood. Hierdie verse dra die versekering dat ons veilig is in die Here se hande.
Wanneer die dag se uitdagings oorweldigend voel, herinner jouself aan hierdie waarheid: Die Here is met jou. Die Here ken jou vrese, jou stryd en jou drome. Maak jou hart stil en laat die Here se vrede jou vul. Vertrou dat die Here jou krag gee vir elke stap en jou nooit sal verlaat nie.
Gaan lees gerus: Gesang 518: Voel jy soms of die Here te vér is.
Voel jy soms of die Here te vér is?
Twyfel jy soms aan God se bestaan?
Jy moet glo dat die Heer me jou saamloop,
dat sy Gees oral met jou sal gaan.
Jesus sê Hy kom weer,
Hy kom uit die hemel neer,
met basuin en geskal
kom Hy al sy mense haal.
Deur sy Woord weet ons Jesus gaan t’rugkeer
na ons wêreld met alles daarin.
Wat gebreek is, sal Jesus kom heelmaak;
Deur sy Woord weet ons alles maak sin.
Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana